Die Christendom se groot simbole – die kruis en die geopende graf – het hul oorsprong in die Paasgebeure. Maar die heilsgebeure wat hier herdenk word, reik veel verder as persoonlike verlossing. Dit verteenwoordig ’n voortgaande, onstuitbare protesgolf.

DEUR RONELL BEZUIDENHOUT

Christene wêreldwyd het die lydenspad 40 dae lank gestap, tot by Goeie Vrydag. En al was daardie Vrydag – die dag van bitter mirre en dood – allesbehalwe “goed”, noem ons dit so omdat die daaropvolgende Sondag, die opstandingsdag, so uitsonderlik was.
Ons kan immers nooit oor die een praat sonder om na die ander een te verwys nie.

God se protes

Gelowiges kan nie die gebeure by Golgota afwater tot bloot “Jesus het aan die kruis vir my sondes gesterf” nie. Dan maak ons daarvan ’n historiese gebeurtenis. Ja, dis dan steeds betekenisvol, maar dis reeds gedoen. Dis afgehandel.
Maar die kruisiging is nie “verlede tyd” nie. Dit vind steeds plaas.
Dit is God se protes teen wat aan die skepping gedoen word – die skepping waar alles “goed” gemaak is en waar alles en almal “goedheid” moes verteenwoordig, na die beeld van die Skepper van goedheid (vgl Gen 1:31).
Hierdie skepping het egter tot ’n plek vol haat en vernietiging verword. Hier heers oorlog in plaas van vrede, magsmisbruik in plaas van deernis en versorging. Gesinsgeweld in plaas van liefde en harmonie.
Hier swaai rassisme die septer, en vooroordeel, agterdog en verwaandheid. Selfsug en groot ego’s.
Dit was nooit wat God met “goed” bedoel het nie. Hierteen protesteer God met Jesus se kruisiging.
Nou wil dit lyk asof God verloor het. Dat “sleg” vir “goed” oorwin het. Donkerte het lig uitgedoof.

Jesus kondig die rede vir sy koms só in Lukas 4:18-21 aan: “… om die evangelie aan armes te verkondig … om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Dit was hoekom Hy aarde toe gekom het. Dis die Goeie Nuus wat gebring is: Die koninkryk van God het naby gekom, Hy het tussen julle kom woon.
Toe gebeur die onbegryplike: Hoop word doodgemaak. Sy eie mense roep uit: Kruisig Hom!
Dit is binne hierdie konteks, dié van magsmisbruik, wat Jesus se kruisdood verstaan moet word. Dit was dus veel meer as bloot “tot versoening van my sondes”.
Daarom moet ons eers die konteks van magsmisbruik in ons eie wêreld in berekening bring voordat Jesus se kruisiging in ons lewe ’n rol kan speel. Eers dan gee hierdie gebeurtenis aanleiding tot die “innerlike” kruisiging waaroor Paulus skryf: “… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie …” (Gal 2:19-20).
Ja, eers dan begryp ons dat Jesus se kruisdood nie bloot ’n historiese gebeurtenis was nie, maar dat dit ’n persoonlike gebeurtenis is wat weer en weer plaasvind. Dit gebeur wanneer ons saam met God protes aanteken teen dit wat verkeerd gaan in die lewe om ons.
Ons kan nou nie anders as om raak te sien wat God raaksien nie. God se droom vir ’n nuwe wêreld word ons droom. Jesus se lyding word die wonderlike metafoor vir ’n solidariteit met ons probleme en pyn.
Wanneer Jesus sterf, lyk dit – histories gesproke – asof God se protes doodgedruk is. Asof die “Woord”, soos Johannes dit in sy Evangelie stel, stilgemaak is. Asof die wêreld se poging op Golgota om God irrelevant te maak, geslaag het. Donkerte hét toe die laaste sê gehad …

Die grens word oorgesteek

Maar dan kom die groot verrassing: Wanneer Jesus sterf en dit donker word, skeur die skeiding tussen mense en God middeldeur. Van bo na onder (vgl Luk 23:44-45).
Die mens word vry om by God uit te kom. Die toegang na God se hart is gevind. Só sê die skrywer van Hebreërs: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang …” (Heb 4:16).
Dis die wonderlike belewenis waar die Onsigbare sigbaar word. Die skeur is nooit toegewerk nie. Die klip voor die graf is nooit teruggerol nie.
Ons is nie bloot saam met Jesus gekruisig en het deel aan sy dood nie; ons leef saam met die opgestane Here. Martin Luther het geskryf: “Dis ’n daaglikse sterf en opstaan saam met Christus.”
Die gordyne wat ons rondom ons toetrek, dit waarmee ons ander buitekant hou, dit skeur ook. Soos die gordyne wat ons om ander trek om hulle van ons af weg te hou.
Goddank vir die opstanding! Dis dié metafoor vir grense wat sonder vrees oorgesteek kan word.

Vryheid sonder weerga

As iemand my ooit sou vra wat Jesus se opstanding vir my beteken, sal ek sê: “Dat die donkerte toe nie die lig kon uitdoof nie. Dat God se stem toe nie stilgemaak is nie.”
Die voorhangsel is geskeur en die hemel is oop. God se nuwe wêreld is nie uitgewis nie. Die bekende Ou-Testamentikus Walter Brueggemann het gesê: “Ons kan hoop hê, want God het nie moed opgegee nie.”
Inderdaad: God gee nie moed op nie. Ook nie met my nie.

Die Griekse woordjie vir “herinnering” is “mnema”. Dis dieselfde woord wat gebruik word vir “graf”. Om vasgevang te word. Om in die verlede te leef. Om deur jou eie geskiedenis gekelder te word.
Net soos wat Jesus se lewe op aarde een was wat vryheid aangekondig het vir mense wat vasgeval geleef het, so is die nuwe lewe van die opstanding daarop gerig om ons almal vry te maak – ook vry van ons “mnema”.
Daarom is ek nou, ná die opstanding, vry om te leef soos God wil hê ek moet leef.
Ek is vry om protes aan te teken waar daar onreg is.
Ek is vry om selfs my vyand lief te hê.
Ek is vry om te vergewe.
Ek is vry om deur die Gees verander te word om al hoe meer aan die beeld van Christus gelyk te word (vgl 2 Kor 3:18).
Die Pase vier die feit dat die goeie God weer skep. Dat hierdie Skepper weer sê: Dit is goed!

 

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail