Daar is maar sowat 50 van hulle, en ons ken nie eens almal se name nie. Net 11 kry ’n spreekbeurt. Die vroue in die Bybel. Maar in elkeen se verhaal is daar ’n God …

 

Deur Ronell Bezuidenhout

Daar is regtig indrukwekkende vroue in die Bybel – dink nou maar aan Debora die rigter en Ester die koningin. Gerekende leiers. Daar was vroue met ’n buitengewone geloof – Mirjam, Moses se suster, en Jesus se ma, Maria.

Daar was ryk vroue wat ’n groot invloed op die kerk van die eerste eeu gehad het, en arm weduwees wat uit hul laaste bietjie meel ’n profeet wou versorg.

Natuurlik was daar ook vroue oor wie ’n mens jou wenkbroue wil lig – wie onthou vir Tamar wat haar soos ’n prostituut gedra het (Gen 38), en die Samaritaanse vrou by die put (Joh 4)?

O, en wat van daardie bose vroue – Isebel (1 Kon 19) en die dansende dogter van Herodias (Matt 14)?

Daar is, as jy dan moet kies, uiteindelik drie vroue in die Bybel wie se onderskeie stories almal diep tref  – ook omdat die Here se ingrype daar so vertroostend is.

 

Die een met die oë

’n Mens moet haar sekerlik jammer gekry – Lea. Hoe moes dit gevoel het om altyd in jou mooi sussie se skadu te leef? Die een wat beskryf word as “mooi gebou”, as “beeldskoon”? (kyk by Gen 29-30).

Boonop moes sy tevrede wees om deur die Bybelskrywer as iemand met (darem!) sagte oë beskryf te word. (Eintlik, letterlik, “dowwe” oë …)

Dit is daarom seker vanselfsprekend dat Jakob op jou sussie verlief sou raak. Maar hoe kon jy weet dat dit uiteindelik jý sou wees wat in sy bed beland, hy wat jou nie wou hê nie? Die skrywer sê dit sommer pront: “Hy (Jakob) het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea …” (Gen 29:30).

Lea se slinkse pa het haar as ’n blote objek gebruik om sy doel te bereik: Sy word weggegee aan ’n man wat haar nie liefhet nie.

Ag, en sy het só hard probeer om Jakob se guns te wen …

Tog eindig hierdie bitter storie op ’n soeter noot. Teen die einde van sy lewe laat Jakob sy seuns belowe om hom in die Makpelagrot te begrawe, daar waar sy voormense lê, “daar het ek vir Lea begrawe”.

Hy kies dus tog vir haar met die dowwe oë, al is dit ná haar dood.

Hierdie verhaal leer ons onder meer dat God niks miskyk nie. Al werk dinge nie uit soos jy dit sou wou hê nie, mag jy maar onthou dat die Here dit weet. Dat God ’n God vol deernis is. Die Een wat nie wegkyk van Lea se pyn nie. Hoor dan: “Toe die Here sien dat Jakob nie vir Lea liefhet nie, het die Here vir haar kinders gegee” (29:31).

Die minder mooi Lea, só sou dit later blyk (kyk by Gen 29:35; Matt 1:2), word toe boonop ’n aartsmoeder van Jesus van Nasaret. Wie sou dit kon dink!

 

Die een met die lyf

Dan is daar die vrou – ’n skoonheid, niks minder nie – wat jy straks ook moet jammer kry. Dalk juis omdat sy so mooi was, en haar lyf aanvanklik bloot ’n objek was wat vir die koning en sy luste beskikbaar moes wees.

In 2 Samuel 11 word die tragiese verhaal vertel van hoe die koning haar afloer terwyl sy bad. En sy het nie ’n keuse gehad nie: Toe die koning haar ontbied, moes sy na hom toe gaan. Al was sy getroud, en al was haar man op daardie stadium op die slagveld besig om daardie einste koning se oorloë vir hom te veg.

Uit die verhaal blyk dit hoe lief Batseba, dié vrou, haar man Urija gehad het (2 Sam 11:26). Maar koning Dawid wag net op die regte oomblik en ontbied haar weer na sy paleis. Hierdie keer om te bly.

Dié pynlike verhaal van ’n vrou se smart en ’n magtige koning se opperste selfsug kry egter ’n nuwe betekenis wanneer God die seer omkeer. Ná haar (en Dawid) se eerste kind se dood, word Salomo vir hulle gebore.

Vir hierdie vrou wat in die destydse kultuur nie ’n sê oor haar lyf gehad het nie, kom daar dié troos. En latere Bybellesers sou ook haar naam in Jesus se geslagsregister opmerk (kyk by Matt 1:6). Ook dit word ’n bewys dat God se mededoë geen grense het nie. God is die God wat nie opgee met die ellendige stories wat sy kinders skryf nie.

 

Die een wat die reëls gebreek het

Marta was die suster van Maria en Lasarus, en dalk die oudste van dié drie. Dit is vir haar wat Jesus in Lukas 10:41 vermaan het met: “Marta, Marta …”

Hoekom sou Hy dit gedoen het? Gasvryheid was immers een van ’n goeie Jood se vernaamste eienskappe. En nou los Marta se suster die veeleisende werk as gasvrou vir haar!  Wie moet al die mense bedien?

Toe praat sy haar suster aan, die een wat so lekker by Jesus se voete sit en na Hom luister. So asof daar niks beters te doen was nie …

En nou vermaan Jesus háár, van almal. “Marta, Marta …” sê Hy vir haar.

Die Evangelieskrywer Johannes beskryf Marta as ’n vurige vrou, dalk ook effens kort van draad (Joh 11; Kyk ook by Lukas 10).

Dit blyk egter dat Marta se ontsteltenis nie regtig oor Maria se gebrek aan hulpvaardigheid gaan nie. Laasgenoemde was maar Marta se voorwendsel om Maria weg te kry van Jesus se voete af. Dit was net nie gepas dat ’n vrou haar daar bevind nie.

Ja, Marta was bekommerd oor haar suster se reputasie. ’n Vrou mag nie deur ’n rabbi geleer word nie. ’n Vrou moes haar plek ken. Sy kon nie in ’n geselskap sit waar daar ’n klomp mans teenwoordig was nie. Daarom wou Marta haar daar wegkry – wat sou die mense van Betanië van hulle dink!

Wat sal die mense sê?

In daardie kultuur pas Maria nie by Jesus se voete nie, en Marta was dit met die status quo eens.

Dit is hierdie kultuur wat Lukas probeer afbreek wanneer hy sy verhaal oor Jesus en Marta en Maria skryf. Daar ís ’n plek vir vroue by Jesus, wil hy sê. Moet dus nie bekommerd wees oor wat die mense gaan sê nie, Marta, Marta …

Mense se selfgeskepte reëls hou ander mense van Jesus af weg, vertel Lukas. Breek daardie reëls!

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail