Wanneer my selfoon biep en die skermpie wys Please Call Me, weet ek dit is die arm mense se noodsein. Hierdie keer is dit Engela met die drie kindertjies. Haar man het haar en haar oudste meisiekind aangerand, en ek het hulle gehelp om ’n kamer te vind sodat hulle van hom kon wegkom.

Hoe koud moet daardie kamertjie nie nou wees nie, hier in die hartjie van die ysige winter! Maar ek glimlag oor die noodsein, want net vanoggend het ek bokse vol truie en kinderklere by die Melville-poskantoor gaan afhaal. Dié geskenke kom van Karina Engelbrecht, ’n boervrou uit Upington se wêreld. Karina en haar suster, Monja, is LiG-lesers wat gereeld klere aan die Hillbrow-kindertjies stuur. Karina se e-posse vertel van die erge droogte en swaarkry op die plaas, maar hierdie boere-engel hou aan om te gee.

Daarom kan ek vandag vir Engela en haar bewende kinders warm klere gaan afgee. Maar Engela het nou ook iets anders op die hart: “Elise, jy het mos kanker gehad, nè? Kom tog gou saam met my na die kamertjie langsaan.”

Ek volg haar, onseker oor wat op my wag. Sy skuif die huurkamertjie langsaan se deur versigtig oop. Die vertrek is halfdonker. Ek sien ’n figuurtjie op ’n enkelmatras op die koue vloer. “Dit is Charmaine,” verduidelik Engela. “Sy is 23, sy het kanker. Sy het gister haar sesde chemo-sessie gehad.”

Die prentjie en die mededeling ontstel my, want ek weet hoe swak ’n mens ná chemoterapie voel – en ek het destyds ’n warm bed en ’n liefdevolle gesin gehad. Hierdie meisie lê stoksielalleen onder ’n dun kombersie op ’n Hillbrow-vloer.

Charmaine se kêrel het die pad gevat toe sy begin siek word, vertel Engela, en daar is nie juis familie wat omgee nie. Niemand besoek haar nie, en sy moet ver hospitaal toe loop om behandeling te ontvang.

Engela gaan sit by Charmaine en vryf oor haar hare. Toe loop ek maar buitentoe, dat hulle nie my trane sien nie. En net daar onthou ek van die baadjies op my kar se agterkussing. Twee groot bale met winterbaadjies wat ’n boer en sy vrou uit Reitz gestuur het.

Ek gaan trek die kankerlyer se dun armpies deur een van André en Wilma Meintjes se baadjies. Engela en haar kindertjies loer grootoog na die mooi baadjies – en kry elkeen een.

Later bring ek vir Charmaine ’n ge­hekelde kombers met dié woorde daarop: “Mag Jesus se liefde jou omvou soos ’n kombers. Van ’n navolger van Jesus.” Dit kom van Sonja de Waal, ’n boervrou van ’n plaas buite Aus in die suide van Namibië.

Ek vra Charmaine wat sy wil eet, want ek onthou wat die chemoterapie aan ’n mens se eetlus doen. “Hoendersop,” fluister sy. En ek gaan huis toe en maak régte, égte hoendersop van ’n plaashoender wat Elfriede Miller, LiG-leser, gebring het. Elfriede koop dagoud-kuikens en maak hulle met die hand groot op haar kleinhoewe buite Pretoria, en dan stuur sy hulle vir my. Ek kook genoeg sop vir Engela en die drie kleintjies ook.

So tussen die sopkokery deur, onthou ek hoe koud my voete gekry het terwyl ek chemoterapie ondergaan het. Gelukkig is daar nou ’n Ouma Beatrix in Upington; sy het vir my armes warm sokkies gebrei. Die laaste paar liggeel sokkies, dit weet ek nou, sal na Charmaine toe gaan.

Ek besef elke dag dat hierdie bladsy in LiG ’n wonderwerk is wat voete kry. En hande, en ’n hart. En juis in dié winter was dit boere-engele wat die wonderwerk ’n werklikheid laat word het.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail