Op ’n keer het ek ’n Franse fietsryer oor berge hoor praat. Hy het gesê: “In Frankryk sien jy die berg daar ver. Jy trap en jy trap – en dan is jy bo-op die berg.
“Maar in Suid-Afrika,” het hy met ’n amperse verontwaardige trek op sy gesig gesê, “sien jy die berg daar ver, en jy trap en jy trap – en dan is die berg steeds daar ver!”
Een gesellige aand sit ek saam met ’n vriendin en ’n hand vol vreemdelinge om ’n tafel. Met die intrapslag verpak ek elkeen so min of meer in ’n boksie: Hierdie een pas hiér, daardie een dáár.
Méér: Sonder dat ek dit met voorbedagte rade doen, begin ek die boksies verder kategoriseer: Dié wat knaend krities is, kry ’n swart merkie by. Soos diegene wat meer as twee glase wyn drink. Ook die geskeides aan die tafel kry ’n swart merkie.
Terwyl ek saam lag en gesels, is die beoordelaar in my hart fluks aan die werk: boksies aan die bou, swart pen in die hand.

Later loop ek die vreemdelinge weer raak, hulle word naderhand vriende. Iewers in ’n gesprek kom een se storie uit. Hy praat oor sy mislukte huwelik. “Ek het alles probeer om haar terug te wen,” vertel hy. “Ek het haar soveel kere gesmeek, maar sy wou nie …”
Ek hoor ook mettertyd die ander se stories, ek sien die stukke seer wat hulle saamdra en voor my uithaal en wys. Ek hoor van hul vreugdes.
In daardie tyd besef ek hoe onvanpas die boksies is, hoe ongevraagd die swart merkies.
Hoe het ek ooit kon dink dat die berge wat ek in my lewe geklim het, dieselfde soort berge is wat ander klim? Hoe kan ek my steiltes en hellings vergelyk met ander se klipperige pad, die rotse wat hul weg versper?
Ons klim tog nie dieselfde berge nie. Ons trotseer nie dieselfde hoogtes nie. Die onoorkombare klippe en onverwagte rotsstortings wat ek teëkom, is nie ’n ander s’n nie. Een se uitdagings is nie ’n ander een s’n nie. My berg is nie joune nie.

In die loop van die vriendskap herbesoek ek noodwendig die boksies en die swart merkies. Maar die beoordelaar in my hart vra: Maak reg en verkeerd nie meer saak nie? Is daar nie meer lig en donker nie? Het alles dan nou grys geword? God het tog vir ons beginsels en waardes uitgestippel waarvolgens ons moet leef …
Ek vra aan my hart: Wat van twyfel en swakheid en, ja, ongehoorsaamheid? Ek ken dit tog ook. Ek weet van feilbaarheid en vrot keuses, hoe verkeerd kies dikwels logieser en beslis aanlokliker lyk as reg kies. Ek weet dat die onderskeid tussen lig en donker nie altyd duidelik is nie. Dat die lewe vir gebrokenes nie aldag eenvoudig is nie.
En ek begin myself herinner aan die genade wat aan my bewys is. Aan hoeveel troos ek al ontvang het – vir pyn wat ek myself aangedoen het en vir teleurstellings wat ander oor my pad gebring het.
Net daar begin ek die boksies afbreek en die swart merkies wegvee. Van nou af, neem ek my voor, sal ek bloot saamstap. Dit is tog ’n voorreg om deel van ’n ander se lewensreis te mag wees, juis ook as jy op die tog oor berge en deur dale ’n medepelgrim teëkom wat jy nie ken nie.
Dalk kan ons ’n berg of twee saam klim. Een ding weet ek nou: Ek wil nooit weer boksies bou nie, en swart merkies is voor-taan ook taboe.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail