Daar is ’n boekie in my laai waarin ek die adresse neergeskryf het waar ek al gewoon het. Daar is onder meer dié van my ouerhuis op die Vrystaatse platteland, ’n huis in ’n wêreldstad en ’n straatnommer in ’n vaal woestyn.

By elk van daardie blyplekke is daar belewenisse wat helder soos ’n geliefde fliek voor my afspeel wanneer ek daaraan terugdink.

Daar was die een Sondagmiddag in Londen toe ek ’n uiltjie wou knip op die stapelbed in die piepklein kamertjie wat ek met ’n vriendin gedeel het. Net toe ek wou insluimer, klink daar ewe skielik musiek op uit die radio langs my.

Ek het effens gedisoriënteerd orent gekom. Waar kom dié deuntjie vandaan? Boonop uit ’n radio wat nie aangeskakel is nie?

Toe besef ek die vrolike dansklanke kom van buite. Van ’n park agter ons huis. ’n Orkes was besig om hul vere reg te skud vir ’n Sondagmiddagkonsert.

Ek kon my geluk nie glo nie! Daardie middag is ek vermaak deur die klanke van ’n rêrige orkes, sommer daar in my huis.

 

Ek onthou die lugballonne. Ons was op pad skool toe, en die helder gestreepte wonderwerke het in die koue winterlug bokant ons Oos-Vrystaatse dorp gesweef.

Wanneer ons verby die vliegveld ry, en sien hoe die ballonne begin boepens staan, het ons opgewondenheid geen perke geken nie. Daardie magic as een pas opgestyg het en steeds laag genoeg was dat ons dit in sy volle, grootse maje­s­teit kon aanskou …

Dit was ’n jaarlikse instelling, dié lugballonkompetisie wat in die ysige winter op ons dorp gehou is. Skoonheid, opwinding. ’n Anderwêreldse betowering wat jou groot drome laat droom het.

 

Ek onthou ook die vuurwarm somers in ’n woestyn. My adres was ’n onopvallende gebou in ’n stowwerige straat in ’n klein Midde-Oosterse landjie. Daar is braaihoenders op die sypaadjie voor my woonstel gaargemaak, oral was mans in lang rokke.

Vroeg-vroeg het die imams hul mense opgeroep om te gaan bid. Eers kom die sangerige klanke van ver af, ’n volgende keer is dit ’n bietjie nader. Nóg ander kom sekondes later vanuit ’n ander windrigting, een was sommer hier by my.

Die motors met hul roekelose bestuurders en toetergeskel het die strate ingeneem sodra die son gesak en die dag se hitte effens draagliker geword het.

 

Daar was asemrowende ervarings by al my adresse. Daar was ook die gewone, sommer-net-nog-’n-dag-belewenisse. Daar was die gemiddelde, die ordinêre.

Daar was ook dae vol minder lekker emosies, swaarkry-tye. Seerkry, frustrasie, verlange.
Maar by al my woonplekke en deur al my ervarings heen het ek veral een ingesteldheid probeer behou: carpe diem. Ja, hierdie ou, oorgebruikte uitdrukking wat ons daaraan herinner om elke geleentheid tot sy volheid toe te benut.
Paulus het dit immers ook al in Efesiërs 5:16 geëggo: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.”

Dit alles het my geleer dat dit nie saak maak waar jy woon of in watter omstandighede jy jou bevind nie – die lewe is ’n reeks geleenthede. Dis óns keuse om die skoonheid, die magic, die blote geluk daarvan in te drink en diep te beleef.

Dis óns keuse om die roetine-dae en die onstuimige tye as geleenthede te gebruik om te groei en ons geloof te bou.

Die lewe is hier en nou. Gryp dit aan!

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail