Daar is baie wat ons aan ons kinders wil nalaat. Ons vrese en fobies is sekerlik nie deel daarvan nie. Maar onbewustelik is dit dikwels presies wat ons regkry. Hoe kan ouers dan hierdie ongewenste nalatenskap verhoed? Deur René Badenhorst

Die kenners sê daar is slegs twee vrese waarmee ’n mens gebore word: ’n vrees vir val en ’n vrees vir harde geluide. Alle ander vrese word later aangeleer. Kinders leer wat gevaarlik is deur hul ouers en dié se reaksie dop te hou.
Ons ontwikkel oor die algemeen allerlei vrese as gevolg van negatiewe ervarings. Wanneer daar iets gebeur wat ons liggaam op daardie stadium as ’n gevaar beskou, word latere gebeure wat daarmee verband hou as ’t ware “gemerk” om die liggaam se veg-of-vlug-reaksie te aktiveer.

Wanneer dit te ver gaan …
“Vrees vervul ’n belangrike funksie in ons lewe en in ons liggaam, maar vrese kan ook handuit ruk,” sê dr Adelbert Scholtz, voorligtingsielkundige en voormalige dosent in pastorale sorg en berading. “Wanneer ons brein die werklike gevaar oordryf, ontwikkel sommige mense ’n fobie. En wanneer die gevreesde voorwerp – byvoorbeeld spinnekoppe of vliegtuie – bloot in die omgewing is, vertoon die liggaam ’n onmiddellike stresreaksie.
“Sommige mense het ’n fobie vir bome, vir die moontlikheid om nie selfoonontvangs te hê nie, selfs ’n vrees om aan die slaap te raak. Navorsing het egter uitgewys dat die grootste vrees nie vir gevare soos hysbakke of slange is nie, maar vir mense.
“Mense met ’n sosiale fobie is uitermate selfbewus en het ’n ontsettende vrees vir beoordeling en verwerping.”

Daar is ouers wat sê dat hulle nie vir hul kinders van hul eie vrese vertel nie en dat hulle die kroos dus só hierteen be-skerm. Maar hulle vergeet dat hul kinders hulle dophou …
Adelbert sê: “Ouers leer onbewustelik hul kinders om dieselfde dinge as hulle te vrees. Wanneer ’n ouer byvoorbeeld die wêreld as ’n vyandige plek beskou, kan die kind ook wantrouig word en sukkel om vriende te maak. Deur dit wat ons sê, en veral deur dit wat ons doen, kan ons ons kinders leer om mislukking te vrees voordat hulle self die kans gehad het om mislukking te beleef en self leer om dit te oorkom.”

Die vrugte van vrees
Om gereeld in ’n vreestoestand te verkeer is op alle vlakke ongesond, sê Adelbert. Dit het nie net ’n invloed op jou gees nie, maar ook op jou liggaam. Wanneer jy gedurig stres beleef, kry jou skildklier die boodskap dat daar die een of ander gevaar skuil en dat die sogenaamde stres­hormone soos kortisol en adrenalien afgeskei moet word om jou deur die vermeende noodgeval te help.
“As jy deur ’n kwaai hond gejaag word, help hierdie streshormone jou om oor ’n heining te spring – maar ’n oormaat hiervan is nadelig, veral vir kinders. Dit skakel die immuunstelsel af ten einde die liggaam vir gevaar voor te berei. Boonop skakel dit ook die produksie van groei­hormone af, wat die kind se ontwikkeling kan benadeel.”

Vrese kan beperkend wees, en dit verhoed dat jy die lewe voluit leef. En wanneer ouers hul eie vrese aan hul kinders oordra, word dit ’n remskoen wat hul selfvertroue knou en hul kreatiwiteit belemmer.
Of, selfs erger, dit kan hulle daarvan weerhou om kwesbaar genoeg te wees om werklike liefde te beleef en ware verbintenisse met ander aan te gaan.

Begin by jouself
“Die beste manier om te voorkom dat jy jou vrese aan jou kinders oordra, is deur jou eie vrese te konfronteer.”
So sê die Johannesburgse voorligtingsielkundige dr Ingrid Artus. “Aangesien ons gewoonlik onbewustelik op ons vrese reageer, moet ons aktief daarna streef om dit te verander en daadwerklik daaraan werk om die oorsprong van die vrees op te spoor.
“Jy moet goed nadink oor watter persoon of gebeurtenis dit veroorsaak het,” sê Ingrid. “Sommige vrese kan ontlont word deur dit te analiseer, deur vas te stel of die vrees rasioneel is al dan nie. Dink logies en vra jou af wat die werklike kans is dat die vermeende gevaar jou kan skade doen.”
As die vrees te groot is om self te hanteer, kan dit van groot waarde vir jou en jou kinders se lewenskwaliteit wees om ’n berader of ’n sielkundige te nader om julle deur die proses te begelei.

Praat só
Kinders wil veilig voel. Dit is een van hul grootste behoeftes. En hul ouers is by uitstek daardie veilige plek. Kinders wat weet dat hul ouers vir hulle lief is, ongeag wat gebeur, het die vermoë om baie gevare – van die werklike of die gewaande soort – te hanteer. Maak dus gereeld seker jou kinders weet dat jy hulle liefhet.
Hier speel ons woorde ’n deurslaggewende rol. Die manier waarop ons oor probleme en gevare praat. Uiteindelik verskaf dit die raamwerk waarbinne ons kinders weet hoe om op te tree en te reageer.
Daar is gesinne wat op die een of ander manier die gewoonte ontwikkel het om sterker bande rondom negatiewe gebeure te vorm. Hulle beskou die wêreld as ’n gevaarlike plek en vind dus hul samehorigheid in ’n knaende stryd teen al wat ’n vyand en gevaar is. Kinders wat in so ’n gesin grootword, is geneig om angstig te wees.
Daarenteen is die fokus op wat positief is ’n veel meer inspirerende benadering, en boonop opwindend. Dit het ook die vermoë om ’n gesin saam te snoer. In plaas daarvan om te kla: “Ag nee, die krag is al weer af! Wat word van die kos!” word daar eerder iets gesê soos: “Wie is lus vir toebroodjies by kerslig?”
Ouers behoort oor die algemeen te streef na ander maniere as angsgevulde woorde en histeriese uitroepe om hul kinders teen werklike gevare te waarsku. In plaas van: “Jy gaan jou nek breek as jy uit daardie boom val!” kan jy eerder sê: “Hou styf vas! Klim liewer op die laer takke.”  In plaas van: “Moenie daaraan vat nie, dit is vol kieme!” eerder: “Sjoe, jy speel lekker! Onthou net om jou hande ná die tyd te was.”

’n Geloofsperspektief
Wanneer werklike gevare dreig, is daar dikwels geen ander bron van hoop nie as ’n vaste vertroue in ’n betroubare God. Herinner jou kinders (en jouself) gereeld daaraan dat ons op Hom kan staatmaak. Dit maak nie saak wat gebeur nie – ons kan dit hanteer omdat die almagtige God by ons is.
’n Vreesgevulde lewe is in elk geval nie God se plan vir ons nie. Daar is meer as 300 Bybelverse wat God se kinders aanmoedig om nie bang te wees nie. Soek sy beloftes in die Woord. Skryf dit neer, plak dit teen die muur op en memoriseer dit. Ken Hom in elke situasie wat jou bang maak, en vertrou sy Gees om genesing te bring.
Kortom, gelowige: Moenie jou lewe laat beheer deur allerlei vrese oor wat moontlik kan gebeur of watter gevare daar mag wees nie. Gryp na die lewe, probeer nuwe dinge. Klim uit jou (on)gemaksone – en neem jou kind saam met jou.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail