“Gasvryheid” het ’n gonswoord geword. Allerlei ghoeroes smous wenke oor presies hoe jy jou vernuf in dié verband kan opknap. Maar wie het geweet dat die Bybel nog altyd dié Boek is wat ons die meeste daaroor leer?

Deur Rudi Swanepoel

 

Voordat ons vanuit ’n Christelike perspektief oor gasvryheid kan begin praat, moet ons eers ’n hele paar draaie in die Bybel gaan maak. Want daar ontdek ons talle verhale en situasies waar gulle gasvryheid ter sprake kom.

Dink maar aan Abraham en sy vrou Sara wat drie vreemdelinge in hul tente by Mamre ontvang – net om ’n rukkie later te ontdek dat God self by hulle kom kuier het.

En wat van die Emmausgangers wat hulle oor die vreemdeling by hulle ontferm deur hom te nooi om oor te bly? Wat dan beleef hoe hul oë aan die etenstafel oopgaan en hulle die opgestane Jesus sien?

Dit is in sulke kleurryke en bykans magiese verhale wat ons ’n soort definisie van Christelike gasvryheid teëkom. En dit herinner Bybellesers aan die woorde in Hebreërs 13:2: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense, sonder dat hulle dit geweet het, engele (letterlik ‘boodskappers’) as gaste gehuisves.”

Christelike gasvryheid beteken om vreemdelinge te verwelkom. Om gunste en gawes wat andersins vir vriende en familie gereserveer sou wees, aan vreemdelinge te bied.

 Die nagmaaltafel 

Vir gelowiges is die nagmaaltafel by uitstek die plek waar gasvryheid gesien en gewys word. Dit is dié plek waar vreemdelinge verwelkom word.

Die tekens van brood en wyn herinner ons aan die God wat ons nader nooi, wat ons in sy wêreld in nooi. Ja, juis ons wat vreemdelinge vir Hom geword het toe ons (reeds saam met Adam en Eva) gekies het om ongehoorsaam te wees.

Wanneer Jesus die brood aan die nagmaaltafel breek, herinner Hy sy volgelinge aan sy teenwoordigheid by hulle. Hy vermaan hulle om Hom nie te vergeet nie. Hy praat van ’n nuwe verbond waardeur God en mens vir tyd en ewigheid met mekaar versoen is.

Dit is daar waar Hy ook vir hulle sê: Julle gaan My in mekaar ontmoet. Wanneer julle weer saam is en weer saam eet, gaan Ek by julle wees. En kyk goed na mekaar – en dan sal julle My raaksien.

Die wonder van die nagmaaltafel is dat dit ’n plek van transformasie is. Ons kom daar as vreemdelinge aan, maar ons vertrek as God se vriende. Aanvanklik is ons die gaste, maar dan word ons weggestuur om, as gasheer en gasvrou, ander mense in God se nuwe wêreld te verwelkom.

Wanneer ons Christelike gasvryheid aan ander betoon, neem ons deel aan God se transformerende werk op aarde.

 Die risiko

Wanneer die Here ons na sy tafel toe nooi, weet Hy nie hoe ons gaan reageer nie. Ons kán met graagte aansluit, volledig oortuig. Of huiwerig kom aansit. Of omdraai en wegloop.

Ons kan vriendelik wees aan sy tafel, of omgekrap, en selfs kwaad.

Dit is die risiko wat geloop word wanneer iemand dit waag om gasvry te wees.

Selfs wanneer ons dit waag om God in ons lewe te verwelkom, gaan ons ’n waagstuk aan. Want dan verwelkom ons nie net dit wat vir ons bekend is in God nie, maar ook dit wat onbekend is, dit wat ons nie weet nie. En laasgenoemde sluit in: die moontlikheid van nuwe verhoudings, nuwe keuses, nuwe gebeure – ook dié wat ons ongemaklik of onseker kan laat voel.

Ons verwelkom selfs die moeilike opdrag om nie net ons vriende lief te hê nie, maar ook ons vyande …

Al hierdie risiko’s bied egter ook geleenthede om die waardes en die lewegewende ruimte van God se koninkryk sigbaar te maak.

Maar dit vra dapperheid, en geloof. Christelike gasvryheid is nie vir sissies nie!

 Die kos

In die talle verhale in die Bybel waar gasvryheid ter sprake kom, speel kos ’n beduidende rol. Byvoorbeeld: Wanneer die drie vreemdelinge by Mamre aankom, sê Abraham vir Sara om ’n gróót klomp brood te bak – baie meer as wat vyf mense in ’n week sal kan opeet.

Toe Jesus Hom nog ’n keer ná sy opstanding, hierdie keer op die strand, aan sy dissipels bekend maak, vra Hy vis om te eet.

En by ons nagmaaltafel is daar brood en wyn.

Jy kan dus vra: Is gasvryheid moontlik … as daar nie kos is nie?

En dan kom die volgende, logiese vraag: Watter rol speel die bevrediging van fisiese behoeftes (honger) wanneer ons ’n vreemdeling verwelkom?

Só word ons ook uitgedaag om ’n slag krities na te dink oor ons kerke en geloofsgemeenskappe se uitreikprojekte.

En hier is ’n belangrike kwessie: As die Bybelse verhale ons vertel hoe die Here elke keer by die ete teenwoordig was, moet ons onsself afvra waar óns plek by die ete is. Word ons nie ook genooi, geroep, om saam met die vreemdeling te eet nie?

Wat gebeur by ons goedbedoelde sopkombuise? Ons verskaf die ete, ja, maar ons waag dit nie om aan dieselfde tafel as ons gaste te gaan aansit nie. Is dit soos dit moet wees? Is dit soos Jesus ons leer?

 Die ander …

Christelike gasvryheid het nóg ’n skerp punt: die teenwoordigheid of openbaring van God in die ander.

Die Bybelverhale vertel ons dat daar wonderwerke om ’n tafel gebeur. Dat wanneer mense mekaar ontvang en verwelkom en stories uitruil, daar iets magies plaasvind – iets wat ons as ’n “God-moment” kan beskryf.

Dan onthou jy sommer ook Jesus se woorde in Matteus 25, waar Hy die onlosmaaklike band tussen weldade aan jou medemens en weldade aan God verduidelik. Hy vertel hoe daar by die laaste oordeel onderskei gaan word tussen dié wat reg gedoen het en dié wat verkeerd gedoen het.

Volgens Hom beteken ’n weldaad aan jou naaste sonder meer ’n weldaad aan die Here; wanneer jy jou naaste voed, gee jy kos aan niemand minder nie as die Here self.

Dit is dan ook nie vreemd nie dat Moeder Theresa van Kalkutta soveel klem gelê het op God-in-jou-naaste: Sy het vertel hoe sy Jesus raakgesien het in die oë van dié groot Indiese stad se noodlydendes.

Sy was daarvan oortuig dat God teenwoordig is in die vreemdeling by haar. Dat haar eenvoudige versorgingswerk eintlik die heiligste werk op aarde is.

 Die alledaagse

Dit kan dalk uit bogenoemde klink asof Christelike gasvryheid net by sommige geleenthede en slegs teenoor vreemdelinge betoon behoort te word.

Dit is nie waar nie. Ons weet mos dat die opdrag om lief te hê en om veilige ruimtes vir ander te skep by ons “naaste” naaste begin. By hulle saam met wie ons elke dag leef. En dit is juis in hierdie ruimtes waar ons baie maklik in die sleur van daaglikse eise kan verval.

Dink maar aan kosmaak. Om elke dag vir jou huisgenote kos voor te sit, kan so maklik ’n moeisame pligpleging word. Iets wat teen wil en dank gedoen en so gou moontlik afgehandel moet word.

Dalk help die herwaardering van Bybelse gasvryheid ons hier. Herinner hierdie gasvryheid ons dan nie juis aan die teenwoordigheid van God in elke faset van ons lewe nie?

En wanneer ons God se eie onvoorwaardelike gasvryheid ervaar het, maak dit ons hart en ons kop oop, sodat ons ander mense op dieselfde manier kan verwelkom.

Met die verwagting daarby dat ek God self sal ontmoet. Daar, hiér, by my tafel.

  • As jy meer inligting wil hê oor ’n geloofsgemeenskap wat ’n radikale soort gasvryheid bedryf, besoek gerus www.echoyouth.co.za Hier lees jy onder meer oor ds Jaco Strydom se werk by Echo Youth Development.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail