Die gewilde Corlea het reeds as klein dogtertjie oor ’n sangloopbaan gedroom. Haar ouers het hierdie droom gedeel en was uit die staanspoor vasbeslote om hul dogter se Godgegewe talent te help ontwikkel.

Corlea Botha (28) was maar agt jaar oud toe sy haar buiging in die Staatsteater in Pretoria gemaak het – in die opera La Bohème, as lid van die destydse TRUK se kinderkoor.
Na afloop van die speelvak het sy die rol van Gretl gesing in nóg ’n TRUK-produksie, The Sound of Music. Vir die grootste deel van 1995 het haar ma, Mesadi, haar dus elke middag by die skool opgelaai voordat die twee die pad uit Delmas na Pretoria aangepak het.

Corlea onthou: “Ander kinders se ma’s het hulle agtermiddae by die Staatsteater afgelaai en hulle die aand ná die vertoning weer kom haal; mý ma was deurentyd in die gebou, ingeval ek iets nodig het. Maar sy het nooit ingemeng nie.”

Dit was ook Mesadi (nou 55) wat haar dogtertjie, vandat sy vyf jaar oud was, twee maal per week Boksburg toe geneem het vir sanglesse.
Sy en Corlea se pa, Koos, het toe die kind maar drie was agtergekom dat sy uitsonderlik talentvol is. Mesadi vertel: “Sy het eendag spontaan in die motor begin saamsing aan ’n Don Williams-liedjie. Sy was absoluut nootvas, en het boonop ál die woorde geken!”

Ná haar TRUK-ervaring was Corlea vuur en vlam om ’n operasangeres te word – en die jaar daarna was sy op nege die jongste deelnemer aan die Reik na die Sterre-kompetisie op kykNET. Tussendeur was daar talle sangkompetisies, kunswedstryde en optredes.
“Ek wou nooit iets anders doen as sing nie,” vertel Corlea. “Skool was net ’n beslommernis!”
Maar ten spyte van haar sangloopbaan het sy goed presteer op skool. “Ek onthou hoe my graad 2-juffrou in die bedrywige TRUK-tye vir my gesê het ek mag maar ’n bietjie slaap wanneer sy vir die ander kinders stories vertel. Maar natuurlik was ek te nuuskierig en wou niks mis nie!”
Van graad agt af het Corlea tuisonderrig ontvang, en reeds op 15 het sy matriek geslaag. “Toe kon ek net sing!”

“My ma, my veilige plek”
Corlea se ouers het alles moontlik gedoen om haar te help om haar talent te ontwikkel. Maar, sê sy, hulle het nooit enige druk op haar geplaas nie. “Dit was my droom en hulle het my daarin ondersteun. So eenvoudig soos dit.
“My ma was net altyd daar – my veilige plek. Selfs toe ek nog klein was, het sy my by enige besluite oor my sang betrek.”
In 2002 is haar ouers geskei, maar hulle is tot vandag toe goeie vriende.
Corlea vertel: “My pa speel ’n onmisbare rol in my lewe. Veral in die eerste jaar van my solo-loopbaan was hy my saving grace, en na al die jare woon hy steeds my vertonings by wanneer hy kan. En hy doen moeite daarmee! Hy sal maklik na ’n ander provinsie ry net om een vertoning by te woon.
“Hy is in 2014 weer getroud en ek is baie lief vir sy nuwe vrou, tannie Anne. Ek en my ma slaap soms selfs by hulle oor, en vier ook Kersfees saam. Ek is baie dankbaar oor die goeie verhouding tussen my ouers, ten spyte van die hartseer.”

“Ons is ’n gedugte span”
Moenie dink al die roem het na Corlea se kop toe gegaan nie. Tydens ons onderhoud is sy warm en hartlik, onopgesmuk – allermins dit wat jy van ’n diva sou verwag.

Dit is ook opvallend dat sy en haar ma baie na aan mekaar is. Albei het ’n heerlike humorsin, en tydens ons onderhoud word daar lekker oor en weer geskerts. Mesadi sê: “Eintlik het ons uiteenlopende geaardhede, en elkeen het ’n sterk persoonlikheid.”

Is dit nie juis daarom vir hulle moeilik om saam te woon en te werk nie?

“Nee,” sê Corlea, “dit is ’n baie praktiese reëling, want ons is so baie van die huis af weg dat dit sin maak om ’n huis te deel. My ma is ook nie ’n ‘momager’ nie. Sy skei haar ma-wees en haar werk as bestuurder van mekaar. Ek dink sy is juis ’n goeie bestuurder omdat sy van die begin af by my loopbaan betrokke was, en omdat sy weet hoe hard ek gewerk het om hier te kom. Integriteit is deel van my ma se persoonlikheid, en dit onderskei haar van baie ander mense in hierdie bedryf. Daar is baie haaie, hoor!”

Mesadi sê: “Ek kon baie by Corlea leer – oor die musiekbedryf, oor hoe om geduldig te wees. As sy ’n moeilike besluit moet neem, dink sy eers deeglik daaroor. Ek wil sommer dadelik besluit!”

Corlea lag as sy vertel hoe haar geneigdheid om dinge tot op die nippertjie uit te stel haar ma frustreer. “Dit maak haar gek! Sy is báie georganiseerd.”

Ma en dogter verstaan mekaar instinktief. Dit help ook dat albei gelowig is. Hieroor sê Corlea: “Ek glo dat God ons albei die gawe van onderskeiding gegee het, elkeen op ’n ander manier. My ma kan mense baie goed opsom, en sy het my al uit baie slegte situasies gered. Ons is ’n gedugte span wat mekaar goed aanvul.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail