My jong vriend
Die Here het kinders aan jou toevertrou. Jy is nog jonk. En ek sê vandag vir jou dat jou houding ten opsigte van jou vaderskap in ’n groot mate die res van jou lewe gaan bepaal.

Hoe wil jy hê moet hierdie houding wees?

Daar is ’n klompie moontlikhede wat jy kan oorweeg. Kyk maar – dalk werk iets hiervan vir jou. (Ter wille van ons gesprek gebruik ek deurgaans die vroulike enkelvoud wanneer ek na jou kind verwys.)

Beskou jou verhouding met jou kind as “uiters belangrik”. Die prestasie­gerigte samelewing waarin ons gedompel is, wil ons wysmaak dat prestasie in ons beroep die belangrikste ding in die wêreld is. Daar mág dus maar weinig energie vir jou kind oorbly, solank daar net genoeg geld vir haar is …

As jy hierdie drogredenasie nou glo, sal jy wel met verloop van jare agterkom dat dit vals is. Verhoudings is veel belangriker as enige prestasie, veral in die intieme kring waar jy leef en beweeg.

Kies om uit die staanspoor behoorlik by jou kind se grootmaak betrokke te wees. Voer haar, ruil haar doeke om, help haar om aan die slaap te raak. Speel met haar. Geniet haar! Beweeg jaar ná jaar saam met haar behoeftes. Die tradisionele opvatting dat dit alles eintlik jou vrou se werk is, is oudmodies. En dis nadelig vir jou en jou kind. Jou kind het albei haar ouers nodig om behoorlik te ontwikkel.

En pasop vir die uitgediende opvatting dat ’n seun vir sy pa belangriker as ’n dogter is.
Moenie toelaat dat daar subgroepe in jou gesin vorm nie. In jul geval vorm jou vrou en jul kind een groep, en jy staan buite.

 

Weet dat kommunikasie met jou kind uiters belangrik is. Luister na haar, probeer haar “vreemde” wêreld verstaan. Vra haar uit. Praat met haar, en doen dit uit jou hart uit. Sorg dat jy gereeld van aangesig tot aangesig met haar kommunikeer.

Wanneer daar konflik kom, leer haar deur jou voorbeeld hoe om konflik te hanteer. Leer haar die noodsaak daarvan dat mense wat van mekaar verskil mekaar sal probeer verstaan. Dat mense met onderlinge verskille verstandige ooreenkomste bereik deur wedersyds toegewings te maak.

Laat jul gesin ’n plek wees waar sy leer om te kommunikeer. Jou kind moet kan sien hoe jy en jou vrou met mekaar kuier. Help haar om, wanneer dit gepas is, deel van hierdie saamwees te word. Laat sy sien hoe julle konflik konstruktief hanteer.

Wanneer ’n egpaar ’n kind kry, kom die meeste van hulle agter dat hulle toe meer van mekaar verskil as wat hulle gedink het. Die wittebrood is dan heeltemal vergete, en nou begin hul werklike houding oor die lewe na vore kom.

Onderlinge verskille is normaal. Jou en jou vrou se onderskeie ouers het julle verskillend grootgemaak en julle het op verskillende maniere daarop gereageer. Geneties gesproke verskil julle ook van mekaar. Daarom voel julle nie altyd dieselfde oor hoeveel aandag ’n kind kan opeis nie, hoeveel om jul kind toe te laat en hoe om die kind te dissiplineer nie. Onder meer.

Hoe moet julle dié verskille hanteer?

Begin deur die verskille te probeer verstaan en dit dan te aanvaar. Praat daaroor. Jy sal geneig wees om te dink jou benadering is beter as jou vrou s’n, maar dis waarskynlik nie waar nie. Daar is verskillende benaderings, met elkeen wat eie voor- en nadele het.

Aanvaar dat julle elkeen ’n eie verhouding met jul kind het. Jul onderskeie verhoudings met haar mag verskil. Dis normaal dat ’n kind byvoorbeeld makliker aan een ouer gehoorsaam is en makliker met die ander een stry.

Jou vrou moet jou nie as “agent” gebruik om jul kind te dissiplineer nie. En sover moontlik moet jy jou vrou nie teen jul kind beskerm nie. Jou vrou moet haar eie verhouding met jul kind hanteer, en jy joune.
Hierdie verskille in opvatting en benadering moenie daartoe lei dat julle jul kind verwar nie. Jul kind moet byvoorbeeld duidelik weet wat jul huisreëls is en watter straf sy kan verwag wanneer sy dit oortree.
Daaroor moet julle almal met mekaar ooreenkom en nougeset daarby hou, anders is onrus in die huis jul voorland. As ouers openlik van mekaar verskil, nooi dit ’n kind uit om ongehoorsaam te wees en te veg. Baie kinders het ’n fyn aanvoeling hoe om ’n wig tussen hul ouers in te dryf.

As daar egter duidelike riglyne is en geen misverstand daaroor nie, kan die dissiplinering meestal “sag” en vriendelik wees.

In hierdie snelveranderende tye is dit nie maklik om te weet wat jy van jou kinders behoort te verwag en wat jy moet verbied nie. Sorg dat julle kundig is oor die omgewing waarin jul kind grootword, en wat die gebruik is by die kinders wat in dié omgewing woon, en in die vriendegroep én by die skool.

As jul idees hieroor onrealisties is, soek julle moeilikheid. Neem fyn waar en praat met ander ouers.
Moenie die “kampe” waarin julle jul kind beperk te klein maak nie, maar moet dan ook nie die “drade” rondom die kampe te laag maak nie.

Vir baie kinders word seks op ’n jong ouderdom belangrik – veel vroeër as wat hul ouers mag dink. Sorg dat jou kind betyds ingelig is. Doen dit op die natuurlikste manier wat julle kan. Dis immers ’n doodnormale deel van die lewe en julle kan ontspanne daaroor gesels.

Weet dat die manier waarop jou ouers jou grootgemaak het ’n groot invloed uitoefen op hoe jy sake aanpak. Jy is nie altyd self daarvan bewus nie en dit sal waarskynlik vir ander sigbaarder wees as vir jou. Hoe meer jy van hierdie invloed bewus kan word, hoe vryer sal jy wees om te kies in watter opsig jy jou ouers wil navolg en in watter nie.

Jy moet in elk geval weet dat die destydse opvattings en gebruike nie noodwendig meer vandag van pas is nie. Byvoorbeeld: In die meeste hedendaagse huwelike moet die man en die vrou aanvaar dat elkeen leiding neem op die gebied waarop hy of sy tuis is.

 

Moenie van jou kind ’n materialis maak nie. As julle min geld het, is dit makliker, en dit is dan ’n groot voordeel. Maar baie van ons het genoeg geld om ’n kind mee te bederf.

“Bederf” – soos kos wat sleg geraak het – is die regte woord om ’n kind te beskryf wat te veel geld van haar ouers kry.

Jesus het al gesê dat die een wat skatte op aarde bymekaar maak nié God kan dien nie, want hy dien Mammon (vgl Matt 6:19-24). Vandag is dié gevaar selfs groter, want daar is veel meer te koop. Pa’s werk dikwels te hard en kan te min van hulleself vir hul kinders gee – en dan probeer hulle daarvoor vergoed met dinge wat deur geld gekoop kan word.

Dis goed om genoeg geld te maak, maar ons leef tans in ’n samelewing waarin die oordrewe liefde vir die materiële ’n pes geword het. Probeer keer dat jou kind hierdie siekte opdoen, anders sal dit haar hele lewe skeeftrek.

Dan ontstaan die gevaar dat haar beroeps- en huwelikskeuse later beperk word deur die vraag na waar sy goed geld kan verdien.

Boonop word die meer kosbare kante van die lewe – die natuur, kultuur, kreatiwiteit, verhoudings en godsdiens – nou afgeskeep. Lei jou kind om die rykdom van die lewe in sulke dinge te ervaar.

 

Boere het dikwels ’n goeie aanvoeling vir die weergesteldheid op hul plaas. En hulle is nie weerkundiges nie.

So kan dit met jou en jou kind ook wees: Al is jy nie ’n sielkundige of een of ander soortgelyke kenner nie, kan jy jou kind goed genoeg ken en ’n fyn genoeg aanvoeling ontwikkel vir hoe dit in haar binneste gesteld is.

Wees ’n gevoelige waarnemer. Wees op die uitkyk vir wanneer sy probeer wegsteek dat sy probleme het. Vra jou af: Wat trek haar af? En wat help haar om volledig mens te wees?
Praat met jou vrou en die Here daaroor.

 

DEUR WILLEM NICOL

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail