Dis nou reeds meer as drie weke dat ons elke aand dieselfde storie vir hom moet lees. Ek het al Noag en Jona probeer, en Jesus wat die storm stil gemaak het, maar hy wil niks weet nie. Die enigste twee Bybelkarakters wat in hierdie tyd ons seuntjie se verbeelding aangryp, is Dawid en Goliat.

DEUR FOURIE ROSSOUW

Die storie begin met Dawid wat sy pa se skape oppas en die groot, honger leeu met sy slingervel verjaag. (Nou word daar vir ’n vale gebrul en geblêr.)

Daarna verskyn Goliat in al sy glorie – met skild, harnas, helm en swaard. My seuntjie is beslis meer opgewonde oor Goliat se wapenrusting as oor Dawid se slingervel. Laasgenoemde is ook moeilik om te verduidelik, want in die Kinderbybel se prentjie lyk die slingervel meer soos een van ons seun se onderbroeke as na ’n soort kettie.

Hy kan wel reeds mooi tot by vyf tel, en dit hou hom ’n rukkie op Dawid se rivierklippies gefokus.

Dis egter Goliat se pers skild en blink swaard wat die meeste aandag geniet. Oor en oor vind die klein wysvingertjie sy weg tot by die groot swaard, en dan kom daar ’n vonkel in die oog wat verklap dat hy reeds ’n geskenklysie vir sy verjaardag het.

En nadat die noukeurige inspeksie van Goliat se wapenrusting afgehandel is, blaai ons om. “Kadoef!” sê hy elke keer wanneer die prentjie wys hoe Goliat op sy rug lê.

Hy het my nog nie gevra waarom Dawid teen Goliat moes veg nie, maar ek weet dit gaan kom. Ek probeer die storie vertel sonder om te veel klem te lê op die problematiek van geweld, oorlog en Goliat se onvermydelike dood. Ek is veral dankbaar dat ons Kinderbybel nie vermeld dat Dawid Goliat se kop met sy eie swaard afgekap het nie.

“Eina, Pappa!” sê hy dikwels, vol deernis, wanneer hy Goliat op die naat van sy rug sien lê. Later in sy lewe sal dit vir hom makliker wees om met Dawid te identifiseer. Want om te groei, is om voor reuse te staan met min verweer. Hy sal begin droom oor die koning se wapenrusting, net om te ontdek dat dit hom nie pas nie.

Hy sal die onskatbare waarde van die riviere in sy lewe leer ken. Hy sal soos gladde rivierklippies gevorm word deur die krag van nederige, alledaagse gehoorsaamheid. Hy sal nog leer dat dit beter is om op God te vertrou as op die sigbare merkers van mag en sukses.

Tans is Goliat sy gunsteling. Want vir hom is groter beter, van sy melkie tot by sy Bybelkarakters. Later, as Dawid uiteindelik koning word en met sy eie swaard en skild oorlog voer, sal dié koning moontlik vir Goliat onttroon. Maar terwyl hy nog skape oppas en met rivierklippies speel, sal die leeu en die reus die hoofrolle kry.

Soms vermeng my seuntjie sy karakters, en dan noem hy Goliat “Groot Jesus”. Ek probeer verduidelik dat Jesus nie dieselfde as Goliat is nie. Jesus maak dalk die storms stil, maar Hy is nie ’n stormram nie. Terwyl ander van die vinnige hasepad hou, kies Jesus die smalle weg. Jesus staan wel voor ’n groot oes, maar om Hom is die arbeiders min. Jesus het nie ’n blink swaard nie en Hy ry nie op ’n groot perd nie. Goliat is die antichris, die teenpool van die Jesusweg.

Tog roer daar iets in hierdie pa se hart elke keer wanneer sy seuntjie se sagte hartjie breek as hy sien hoe Goliat op sy rug val, want êrens langs die pad gaan hy vergeet dat nóg die swaard nóg die slingervel die weg van Christus is.

Lees nog artikels oor geloof.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail