Laas jaar dié tyd het sy pienk tekkies en ’n bont serp aangetrek. Sy het haar lippe met ’n stuitige rooi ingekleur en ’n bont lint in haar hare gebind.

DEUR FOURIE ROSSOUW

Dis altyd ’n jolige affêre by die werk, en almal doen moeite om so loslitterig moontlik op Loslitdag te lyk.

Foto deur Alex Sheldon by Unsplash

Maar vanoggend is dinge anders. Hulle het saam besluit om swart te dra – vir die meisie wat net gaan pos uithaal het. Vir die moeder wat haar dogtertjie by die kleuterskool afgelaai het. Vir elkeen wat die reuk van verkragting in die stort afgewas het. Vir almal wat al bang was om alleen te gaan draf. Vir haar wat sy voetstappe tel terwyl hy in die gang af kom.

Vir elke ouma en ma en dogter, waar hulle ook al is.

Haar swart bloes en romp lê glad gestryk op die bed. Dis haar protesdrag vir Loslitdag. Sy het ook besluit om geen grimering te dra nie, uit medelye met elke vrou wat rooi en blou wonde met grimering bedek. Vanoggend wil sy die wêreld trompop loop met elke merkie, sproet en plooi wat die storie van haar vrouwees verklap.

Terwyl sy haar hare droog blaas, kom haar seuntjie dawerend by die kamer ingewals. Met sy neon­hemp en blou kortbroek lyk hy uitgeknip vir die jolige dag wat op hom en sy skoolmaatjies wag.

Hy is, volgens baie, ’n regte seuntjie: Sy boere­voetjies hou nie van skoene nie en daar is altyd merke op sy knieë en sy voorkop.

Die wêreld maak dit maklik vir seuntjies soos hy. Sy liefde vir karretjies, helikopters en bal speel word met trots aangemoedig. Sy sterk lyfie maak hom weerbaar, amper onkeerbaar.

Elke oggend wanneer sy haar hare droog maak, kom staan hy by haar en vra dat sy ook sý hare sal droog blaas. Dan tel sy hom op haar skoot en laat hom toe om met sy kop op haar bors te lê terwyl sy met haar hand deur sy hare vryf en kyk hoe sy sagte seuntjieshare in die warm lug baljaar. Die hoendervel op sy lyfie verklap sy genot.

Sy koester elke oomblik daarvan, want ver van haar boesem af wag ’n wêreld wat hom tot ’n harde weergawe van manlikheid wil skaaf.

Op pad werk toe luister sy na RSG. Lynette van “Praat Saam” gesels met ’n sielkundige wat spesialiseer in die trauma van geweld teen vroue. Die statistieke oorweldig haar: In die jaar wat verby is, is daar meer as honderd verkragtings per dag by polisiekantore reg oor die land aangemeld. Inbeller ná inbeller vertel stories van pyn en protes.

Wat sal sy doen as so iets met haar moet gebeur? Sy dink aan haar vriendin in Kanada, en wonder vir die soveelste keer of sy dit nie ook moet oorweeg om maar te trek nie.

Sy luister na die laaste inbeller terwyl sy reeds by die kantoorgebou se parkeerterrein is. Dis ’n man met ’n stem vol beslistheid. Hy praat in berekende sinne. Hy haal die Bybel aan.
Die probleem, volgens hom, begin by die huis. Hy blameer feminisme en die vervlakking van Christenskap. As mans net weer hul regmatige plek in die huis inneem, en vrouens weer onderdanig sal wees soos in die ou dae, sal dinge regkom. Kyk net hoe trek die meisies deesdae aan! Vergelyk jy die vrouetydskrifte van die verlede met die drek wat vandag verkoop word, is dit g’n wonder dat so baie vroue deur hul mans soos flerries behandel word nie.

Haar hande bewe toe sy die radio afskakel terwyl hy nog praat. Sy weet dus nie wat Lynette die man geantwoord het nie, maar sy hoop dat hy op sy plek gesit is.

Sy maak haar oë toe en sien weer haar seuntjie met sy hoendervel-lyfie op haar skoot. Sy wag totdat die woede uit haar lyf verdwyn. Dan haal sy ’n stafie skarlakenrooi lipstiffie uit haar handsak uit.

Met ’n geoefende hand kleur sy haar lippe in. Haar plek is nóg in die kombuis, nóg op ’n rots in Paternoster. Sy is ’n vry vrou – en die wêreld sal dit weet.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail