Om vas geanker te wees, én om die vermoë te hê om ver te kom … Dit is sekerlik alle ouers se wens vir hulle kinders. En dit is nie vergesog nie. Dit lê wel in jou hande, Ma en Pa. Deur Susan Goosen

 

Die twee belangrikste dinge wat ouers aan hulle kinders kan gee, is wortels en vlerke. Só het Jonas Salk gesê.

Die een sal jou anker; die ander een maak jou vry. Kinders het albei nodig om hulle volle potensiaal te bereik. En dit is hulle ouers wat dit aan hulle gee, of van hulle weerhou … Hier is die wortels.

 

Die wortels

Enige tuinier sal weet dat ’n sterk en gesonde wortelstelsel baie belangrik is vir plantjies om te kan groei en te kan oorleef. Dit is immers die wortelstelsel wat die plantjie anker en van die broodnodige voedingstowwe voorsien.

Mev Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige in Klerksdorp, sê dat dit die ouers se dure plig is om hulle kinders van sterk lewenswortels te voorsien. “Om aan jou kinders wortels te gee, beteken dat jy aan hulle ’n grondslag van sekuriteit en stabiliteit gee. Kinders wat oor ’n sterk wortelstelsel beskik, weet waar hulle huis is, hulle weet dat hulle geliefd is, en hulle beleef dat hulle ouers hulle ondersteun in dit wat hulle doen.”

Die kenners sê dat daar ten minste vyf maniere is om jou kind wortels te gee:

Help hulle om ’n verhouding met God te vorm. Elizma is daarvan oortuig dat ’n lewende verhou­ding met God die beste moontlike wortelstelsel is wat ’n kind kan hê.

“Kinders wat in ’n huis grootword waar hulle ouers die Here liefhet en dien en maklik oor hulle geloof praat, kry die geleentheid om God as hulle Verlosser te leer ken. Maak dus tyd om saam met julle kinders in die Bybel te lees, te bid en na ander uit te reik.”

Voorsien in hulle behoeftes. Ouers moet ook in hulle kinders se fisiese behoeftes voorsien. Kinders het gesonde kos, ’n skoon omge­wing, genoeg oefening en mediese sorg nodig om te kan oorleef.

“Dit is ook belangrik dat ouers hulle kinders sal leer om na hulle eie liggaam om te sien,” sê Elizma. “Die kinders moet uiteindelik self verantwoordelike keuses ten opsigte van hulle dieet en leefwyse kan maak.”

Skep ’n veilige omgewing. ’n Veilige omgewing is een waar kinders mag ontdek, mag foute maak en waarin hulle kan leer.

Die bekende opvoedkundige, radio­persoonlikheid en skrywer, Johan van Lill, sê dat dit baie belangrik is dat ouers hulle kinders onvoorwaardelik sal aanvaar. “Alle ouers maak foute,” sê hy, “maar gelukkig het min daarvan ’n permanente invloed op hulle kinders se lewe. Wanneer ouers egter nie hulle kinders aanvaar vir wie en wat hulle is nie, en hulle eiewaarde en selfbeeld afbreek, rig dit dikwels onherstelbare skade aan. Waak daarteen om jou kinders met ander te vergelyk, of om hulle met neerhalende opmerkings te ‘straf’.

“Ouers hoef nie negatiewe gedrag te aanvaar nie, maar die kinders moet weet dat hulle ouers hulle liefhet en aanvaar, ten spyte van al hierdie foute.”

Sorg vir pret en mooi herinne­ringe. Gelukkige en gesonde gesinne lag saam en doen dinge saam. Hierdie saam-doen en saam-lag sorg uiteindelik vir ’n skatkis vol mooi herinneringe.

Johan sê: “Hier speel gesinsrituele en familietradisies ’n belangrike rol. Die rituele wat ’n bepaalde gesin tydens verjaarsdae, Kersfees en ander belangrike geleenthede volg, bind so ’n gesin sterker saam, en dit skep ’n gevoel van ‘behoort’.

“Kinders hou daarvan om te weet dat hulle gesin gewoonlik op ’n Saterdag braai, dat eksamenuitslae met hamburgers gevier word, en dat daar op ’n Sondagmiddag met die honde gestap word.”

Trek duidelike grense. Kinders benodig duidelike en realistiese grense wat aandui presies hoe aanvaarbare gedrag lyk. En hulle moet ook weet wat sal gebeur wanneer hulle hierdie reëls oortree.

Johan sê: “’n Voorspelbare en ouderdomsgepaste roetine is belangrik. Alle kinders word blootgestel aan verskillende omgewings en roetines en uiteenlopende vorme van dissipline. Boonop word ongeveer die helfte van alle kinders deesdae deur ’n enkelouer grootgemaak, wat bogenoemde soort blootstelling selfs meer akuut maak.

“’n Ouer moet dus soms herhaaldelik bevestig hoe dinge in júlle huis gedoen word – ongeag van dit wat by Oupa en Ouma se huis gebeur, of by die maatjies s’n, of by Pappa s’n wanneer die kind naweke daar deurbring.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail