Onvrugbaarheid. Infertiliteit. Julle sal nie op die normale manier kan kinders hê nie … Dit maak nie saak hoe jy dit noem of beskryf nie – vir sommige mense is dit net so ’n traumatiese diagnose soos vir dié wat moet hoor dat hulle kanker het. Wat word nou van jou smagting na ’n baba?

Deur Susan Goosen

Infertiliteit-diagnose bring meestal intense hartseer en wroeging mee. Terwyl familie en vriende en tydgenote ’n ooievaarstee hou, ’n babakamer haarfyn beplan en solank klere en speelgoed aanskaf, moet jy vrede maak met jou onvrugbaarheid. Met die feit dat jy blykbaar nie sal swanger raak nie, dat jy waarskynlik nooit die vreugde van ouerskap sal beleef nie.

Wat is infertiliteit?

Dr Chris Venter is verbonde aan die Vitalab-vrugbaarheidskliniek in Johannesburg. Hy sê: “Infertiliteit verwys na ’n vrou se onvermoë om binne ’n bepaalde tyd en met gereelde seks (ten minste twee maal per week) swanger te raak. Dit verwys ook na vroue wat sukkel om swanger te bly. “Vroue onder 35 wat ná een jaar se doelbewuste pogings om swanger te raak steeds onsuksesvol is, moet vir ’n ondersoek gaan. Omdat ouderdom ’n groot rol speel in eierselle se kwaliteit en kwantiteit, moet vroue bo 35 reeds ná ses maande om hulp aanklop.”

Die redes vir infertiliteit word in ongeveer 40% van alle gevalle by die vrou gevind, in 35% by die man, en in 15% is dit ’n kombinasie van faktore by sowel die vrou as die man. Ongeveer 10% van alle infertiliteitsgevalle is onverklaarbaar, met oënskynlik geen rede waarom ’n paartjie nie swanger raak nie.

Die onvrugbare vrou het gewoonlik probleme by die eierstokke (byvoorbeeld ongereelde menstruasie) of by die fallopius-buise wat geblokkeer is. Of daar is probleme by die baarmoeder, soos gewasse binne die baarmoeder of endometriose.

Die onvrugbare man se probleem lê onder meer by onvoldoende spermproduksie of by wanfunksionele sperm.

Leefstylfaktore kan ook ’n rol speel. Voorbeelde hiervan is oormatige stres, rook (by sowel mans as vroue) en oormatige alkoholgebruik. En eetversteurings, byvoorbeeld anoreksie.

Wat gebeur nou?

Dr Paul Roux is verbonde aan Cape Fertility in Kaapstad. Hy verduidelik wat paartjies te wagte kan wees wat by hulle om hulp aanklop. “Ons kyk na die man en die vrou se onderskeie mediese geskiedenisse en doen bloedtoetse. Voorts doen ons ’n ginekologiese ondersoek en pelviese skandering by die vrou, en neem ’n spermmonster by die man. In sommige gevalle neem ons ook X-strale van die vrou se fallopius-buise. Of ons doen ’n laparoskopie, waar ’n kamera onder narkose in die buik geplaas word.

“Dit is baie belangrik om so gou moontlik die korrekte diagnose te maak. Sommige behandelings is baie duur, en herhaalde behandelings kan ’n paartjie baie geld uit die sak jaag.

Dit bring dikwels baie spanning mee – wat natuurlik vererger wanneer hulle ná verskeie pogings nog nie swanger is nie. Juis daarom moet albei partye alle relevante inligting deel, en al twee moet die nodige toetse ondergaan.”

Chris vertel meer oor die behandelings wat vir infertiliteit gebruik word: “Ons probeer natuurlik enige opsigtelike probleme – soos gewasse in die baarmoeder – hanteer, voordat ons met die behandeling begin. Dan moet ons ook die pasiënt se ouderdom, geskiedenis en behoeftes oorweeg ten einde op die korrekte behandeling te besluit.

“Ovulasie-induksie behels sekere inspuitings waarmee eiersel-produksie aangehelp word. Dit kos ongeveer R1 000 per behandeling en het ’n sowat 7% kans op sukses. Kunsmatige inseminasie – waar die man se sperm kunsmatig ingespuit word – kos sowat R3 000 tot R5 000 per siklus en het ’n 8% tot 14% kans op sukses.

“Invitro-bevrugting – waar die eierselletjie en sperm buite die liggaam bevrug word en dan weer ingeplant word – kos sowat R40 000 tot R50 000 per behandeling en het ’n suksessyfer van tussen 40% en 60%.”

Paul verduidelik dat daar hoofsaaklik twee redes is waarom invitro-behandeling nie sal slaag nie: Die eierselle is nie van ’n goeie gehalte nie, of die baarmoeder is nie gunstig vir inplanting nie.

Indien ’n betrokke vrou drie siklusse se onsuksesvolle invitro-bevrugting gehad het, raai medici hulle dikwels aan om ander opsies te oorweeg. Dit sluit skenker-eierselle in, of surrogasie, of aanneming.

Die emosionele prys

Me Leanne van der Westhuizen, ’n sielkundige by Cape Fertility, sê dat infertiliteitsbehandeling ’n groot emosionele tol van verhoudings eis. “Die paartjies ervaar dikwels woede en hartseer, én skuldgevoelens, wanneer hulle hoor dat hulle nie normaal kan swanger raak nie. Berading kan dan van groot waarde wees – enersyds om hulle te help om hierdie gevoelens te verwerk, en andersyds om hulle vir die behandeling voor te berei.

“Die paartjie moet ook begryp dat mans en vroue se emosies hieroor meestal van mekaar verskil. Ek raai paartjies dus aan om hul gevoelens deurentyd met mekaar te deel, en om die hele proses as ’n span aan te pak.

“Hulle moet ook probeer om steeds ’n normale sosiale lewe te hê, om tyd te maak vir stokperdjies en ander belangstellings. Hul gesprekke en hul lewe moet tog nie rondom infertiliteit draai nie …”

Chris het die volgende raad vir paartjies wat met infertiliteit sukkel:

  • Bemagtig julle met die regte inligting. Gaan spreek die regte dokters, en vra al die vrae wat op jul gemoed rus, sodat julle die diagnose en alle moontlike opsies goed begryp.
  • Gaan soek hulp – en eerder vroeër as later. Paartjies wag dikwels ’n hele paar jaar, en hoop maar dat hulle wel sal swanger raak. Hoe jonger ’n vrou is, hoe beter is haar kanse om wel swanger te raak.
  • Behandeling is baie duur, ja, maar die uiteindelike beloning kan nie in geldwaarde gemeet word nie. Niks wat jy met daardie geld kan koop, kom naby die vreugde van ouerskap nie. Moet nooit moed opgee nie; daar is altyd hoop.

 

“God se plan was anders”

“Ons het gevoel asof God ons straf.”

Só vertel Michelle Wight van Durban. “Oral rondom ons het paartjies swanger geraak en babas gekry. Ek het hartseer geraak wanneer ek ander ma’s met ’n baba gesien het. En wanneer hulle oor hul babas gepraat het, het ek sommer oor ons hondjie begin praat.”

Michelle se man, Malcolm, sê dat die behandelings hulle uiteindelik meer gekos het as wat twee nuwe motors sou. “Jy kan egter nie die emosionele koste bereken nie,” vertel hy.

Dit het ook groot druk op hul verhouding geplaas. Michelle vertel: “Ek het op ’n stadium vir Malcolm gesê dat hy eerder van my moet skei, omdat ek nie vir hom die baba kan gee wat hy so graag wil hê nie.

“Maar gelukkig was dit nooit vir hom ’n opsie nie. Die moeilikste was seker toe ek uiteindelik besef dat ek nooit swanger gaan raak nie, nooit ’n babatjie gaan voel skop nie.

“Uiteindelik het ons besluit om die behandeling te staak en ’n baba aan te neem. Dit was natuurlik makliker gesê as gedoen. Ons moes eers gekeur word. En toe was daar vier moontlike aannemings wat deur die mat geval het.

“Maar die Here is getrou. Twaalf jaar gelede het ons ’n pragtige dogtertjie net ná geboorte aangeneem. Ons het nou ook ’n seuntjie in pleegsorg wat ons hoop om eendag aan te neem. God het toe vir ons die perfekte gesin gegee – al was dit nie hoe ons dit beplan het nie.

‘Ons wonderwerk!’

Wayne en Louise Fick woon op ’n plaas in Noordwes. Op 19 Desember – ná vele behandelings, en net soveel ontnugtering en hartseer – het hulle uiteindelik die ouers van ’n pragtige babaseuntjie geword.

Louise vertel: “Ons wou nie dadelik ná ons troue met ’n gesin begin nie. Dit was egter altyd die plan om kinders te hê. Ons was dus baie teleurgesteld toe ons besef dat dit nie so maklik gaan wees nie.

“Aanvanklik het ons kunsmatige inseminasie probeer. Ons het ver uit die stad gewoon, en ek moes soms daagliks vir die behandeling daarheen ry. Dit was ook emosioneel gesproke baie moeilik. Ons was glad nie voorbereid op hoe klinies dié proses sou verloop nie. As gevolg hiervan het ons verhouding soms skade gely.

“Uiteindelik het ons dié behandeling gestaak, en maar op die beste gehoop … Maar dit was swáár. Ons het die Here gereeld om sy leiding gevra.

“Maar Moedersdag en Vadersdag en al die bekendes en geliefdes se ooievaarspartytjies was keer op keer ’n pynlike herinnering aan ons onvermoë.

“’n Vriendin wat sommer gou swanger geraak het nadat sy gevorderde behandeling ontvang het, het aanbeveel dat ons dit ook oorweeg. Hierdie keer was ons ouer en wyser – en versigtig-optimisties. Ná vele ondersoeke en oorweging het ons op invitro-bevrugting besluit. En nadat die dokter twee embrio’s teruggeplant het, het hy aan ons gesê: ‘Nou moet ons terugstaan en op God vertrou.’

“Dit was die langste wag van ons lewe. Die hele gemeenskap het saam met ons gebid. Ons het nooit ophou hoop nie, en deurgaans op die volgende stap gefokus. Aprilmaand het ons gehoor dat ons ’n baba verwag.

“Psalm 113:9 het vir ons waar geword! Hierdie baba is ons grootste wonderwerk.”

Kontak ons kenners: Cape Fertility:
www.capefertility.co.za. Of skakel 021 674 2088.

Vitalab, Johannesburg: www.vitalab.com. Of skakel 011 911 4700.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail