God gebruik woorde en sinne van stukkende mense om ander mense heel te maak. My verhaal begin as 10-jarige op ʼn plaashek toe ek moes hoor my ma en pa het mekaar nie meer lief nie.

Petra Snyman

Elke mens het ’n storie om te vertel, maar die waarde van jou storie is nie net om jou swaarkry te deel  nie, maar God se grootheid te prys. Dan word jou storie nie net ’n verhaal nie, maar ’n getuienis, ’n  lewensveranderende ingryping. Ja, Hy gebruik woorde en sinne van stukkende mense om ander mense heel te maak.

My verhaal het begin toe ek en my ma op die draadhek van my pa se klein plasie gesit en gesels het. Die Vrystaatste laatmiddagson het vir oulaas, byna eerbiedig  gegroet. Mamma se liggaamstaal was ’n stille getuienis van wat ek reeds vermoed het. Die grootste nagmerrie, wat ’n kind ooit kon beleef, het hardop weerklink in my eie woorde van wanhoop: “My ouers het mekaar nie meer liefgehad nie!” Die gevolg was dat my pa, ’n NG predikant, en my ma, ’n onderwyseres, se huwelik verbrokkel het toe ek 10 jaar oud was. Vyf kinders is alleen by my pa agtergelaat. Ons was onseker of ons moet bly wees oor die konflik en rusie wat verby was en of ons moes treur oor ’n moeder wat weg is en ons nie geweet het of ons haar weer sou sien nie.

Petra Snyman se verhaal begin as 10-jarige dogtertjie wat moes hoor haar ma en pa het mekaar nie meer lief nie. Vandag glo sy stukkende mense, soos sy was, se verhaal kan ander heelmaak. Foto verskaf

Om en by een jaar nadat my ma weg is, het ek en my sustertjie vir die eerste keer in Johannesburg vir haar gaan kuier. Sy het ons ingewag voor ’n klein, voorstedelike huisie met twee pienk piepklein bondeltjies in haar arms. Die laaste twee was toe weer ’n tweeling net soos die eerste twee. In die klein tuintjie het ’n pienk blommetjie skamerig gegroet.

Mamma was baie bly om ons te sien. Sy het nadergekom. Haar bene was nog effe swak en wankelrig van die impak van die bevalling. Daardie nag het ek gedroom dat my ma en pa nog saam is en dat sy in die kamer inkom en my ’n nagsoentjie en ’n drukkie gee soos wat sy altyd gemaak het. Maar in my deurmekaar gemoed het ek nie in daardie stadium geweet dat die diaspora van my gebroke familie nog die hele land sou volswerf nie.

Deur die muur van die klein huisie het ek gehoor hoe die piepklein bondeltjies heelnag huil en van harde woorde wat tussen my ma en stiefpa val. Die rusie het hande uitgeruk en ons moes inderhaas teruggeneem word na my pa op die plasie naby Bloemfontein. Ons kon nie weer gaan kuier nie en en my pragtige, lieflike, sagte mamma het nou my telefoon-mamma geword, maar ek het nooit opgehou om te droom nie. Want solank ek gedroom het, het ek gedink dat ek nie die pyn sou voel nie, die pyn van ’n verlies van ’n ma nie.

Vir 12 jaar het ek soggens gekniel en gebid en elke keer was die antwoord dieselfde. Jesaja 41:10: “Ek versterk jou ek help jou ek hou jou vas.”

My gebede is beloon toe ek in matriek as hoofdogter van my skool gekies is. Ek was nou reg vir die toekoms en het met ’n studielening aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer en my as maatskaplike werker bekwaam, op die studenteraad gedien, my meestersgraad voltooi.

In my studentejare het my telefoonmamma teruggekom Bloemfontein toe. En toe ek na afloop van my meestersgraad kla dat ek eensaam is, moedig sy my aan om ʼn Landbouweekblad te koop en in te skryf vir die Opsitkers. Só ontmoet ek (“Soekie van Bloemfontein”) vir “Kreef van Pretoria”. Ses maande later is ek en Koos met sy poeierblou Volvo getroud. Dit was die eerste lewensingrypende verandering wat ek gehad het.

Met ’n wankelrige fondasie, ontnugter en onkundig oor die eise van die lewe en ’n klein dogtertjie-soeke na sekuriteit en geluk, het my lewe byna in wanorde verval. Ek moes leer glo dat ek genoeg is en dat iemand my kan liefhê. Ek het ook nooit besef dat wonde toegroei maar dat letsels steeds ’n skaafplek bly nie.

LEES OOK: ‘Ek loof en prys U in my storm’

Ek wou nie meer oor my skouer loer en omkyk na die skaduwee van verbrokkeling wat my volg nie. Die vloek van ontrou wat al drie geslagte lank my familie volg, moes hier stop. Want ek wou my kinders gee wat ek nooit gehad het nie – ’n gelukkige gesin.

Ek het opgestaan. Dit was in die opstaan dat ek die volle impak van volharding leerken het. Dit was in die opstaan dat ek die familiejuk van verbrokkeling gebreek het. Dit was in die opstaan dat ek geleer het om vir 35 jaar getrou te bly.

Beide my ma en my pa is intussen oorlede. My pa was ’n groot Godsman. Hy het vir my die grondslag gelê om lief te word vir die Woord. In die laat vyftigerjare het hy sy doktorsgraad in Teologie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam gaan studeer. Hoewel ek nie weet of hy dit klaargemaak het nie.

Toe ek my boekrak regpak kom ek af op my pa se preke-boeke. Terwyl ek in hierdie boeke blaai en lees krimp my hart ineen en ek kry skaam dat ek nie my pa gesien het as iemand met talente nie, maar slegs behoeftes. Ons verhouding kon soveel ryker gewees het.

LEES OOK: ‘Nooit het ek gedink dit was ons laaste groet nie’

Ons moes saam soveel dinge doen om te oorleef dat ek nie tyd gehad het om met hom oor sy ryke versameling boeke of boodskappe te praat nie. Ons kon soveel meer gegroei het.

Dikwels sien ons slegs die probleem in die mens, maar nie die mens met potensiaal nie.

Mag die Here ons help om ons denke te vernuwe dat ons met nuwe oë na mense sal kyk, verby die uiterlike omstandighede en die hart van mense raak sal sien. Dan sal ons weet wat die ware nalatenskap van mense is. Dat my pa alles opgeoffer het en sy droom prysgegee het om vyf kinders alleen deur te sien tot volwassenheid. Ek salueer hom vir die keuse wat hy gemaak het. Want dit is wat Jesus sou gedoen het!

Die laaste keer toe ek my ma gesien het, het sy in die ouetehuis op die bed gesit met pienk, wollerige pantoffels aan. Sy het my naam oor en oor geprewel met bewende klein lippies. Haar oë het gevonkel. Ek het die voorreg gehad om haar na Jesus toe te lei: oor die telefoon.

Ek besef vandag dat toe my ma op die draadhekkie gesit het, wens ek sy het geweet dat liefde nie ’n gevoel is nie, maar ’n wilsbesluit. Erosliefde het sy plek maar Agapé, die liefde wat dien, die liefde wat ander hoër ag, dít is die liefde wat bly staan. Dít is die liefde wat lewe spreek, ongeag hoe jy voel: “Jy maak my so gelukkig.” Dan eers volg die gevoel. Jare later, nadat ek getroud is, het satan op my skouer gesit en vir my gesê: Jy het nie wat nodig is om jou gesin bymekaar te hou nie, maar God se Woord sê vir my: My krag kom tot volle werking wanneer jy swak is.

Ons moet weet wie ons in Christus is, ons identiteit moet in Hom vasstaan. Dan kan wat satan ontwerp het om ons te laat misluk, juis dít word wat Jesus gebruik om ons te laat wen!

Deel jou getuienis met iemand wat genesing nodig het. (Slegs wanneer die wond nie meer ’n skaafplek is nie.)  Maar belangriker nog, kom ons herdenk die Verlossingsverhaal, waar God sy Enigste Seun gegee het sodat ons vir altyd heel kan word. Skoongewas en met ’n toekomsverwagting van die Ewige Lewe.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail