Bybellesers kan maklik verstaan hoekom vroue tot Jesus se leringe aangetrokke gevoel het; Hy het so anders teenoor hulle opgetree as wat hulle in hul eie kultuur gewoond was …

DEUR RONELL BEZUIDENHOUT

 

Jesus het die vroue in sy omgewing as ménse erken: Hy het hulle op die naam genoem, Hy het hulle genees, Hy het aan die onreines geraak.
Daar is selfs vroue in sy binnekring toegelaat. Kortom: Ons leer in die Evangelies dat Jesus werklik vir vroue omgegee het.

Dit alles laat ’n mens soms wonder watter invloed vroue op Jesus se lewe gehad het. Daar is, helaas, nie so baie daaroor in die Evangelies geskryf nie. Gelowiges moet maar ’n bietjie tussen die lyne lees – en dalk word hulle met ’n klompie interessante brokkies inligting beloon.

Seuntjie
Omdat die Evangelies grootliks op Jesus as volwasse man fokus, vergeet ons dikwels dat Hy eens ook ’n seuntjie was. Dat Hy gehuil het as Hy geval het, dat Hy bang was vir die vreemde geluide in die nag as Hy wakker geword het. Dat Hy na sy ma geroep het as Hy olik gevoel het.
Ons weet dat Jesus susters gehad het, én neefs, en dus waarskynlik ook niggies. Daar moes maatjies gewees het met wie Hy gespeel het.

Maar die belangrikste vrou in sy lewe was sekerlik sy ma. Ek onthou altyd, met ’n knop in my keel, Jesus se woorde wanneer Hy aan die kruis hang en aan Johannes sê: “Daar is jou moeder” (Joh 19:27). ’n Kind wat sy ma verwese daar sien staan en aan sy beste vriend sê: “Versorg haar asseblief ná my dood. Wees vir haar die seun soos wat ek dit vir haar was.”

Twee vroue
Dit moes waagmoed gevra het om te doen wat hulle twee gedoen het. Die een, so lees ons, het van angs gebewe toe sy uitgevang is.

Sy moes al verby moedeloos gewees het. Dalk was sy selfs die destydse dokters se proefkonyn. Lees hoe beskryf Markus dit: “Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters …”
Boonop het die dokters haar geld geneem al het sy nie gesond geword nie. Inteendeel: Haar toestand het net vererger (vgl Mark 5:25-26).

Dis so maklik om onder sulke omstandighede moed op te gee – maar nie sý nie. Al was sy na liggaam en gees afgetakel, het sy kans gesien om die skare mense te trotseer wat om Jesus saamgedrom het. Al waarop sy gefokus het, was om haar hand uit te steek en aan die rabbi se kleed te raak.

Sy het dit toe gedoen. En Hy het dit agtergekom. Hy het die vrou raakgesien wat ’n plan gemaak het. Niemand anders het nie; Jesus het.

 

Die ander vrou het as ’n ongenooi­de gas by ’n ete opgedaag. Sowel Matteus as Markus vertel hoe Jesus saam met ’n klomp mans was, en hoe sy met ’n fles kosbare reukolie daar aangekom het. Vasbeslote om Jesus daarmee te salf.

Nee, sy kom doen dit nie stilletjies en, hopelik, ongemerk nie. Dis ’n vrou dié wat kans sien vir al die veroordeling – want daarvan sou daar baie wees. Lees maar die dissipels se reaksie … (vgl Matt 26:8).

Die mans om die tafel was inderdaad erg gesteurd. Nie net is dit ’n vrou wat by ’n ete tussen die mans opdaag nie; dis boonop ’n verkwister.

 

Ek ken nóg vroue soos die een waarvan ons in Markus 5 lees. Dis hulle en hul soort deursettingsvermoë wat ander vroue moed gee. Hulle is dapper; hulle gooi nie sommer handdoek in nie.

Ek vermoed dat Jesus aan hulle ook sal sê, soos aan die vrou in Markus 5: “Jou geloof het jou gered.”

Ek ken ook vroue soos daardie een wat ongenooid by die ete opgedaag het. Hulle glo in wat hulle doen, selfs ten koste van hul naam.

Hulle is die soort wat so oortuig is van hul saak dat hulle bereid is om die mense se verontwaardiging te trotseer. Hulle doen wat reg is, selfs al word hulle daaroor gebrandmerk.

Daar was báie
Daar is baie soortgelyke vroue in die Jesus­verhale. Baie van hulle se naam ken ons nie; hul dade sal egter nooit vergeet word nie. Jesus het juis aan een van hierdie naamloses presies dit belowe (vgl Matt 26:13).

Daar is vroue wat deur Jesus uitgesonder is om lesse in geloof aan ons te leer. Dink maar aan die ou tannie by die tempel wat haar laaste muntstukke weggegee het (vgl Luk 21:1-4). En onthou Maria, die suster van Marta, wat “die beste deel gekies het” deur by Jesus se voete te sit om geleer te word (vgl Luk 10:38-42).

Jesus gebruik dikwels vroue in sy gelykenisse om sy toehoorders te leer. Daar is die weduwee wat die regter tydig en ontydig lastig geval het omdat sy hulp in haar regsaak nodig gehad het. Hiervanuit verklaar Jesus dan: “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?” (Luk 18:7).

En wie vergeet ooit die gelykenis van die tien jong meisies wat op pad was na
’n bruilof toe? (vgl Matt 25:1-13). En dié van die vrou wat haar hele huis omgekeer het op soek na ’n verlore muntstuk? (vgl Luk 15:8-10).

 

Ons leer uit die Jesusverhale dat Hy “gewone” dinge gedoen het. Dat Hy byvoorbeeld by ’n troue deur sy ma aangesê is om te help, omdat daar nie genoeg wyn was nie (vgl Joh 2:1-12).
Hy gaan sit by ’n put en raak aan ’t gesels met ’n vrou, ’n Samaritaan, nogal. Boonop een met ’n twyfelagtige sedelike geskiedenis (vgl Joh 4:1-26).

Hy word meermale by diesulkes aangetref: Daar was ook die een wat “op heterdaad” betrap is dat sy owerspel gepleeg het. By Hom vind sy genade (vgl Joh 8:1-11).

 

Hy weet …
Uit hierdie en die ander verhale oor Jesus en die vroue wat sy pad gekruis het, kan ons ’n klompie afleidings maak. Allereers: Vroue was vir Jesus belangrik. En Hy het dit gewys, ongeag die betrokke vroue se status in die destydse samelewing.

Of hulle nou in sy binnekring was of vér aan die periferie: Jesus het van hulle geweet – ryk of arm, weduwee of dogtertjie, getroud of ongetroud, siek of gesond, bekend of naamloos.
Daar was die stil vroue wat met hul oë en liggaam afgebuig grond toe geleef het; daar was dié wat passievol teenoor Jesus opgetree het.

Daar was nêrens ’n plek langs Jesus nét vir mans nie.

Die Evangelieskrywers doen verder moeite om ons te laat verstaan dat daar baie vroue was wat Jesus gevolg het – tot by sy kruisiging, en daarna. Dit was vroue wat sy liggaam wou gaan balsem; dit was vroue wat ontdek het dat die graf leeg is; dit was vroue wat die opdrag gekry het om die boodskap te verkondig dat Hy leef.

 

Daar is al dikwels gesê dat geen mens so ’n groot invloed op die Westerse geskiedenis gehad het soos Jesus van Nasaret nie. Ons sou kon byvoeg dat daar geen mens was wat so ’n groot invloed deur vroue op sy lewe toegelaat het as Jesus, die seun van Maria, die vrou van Josef, nie.
Daar was geen man wat vroue ooit so waardig laat voel het soos die Seun van God nie.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail