Die eerste keer toe ek van haar skryfwerk gelees het, het ek gewens om ook só binne-in woorde te kan klim. Sodat ek daar kan gaan lê en soos ’n kat spin. Uitgestrek op die sagte woord-kombers, terwyl die sinne saggies aan my ore krap en my onder my ken streel.

Ek wou die woorde wat sy gebruik het oor my laat spoel en dit op ’n manier deel van my maak. Ook later, toe ek elke maand haar rubriek in LiG gelees het, wou ek dit soos ’n wolkombers om my draai. Of my arms wyd oop maak om dit te omhels en dit styf teen my bors vas te druk.

Annalise Wiid was nie ’n gewone skrywer nie. Sy was ook nie ’n gewone mens nie. Sy was onuitputbaar kreatief. En innig lief vir God.

Sy het ons met haar woorde betower. Sy kon dit laat rank en klim soos ’n delikate pronkertjie, en dit dan laat blom met ’n paar hale van haar pen. Sy kón skryf.

Sy kon ook sing. En dans en speel. Sy kon mooi maak en heel maak. Sy kon bid.

Annalise is op ’n Woensdag in vanjaar se diep winter oorlede toe daar komplikasies ingetree het ná ’n delikate operasie.

Sy het sedert 2009 elke maand vir LiG geskryf. Haar skryfwerk was altyd presies, haar sperdatums is nougeset nagekom. Dit was lieflik om saam met Annalise te werk. Dit was sommer ook net lekker om in haar geselskap te wees.

Toe LiG in ons Desember/Januarie-uitgawe saam met Annalise en ander LiG-medewerkers om ’n Kerstafel gekuier het, het sy die volgende oor haar skryfwerk gesê: “Vir my is die grootste uitdaging in my skryfwerk om niemand te verveel nie. Om relevant te bly. En ek dink soms dae lank aan die heel beste fynvat-woord, dit waarmee ek iets kolskoot-ráák kan sê. Dit werk amper soos puzzles pak. Dit bring in elk geval dieselfde soort bevrediging soos wanneer jy daardie régte stukkie kry, die een wat perfek pas.

“’n Ander uitdaging, een wat nie net vir my LiG-skryfwerk geld nie maar vir my hele lewe, is om my geloof in God te integreer met my elke-dag-se-lewe-dinge. En om dan, as ek moet, eerlik daaroor te skryf. Oor sowel die sweef- as die strompel-ervarings. Ek glo dit druk dan ook uiteindelik ’n outentieke stempel op my skryfwerk af.”

In die dae ná Annalise se dood het ek, en almal wat haar omgee en liefde en
lewenslus geken het, algaande die geweldige groot leemte van haar heengaan besef. In die musiekwêreld, die kerkwêreld, in gemeenskappe waar sy in en deur liefde geleef het.

Is sy dan regtig nie meer hier nie? het ek, verslae, in daardie dae gedink.

Maar iewers het die Here my kom herinner aan die manier waarop Annalise geleef het. Die egtheid wat in haar helder oë gevlam het. Die moed waarvan haar fier houding getuig het. Die deernis waarmee sy na mense om haar gekyk het, waarmee sy mense se stories vertel het. Haar geloof in Jesus wat deur alles wat sy gedoen het gesyfer het.

Sy was ’n mens wat in donker storms haar kop gelig en met ’n fyn, vasberade fronsie die seer en swaarkry van die lewe tegemoet gegaan het. Sy kon diep drink uit die vreugde van verhoudings.
Vir my het dit altyd gelyk asof sy die lewe met albei hande aangryp. En die geleenthede om aan ander goedheid te bewys, uitsnuffel en ten volle gebruik.

Ja, Annalise Wiid laat ‘n geweldig groot leemte. Maar daar was soveel mooi aan haar. En daarin lê vir my – vir almal wat haar geken het – ’n aansporing: om die manier waarop Annalise geleef het na te volg. En om só die leemte wat sy laat ’n bietjie minder seer, ’n bietjie minder leeg, te maak.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail