Het jy geweet dat daar ’n “goue tydperk” in jou kind se lewe is wat deurslaggewend vir sy of haar toekoms is? Ons 1 000 dae-gids help jou om dié tyd op die beste manier te benut.

Deur Conette le Roux

Wêreldwye navorsing het in die afgelope dekade uitgewys hoe waardevol vroeë kinderontwikkeling is. En veral ook hoeveel voordele dit vir ’n land en sy bevolking inhou. Dit het ’n reuse-impak op die nasionale gesondheid, die opvoeding en die ekonomie en die algemene maatskaplike situasie. Dit spreek dus ook vanself dat dit ’n besonder positiewe uitwerking op armoedebestryding het.

James Heckman, ’n destydse Nobelpryswenner vir ekonomie, sê dat hoe meer ’n bepaalde land in vroeë kinderontwikkeling belê, hoe groter die dividende in menslike kapitaal is. Dit is dus die beste moontlike belegging wat ’n regering kán maak.

Verdere navorsing wys onder meer ook uit dat jong volwassenes wat aan vroeë kinderontwikkeling blootgestel is, tot 40% meer verdien as dié wat nie hierdie voorreg gehad het nie. Eersgenoemde is ook minder vatbaar vir dwelm- en alkoholverslawing en minder tot geweld geneig.

Die voordele strek inderdaad wyd. En dit begin by die ouerhuis.

Die goue tyd

Dit is reeds onomwonde bewys dat die eerste 1 000 dae in ’n kind se lewe – dit wil sê van die swangerskaptyd tot die kind se twee­de verjaarsdag – ’n deurslaggewende tyd­perk in ’n kind se ontwikkeling is.

Sommige wetenskaplikes verwys dan ook daar­na as “die goue tyd”.

Dr David Harrison, hoof van die Suid-Afrikaanse befondsingsmaatskappy DG Murray Trust, wat hoofsaaklik op vroeë kinderontwikkeling fokus, is daarvan oortuig dat kinders se lewenslange potensiaal in daardie tyd vasgelê word. Hy wys onder meer op die volgende feite:

  • Die meeste breinontwikkeling vind in die eerste drie maande plaas.
  • Die brein se optimale “buigsaamheid” is in die tyd tussen swangerskap en ses jaar.
  • Wanneer ’n kind nege maande oud is, is hy die meeste vatbaar vir taalontwikkeling.
  • Kognitiewe ontwikkeling vind optimaal op eenjarige ouderdom plaas.

En dit hang grootliks van die ouers af, sê die geleerdes, of hierdie goue tydperk aangegryp gaan word of onbenut sal verbygaan.

“Wanneer ouers aan vroeë kinderontwikkeling dink, is ‘kleuter­skool’ of ‘speelgroepie’ dikwels die eerste prentjie wat in hulle kop kom,” sê Sonja Giese, uitvoerende direkteur van Ilifa Labantwana, ’n vroeë kinderontwikkelingsprogram.

Vroeë kinderontwikkeling is egter veel meer as hierdie tradisionele en selfs geykte konsep. “Dit is gewortel in die verhouding tussen ’n ma en haar ongebore kind,” sê Sonja, “en dit duur voort in die verhoudings wat die kind met verloop van tyd met sy of haar geliefdes ontwikkel. Dit is hierdie verhoudings wat uiteindelik sal bepaal hoe ’n kind met die wêreld omgaan, of sy in ’n groep sal floreer, en of hulle uiteindelik hulle volle potensiaal sal verwesenlik.

“Hierdie vroeë verhoudings in ’n kind se lewe bou taalvermoë, kognitiewe buigsaamheid, veerkragtigheid, emosionele welsyn en talle ander karaktereien­skappe wat die grondslag vir lewenslange gesondheid en ontwikkeling vorm,” sê Sonja.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail