’n Paniekaanval is ’n intense belewenis wat soos ’n hartaanval of ʼn beroerte-aanval voel. Al hoe meer persone ondervind dié vorm van angs. LiG het met mense gesels wat eerstehandse ondervinding hiervan het.

Deur Conette le Roux

“Ek kry verskriklik warm; dit is asof ek nie asem kry nie. Terselfdertyd voel dit asof my kop heeltemal deurmekaar is; ek weet nie waar ek is nie.”

Só beskryf Natasha Brink* (60) van Bethlehem die paniekaanvalle wat sy reeds sedert 1995 ervaar.

Vir Hannelie de Kok* (34) van Secunda, wat in 2006 hiermee gediagnoseer is, lyk ’n tipiese paniekaanval só: “Ek begin duiselig voel, my hart begin baie vinnig klop. My bors trek toe en dit voel asof ek nie asem kry nie.”

Wilhelm Bester* (33) van Worcester vertel: “Ek sweet vreeslik en kry ontsettend warm. My hart klop asof hy uit my borskas gaan spring. Dit voel asof ek doodgaan.”

Diegene wat die eerste keer ’n angsaanval ondervind, dink dikwels dat dit ’n hartaanval of beroerte is en haas hulle na die naaste hospitaal. Die Suid-Afrikaanse Depresssie en Angs-groep (Sadag) sê dat mense wat angsaanvalle beleef, dit dikwels moeilik hanteer. Wanneer daar boonop ander mense in die onmiddellike omgewing is, word dit selfs moeiliker.

Hieroor sê Hannelie: “Ek probeer altyd eers my ‘pose’ hou. By die werk is dit soms moeilik, maar gelukkig kan ek uitgaan en buite gaan sit. En net ’n slag behoorlik asemhaal.”

Sy verkies dat haar kollegas nie van hierdie aanvalle weet nie. “Ek is bang vir die stigma,” sê sy.

Hannelie sê sy speel oop kaarte met haar gesin. “Dit help my as hulle weet. Veral my seuntjie bring vir my baie kalmte; as ek so angstig voel, is dit baiekeer die beste terapie om met hom te speel. En dan gaan ek ook uit, kry lug buite, al gaan sit ek net op die stoep.

“Maar,” sê Hannelie, “nou dat ek die toestand beter verstaan, hanteer ek dit ook beter. Aanvanklik het ek glad nie geweet wat my tref nie. Maar die medikasie én die terapie wat ek daarvoor ontvang, maak dit draagliker.”

Wilhelm sê hy gaan nêrens heen sonder sy medikasie nie. “Ek kan voel wanneer daar ’n paniekaanval op pad is, en dan drink ek dadelik ’n pilletjie. Dit vertraag en verlig die aanval. En as ek tussen mense is wanneer dit gebeur, vlug ek buitentoe, sorg dat ek alleen is. Iewers waar ek kan afkoel; ek kry verskriklik warm.”

Maar die mense moet dit tog net nie weet nie …

Dit blyk ’n algemene verskynsel te wees, dié dat lyers hul toestand vir kollegas en selfs familielede wegsteek.
Dr Philip van Rensburg, ’n kliniese sielkundige in Pretoria wat in angs en gemoedsversteurings spesialiseer, sê: “Ek het al geleer dat meer mense geredelik sal erken dat hulle aan depressie ly, as dat hulle ’n angsversteuring sal verklap.”

Wat is dit presies?

Volgens Louis Awerbuck, sielkundige en mede-aanbieder van die RSG-program Wie is ek? – met Louis en Lise, vorm paniekaanvalle deel van ’n groter familie, genaamd angs. “En angs dra vele maskers, selfs ook obsessief-kompulsiewe versteurings.

“Paniekaanvalle is die mees ekstreme uitdrukking van ’n bepaalde soort angs,” sê Louis. “Dit is intens, dit gebeur fisies met jou, en dit kan tussen vyf en 15 minute lank duur.”

Volgens Louis vind so ’n aanval ná ’n stadige opbou plaas. “Die onderliggende spanning neem toe, en dan, eensklaps, word alles net te veel. Jou liggaam begin reageer. Nou wil jou senuweestelsel jou beskerm – en dan volg daar ’n angsaanval.”

Statistieke toon dat angs taamlik algemeen by die breë bevolking voorkom. Volgens die Anxiety and Depression Association of America is angsversteurings die mees algemene geestesongesteldheid in die VSA.

Philip sê dat 12% van die pasiënte wat in Suid-Afrikaanse psigiatriese klinieke opgeneem word, angsversteurings het. En dat meer vroue as mans daaraan ly.

 

“Soos ’n dief in die nag”

Volgens Louis is daar nie noodwendig ’n spesifieke sneller wat ’n paniekaanval tot gevolg het nie. “Dikwels slaan dit uit die bloute toe. Kom dit op jou af soos ’n dief in die nag.”

Hanno Coetzee (41), LiG se visuele koördineerder, kry ook soms paniekaanvalle. Hy beaam Louis se waarneming. “Ek kry op die vreemdste tye ’n aanval,” sê hy. “Soos wanneer ek rustig is. Wanneer niks my bloeddruk opgejaag het nie. Wanneer ek voor die TV ontspan …”

Wilhelm vertel: “Ek kry dit ook wanneer ek ontspan, maar dan dikwels ná ’n spanningsvolle tyd. Ek het dit al dikwels gekry wanneer ek besig is om te braai. Of op ’n rustige Sondag. Maar dan was daar ’n eksamen nié so lank gelede nie, of ’n spanningsvolle tyd by die werk.”

Hannelie sê sy beleef inderdaad dat daar bepaalde dinge is wat ’n paniekaanval by haar tot gevolg het. “Omdat ek dit begin verstaan, kan ek dit probeer vermy. Byvoorbeeld ’n samedromming in ’n inkopiesentrum aan die einde van die maand. Ek het al in sulke omstandighede ’n bloeddruklesing laat neem – en dan is dit baie hoog.

“Soms kry ek ’n soort voorgevoel dat daar ’n aanval op pad is,” sê sy. “En dan kan ek my daarop voorberei.”

 

Hoe keer ek dit?

Is dit moontlik om paniekaanvalle te verminder of selfs te voorkom?

Verskillende dinge werk vir verskillende mense. Vir Hannelie is ’n kreatiewe aktiwiteit die antwoord. “Ek doen scrapbooking,” sê sy. “Oor die algemeen probeer ek om elke dag iets kreatiefs te doen, al is dit bloot om saam met my seuntjie in te kleur.

“Dit help ook om ’n rustige atmosfeer rondom jou te skep; musiek help my hiermee. En my huismense moet ingelig wees; dit is hulle wat my hierdeur help.”

Natasha sê: “Ek bid baie. Ek probeer om my nie oor allerlei dinge te ontstel nie. Ek weet ook dat ek dit moet vermy om té moeg te raak.

“Dit help my dat ek hierdie aanvalle as deel van my lewe aanvaar het. Ek onttrek my nie van ander mense nie en probeer om dinge wat my pla dadelik op te los. En ek probeer om dit wat ek nie kan verander nie, te aanvaar. Ek gun my dit ook om foute te maak, en ek verwyt my nie daaroor nie.”

Wilhelm: “Ek oefen gereeld. En ek sorg dat ek nie te veel alkohol of kafeïen inneem nie. Dit help beslis.”

Philip is daarvan oortuig dat fisiese oefening ’n belangrike deel van die antwoord is. “Ten minste 20 minute elke dag,” sê hy.

Ook die brein moet oefening kry. “Veral om op die oomblik te fokus, om nie die toekoms as ’n bedreiging of ’n bron van bekommernis te sien nie.”

Philip sê: “Alle nuwe navorsing wys uit dat daaglikse ‘mindfulness training’ die brein se struktuur ná agt weke se oefening verander. Hierdie verandering kan duidelik op ’n MRI-skandering gesien word.”

Mindfulness? “Dit is ’n soort meditasie,” verduidelik Philip. “Die betrokke persoon word geleer om sy of haar aandag net in die hede, die huidige, te hou. Aanvanklik is dit nogal moeilik, maar dit word gaandeweg makliker. Dit is maar soos by elke ander oefening: hoe langer jy dit volhou, hoe beter word jy daarmee.

“Dit is belangrik dat angstige mense dit aanleer, aangesien hul gedagtes gewoonlik êrens in die toekoms is. Hulle bekommer hulle oor dinge wat nog nie gebeur het nie …

“Tydens terapie leer ek hulle spesifieke ‘mindfulness’-metodes aan. Daar is ook heelwat ‘mindfulness’-apps wat jy kan aflaai.”

Lag help ook, sê Philip. “Humor is ons mense se oudste verdediging teen angs. Gaan staan net ’n oomblik lank stil, en sien die humor soos ’n strokiesprent voor jou afspeel. Dit kan die angstigheid verlig.”

 Jacobie Müller-Bester, ’n geregistreerde berader, stel voor dat angstige mense “in die Woord mediteer”. Dit werk só, sê sy: “Jy lees ’n gedeelte uit die Bybel, jy word stil en dink daaroor na.

“En wanneer jy buite in die tuin sit, kyk jy bewustelik na die mooi natuur. En jy is dankbaar vir God se skepping.”

 

Wat moet ek doen?

  • Wanneer ’n paniekaanval begin, ver­ander dadelik die omgewing. Fokus op wat jy ná die aanval gaan doen. Sê vir jouself: Niks bly vir altyd nie. Alle storms – wind, sneeu, reën, hael en sandstorms – het ’n begin en ’n einde. Die gevoel wat jy nou beleef, sal ook wyk.
  • Fokus op enige voorwerp en vra jouself vrae daaroor, byvoorbeeld: Waarvan is dit gemaak? Waarvoor kan dit nóg gebruik word? Hoe sal dit in ’n ander kleur lyk?
  • Gee jou brein ’n moeilike opdrag. Byvoorbeeld: 100-7=? Hou aan met die aftreksommetjies, tot by 0. Dit is be­langrik om stip op die huidige te fokus. Om nie aan die toekoms te dink nie.

Philip sê: “Onthou dat bogenoemde bloot ’n paar selfsorg-metodes is. Dit is belangrik dat iemand wat paniekaanvalle kry, terapeutiese behandeling ontvang. Hy of sy moet geleer word om op ’n ander manier te dink, ten einde die angs te stuit.”

Langdurige herstel

Philip sê: “Die helfte van die pasiënte wat angsaanvalle beleef, ontwikkel ook depressie, en vice versa. Derhalwe is dit belangrik om die pasiënt te evalueer en sodoende vas te stel hoe intens die simptome is. Daarna kan ’n ingeligte besluit oor die behandeling daarvan geneem word.

“Soms word medikasie aanbeveel, en soms terapie. En dikwels albei. Kognitiewe gedragsterapie is ’n baie belangrike deel van die behandeling. Só word langdurige herstel bevorder.”

 

Simptome van ’n paniekaanval

  • Vinnige hartklop
  • Moeilike asemhaling
  • Verlammende vrees
  • Lighoofdigheid of naarheid
  • Oormatige sweet, bewerasie
  • Borspyne, verstikking
  • Jy ondervind warmgloede, of jy kry skielik koud

Besoek www.sadag.org vir meer inligting.Kontak dr Philip van Rensburg by philippr@mweb.co.za of by 012 460 0726.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail