Té dikwels vind ons dat ons woorde voor God ontoereikend voel. Dit is asof ons geestelike reis gekortwiek word deur ons biddeloosheid. Daar is raad hiervoor, sê dié wat met dieselfde probleem worstel. “Kom,” sê hulle, “maak oop jou Bybel …”

DEUR BAREND VOS

Ons word groot met bid-woorde. Klein-klein leer ons groot bid-woorde aan, soos “asseblief” en “dankie” en “askies” en “amen”.
Spoedig kom daar nog groter bid-woorde by en ons leer sê “ons Vader wat in die hemel is” en “om Jesus ontwil” en “laat u wil geskied” en “nie uit verdienste nie, maar enkel en alleen uit genade”.
Later, iewers in die skool of by ’n jeugbediening tussen gelowige maats hoor ons van “halleluja!” en “prys die Heer!”
En dan word ons groot, en in ons gebede maak ons nou dankbaar gebruik van die gebed-woordeskat wat ons met verloop van jare aangeleer het. Ons leer ook die woorde waarmee ons ons gebede kan beskryf – lofprysing, danksegging, vergifnis vra, voorbidding.
Uiteindelik het ons kinders en ons leer hulle die kindergebedjies waarmee ons grootgeword het, en ons stel hulle voor aan die tafelgebede wat ons by ons ouers geleer het. Wanneer ons die Here dan hardop dank vir die kos op ons tafel, hoor ons ons pa of ma se stem van lank gelede. En wanneer ons kinders hul aandgebedjies opsê, hoor ons onsself.
’n Geseënde siklus, voorwaar! ’n Hoorbare bewys van God se trou van geslag tot geslag.

Maar iewers, iéwers, kom ons agter dat ons gebed-woorde min geword het. Té min. En o so doodgewoon … Ontoereikend, selfs. Nie voldoende om ons komplekse grootmensbehoeftes en ouer word-versugtinge te beskryf nie. Oor alles waarvoor ons vergifnis wil vra, swyg ons dan eerder.
Ons let nou selfs fyner op hoe ander mense bid – ons Bybelstudievriende, die Pinkstergangers, die voorganger by die erediens. En ons weet ons gebede steek sleg af teen hulle s’n.
Wat staan ons nou te doen? Koop ’n boek oor hoe om behoorlik te bid (daar is báie!)? Skryf in vir ’n gebedseminaar? Daar waar ’n gebed-geleerde met ’n silwer tong en goue woorde ons en almal om ons betower – en ons straks net nóg minderwaardiger oor ons gebrekkige, ja, bloedarmoedige gebedslewe laat voel?
En waarom voel dit juis nou asof ons, hoe harder ons probeer en hoe desperater ons na gepaste gebed-woorde en kragtiger gebed-uitdrukking soek, al hoe minder regkry wat ons wil regkry? Dat ons skamele woorde in al hul geyktheid en versletenheid iewers tussen aarde en hemel vassteek. Betekenisloos bly rondhang, tot ’n verleentheid vir die getuienis wat ons tog so graag vir ons God wil lewer.

Op jou bedkassie
Dan, op ’n goeie, goeie dag, kom iemand asof na jou toe gestuur (gestuur, ja, deur Iemand Anders) met dié voorstel: Moenie die wiel probeer herontwerp nie! Jy is nie die eerste mens wat met gebed sukkel nie. Die oplossing vir jou probleem is so ver soos jou bedkassie. Daar waar jou Bybel lê.
Daar sal jy sien dat daar mense was – eeue en eeue voor jou, medegelowiges wat met dieselfde soort vrae as jy gewors–tel het en wat dieselfde soort pyn as jy beleef het – wat hul gebede neergeskryf of laat neerskryf het. Hoekom bid jy nie met húlle woorde nie?
Die Bybelse psalmdigters s’n, byvoorbeeld. En wat van die Ou-Testamentiese profete s’n?
Kyk, jy ken én gebruik reeds Jesus se gebede – die kortes, soos “Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34), en “laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Luk 22:41); die langeres, soos “ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word …” (Matt 6:9-13); dalk ook grepe uit die heel langste een wat ons het, die een in Johannes 17, en dalk hou jy vas aan dié sin daaruit: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U my gestuur het” (Joh 17:21).
Ja, bid die Woord! sê jou weldoener. En voeg dalk by: “Dit het groot krag!”

Die krag van gebed
Dalk moet ons, gebedsukkelaars, net eers ons eie motiewe ondersoek. Ons afvra: Waarom bid ek? Waarom wil ek “beter” bid? Is ek terneergedruk omdat dit vir my voel dat daar nie genoegsaam op my gebede gereageer word nie? En is dit die rede waarom ek reken my gebed moet “kragtig” wees?
Laasgenoemde klink nogal verdag, om nie te sê gevaarlik nie. Ons onthou mos die destydse Baälpriesters se “kragtige” gebede. Daar het dit só gegaan: “Toe roep hulle nog harder … kerf hulle hulle stukkend … dat die bloed oor hulle loop. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan …” (1 Kon 18:28).
Boonop weet ons hoe Jesus die voornemende bidders teen onsuiwer motiewe gewaarsku het. Moenie soos die skynheiliges wees nie! het Hy gesê. Hulle wil gesien en gehoor en bewonder word. En dit is opperste heidene wat hulle “verbeel hulle … gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik” (Matt 6:5-7).
Nee, voor ’n Vader wat weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra, kan ons bloot in ons binnekamer kniel en ons hart leeg maak.
Want die krag van gebed lê by die Hoorder daarvan. Ál die krag rus by Hom wat ons klein gebedjies by die Gees aanvat – daardie Gees wat ons swakheid ken en daarom die begeertes en behoeftes en die danksegging en lofliedere van ons gees onderskep en dit voor ons Vader bring.
En, skryf Paulus, “God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges” (Rom 8:27).

Die Bybel help ons
God se Woord is inderdaad ’n allerbelangrike, nee, allernoodsaaklike Bron waaruit ons, die bidders, moet put. Dit is wel so dat die destydse leefwêreld onmeetlik ver van ons s’n verskil, en dat die destydse behoeftes nie naatloos met ons s’n in verband gebring kan word nie.
Maar gebed is tog ’n gesprek met ons Vader, en Hy-wat-reeds-weet is terdeë bewus van ons wat hier en nou met Hom praat se eiesoortige nood.
Om al hierdie redes is gebed met ’n oop Bybel ’n wonderlike genadegawe wat Hy ons gee. Hier kry ons ou-ou gebedswoorde wat ons gerus kan gebruik. Ons vind ons eie vrae daarin, die verwoording van ons hedendaagse vrese. Ons vreugdes is daar én die verrassing oor ’n God wat onvoorwaardelik vergewe. Ons nood, vind ons uit, is ’n óú nood.
En hier word ons herinner aan twyfelaars wat geloofshelde genoem word. Aan biddeloses wat hul gesig na die hemel gerig en bloot uitgeroep het: “Wees my, arme sondaar, genadig!”
Wanneer ons met ’n oop Bybel bid, leer ons opnuut én hopelik tot ’n bevryding van ons gebed-krampagtigheid: Ons sal altyd God se kragtelose kindertjies bly, en Hy altyd ons sterke Vader.
“Halleluja!” kan ons dan uitroep. “Prys die Heer! Amen.”

 

Gebed
(na aanleiding van Psalm 54)

Here, hoe werk gebed regtig? Is dit ’n gebed
as ek by U kom huil oor mense wat nie vir U ken nie
en daarom vir my, u kind, wil leed aandoen?
Bid ek as ek kinderlik knaend kla en verkla?

Here, hoe werk gebed? Is dit byvoorbeeld reg
as ek in my gebede vra dat die ellende wat ander mense my aangedoen het,
op húlle kop moet neerreën?
Wanneer ek vra: Gee vir boontjie sy loontjie?
Bid ek as ek so wild om wraak roep?

Here, is dit suiwer gebed as ek u lof besing –
en in dieselfde asem uitroep dat U,
juis omdat U so goed is, my teenstanders vernietig?
As ek U dank dat U hulle op hul plek gesit het?
Bid ek as ek my verlekker in ander se verleentheid?

Here, is dit gebed as ek my prestasies voor U kom opnoem?
’n Geskiedenis van my godvrugtigheid neerskryf
– boek hou van die goeie! –
en by U daaroor kom spog, waar almal kan hoor?
Bid ek as ek roem op die rykdom wat U my gee?

Ag, Here, ek weet wat die antwoord
op ál hierdie vrae is: Ek weet dat ek nie reg bid nie.
Trouens, ek weet nie hoe en wat ek behoort te bid nie.
Ek weet wel ek gedra my bra kinderagtig
wanneer ek my oë styf toeknyp en begin
om al babbelende voor U te kla, te eis, te spog.

Nou vra ek mooi, asseblief:
Moet my nie uitlag wanneer U na my lawwe
gebedjies luister nie. Moenie nou u kop wegdraai
en maak asof U my nie sien of hoor nie …
Want hiérdie keer sal ek kort wees, Here:

Ek is u kindjie klein.
Maak U my hartjie rein.

Uit: Die ewigheid in my hart: ’n Gebed vir elke dag uit die Psalms (Lux Verbi).

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail