Hoe weet ek dat ek die gawes van die Gees het? En presies watter gawe het ek – indien enige? Kan ek nóg kry as ek daarvoor bid?

 Deur Ronell Bezuidenhout

As ek die vertellinge oor die eerste geslag Christene in die vroeë kerk so lees, en ek vergelyk dit met dit wat ons in die 21ste eeu beleef (ek wil nie eens probéér bereken die hoeveelste geslag Christene óns is nie!) wonder ek oor ’n hele paar dinge …

Juis in hierdie ná-Pinkstertyd dink ek byvoorbeeld aan die gawes van die Gees. En hoe oorbekend hierdie begrip vir ons geword het. Hoe blasé baie van ons daaroor is.

En dan dink ek weer aan daardie gemeente in Efese, en hoe Paulus aan hulle skryf: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!  Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (1:3).

Wat sou húlle hiervan gedink het? Hoe sou húlle hierop gereageer het?

En … kan jy dit glo! Daar is nie méér gawes wat God aan ons kan gee as dit wat Hy reeds gegee het nie!

Dit is ’n verbysterende gedagte: God het alles gegee wat daar ís om te gee. Hy is dus, saam met alles wat ons reeds oor Hom weet, ook ’n vrygewige God.

Wat sê die Woord?

Daar is ’n hele klomp teksgedeeltes in die Bybel wat hierdie vrygewigheid van God beskryf. Die bekendste hiervan is seker Romeine 12:6-8; 1 Korintiërs 12 en Efesiërs 4:11-12. (Let wel: Dit is nie die enigste teksgedeeltes wat hieroor handel nie, maar dit beskryf dalk vir ons die duidelikste presies wat die gawes van die Gees is.)

Daar is ’n klompie gevolgtrekkings wat ons hieruit kan maak:

  • Die gawes van die Gees is God se geskenk aan sy kerk.
  • Elke mens ontvang ’n gawe van God – soms selfs meer as een.
  • Jy ontvang nooit ’n gawe van God “vir eie gebruik” nie; dit is aan jou gegee ter wille van die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is (bv jou gemeente; ’n huiskerk; jou Bybelstudie- of selgroep).
  • Dié gawes word aan jou gegee om ander mense tot diens te wees.
  • Daar is geen hiërargiese orde in die gawes nie. Een mens se gawe is dus nie van groter belang as ’n ander een s’n nie.
  • By enige organisasie is daar mense wat op die voorgrond is, en ander wat ongesiens die wiele aan die rol hou. Met die gawes van die Heilige Gees is dit ook die geval: Dit is nodig dat sommige mense op die voorgrond is (dink maar aan hulle wat die ander toerus); daar is ook dié gawes wat dikwels ongesiens plaasvind (bv wanneer daar gebid word).
  • As ek nie my gawe uitleef nie, ontneem ek die geloofsgemeenskap van ’n deel van God se goedheid.
  • Die gawes van die Gees werk saam na dieselfde doel toe – om die geloofsgemeenskap te laat groei. Hierdie gemeen­skap is bedoel om stabiel en sterk te wees (kyk by Ef 4:13-14), en met ons gawes help ons mekaar om só te word.
  • Alle gawes is ondergeskik aan die gróótste gawe – om lief te hê.
  • Niemand het nié die gawe van liefde ontvang nie.

Let wel!

Soms hang ons ’n skeefgedraaide soort teologie aan wat ons wysmaak dat daar sekere spesiale gawes is wat jy móét hê voordat jy regtig kan sê dat jy die Heilige Gees “het”. Dit is natuurlik op vele vlakke ’n drogredenasie.

Allereers: Jy “het” nooit die Gees nie; die Gees het jóú!

Tweedens: Die bewyse dat die Gees jou lewe vul (en waarna sommige mense so naarstig soek of so koppig op aandring) het alles met jou optrede te make. Die Bybel verwys nie verniet daarna as dat die Gees heerskappy oor jou voer nie.

Derdens: Die gawes van die Gees is God se geskenk aan jou. Hoe kan jy dus sê dat daar bepaalde (ánder) geskenke is wat jy éérs moet hê voordat jy regtig onder die Gees se heerskappy kan leef?

Nee, God gee soos Hy wil. En Hy gee wat die geloofsgemeenskap nodig het. Die klem is immers nooit op die ontvanger nie, maar op die Gewer, en op die doel wat Hy het met die gawes wat Hy so rojaal uitdeel.

Wat het ék gekry?

Daar is ’n eenvoudige manier om vas te stel of die Heilige Gees in beheer van jou lewe is: Kyk in die spieël. Oftewel: Beoordeel jou eie gedrag.

Dit is hoekom die Bybel ’n onderskeid maak tussen die gawes van die Gees en die vrug van die Gees. Eersgenoemde is God se geskenk aan jou; laasgenoemde is die gevolg daarvan.

Maar ook hierdie gevolg, hierdie vrug van die Gees, word dikwels verkeerd verstaan. Wanneer jy die bekende Galasiërs 5:22 goed bestudeer, leer jy dat jy nie bietjies-bietjies vrug dra nie. Daar is ook geen moontlikheid dat een mens een van die vrugte (sic!) kry en ’n ander een ’n ánder vrug nie. Nee, hier is nooit sprake van “vrugte” nie; Paulus praat van “die vrug van die Gees”.

En hierdie vrug heet liefde. Paulus help ons wel in hierdie geliefde vers om dié liefde in sy konkrete gestaltes te begryp. Dit is amper asof hy wil sê: Verstaan tog dat hierdie liefde in vreugde uiting vind! En in nederigheid. Besef jy dat dit goedhartigheid behels? En vriendelikheid? En geduld, en selfbeheersing?

Maar hoe kan ons weet watter gawe ons ontvang het? En kan jy bid om ’n spesifieke gawe te ontvang? Sommige sal selfs sê dat jy eers met die Heilige Gees gedoop moet word voordat jy ’n gawe kan ontvang.

Die Bybel is hieroor duidelik – en verrassend eenvoudig: Die Heilige Gees is op Pinksterdag uitgestort (kyk by Hand 2). Die volle Gees is daar aan die kerk gegee, nie ’n “deel” van die Gees nie.

Wat wel nou nodig is, is dat die Heilige Gees elke nuwe geslag Christene se gedrag moet beheer. Of soos Paulus skrywe: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal 5:25).

En onthou: Die Gees waai waar die Gees wil. Die Gees gee soos die Gees wil. Daar waar nood is, sal die Heilige Gees mense met verskillende gawes toerus. As die geloofsgemeenskap versorging nodig het, sal daar mense na vore kom wat die passie het om te versorg.

En as jy wil help, maar nie weet hoe nie, sal die Gees iemand gee om jou – en ander – dit te leer. Só bou die een gawe op die ander een.

Iemand het gesê dat daar waar jou passie en ’n ander se nood mekaar se pad kruis, dáár kan jy na jou gawe gaan soek. As jy nie die passie het om mense te leer nie, sal daardie nood by jou verbygaan; as jy die passie het om na mense te luister en vir hulle te bid, sál sulke mense jou pad kruis.

Want die Gees werk soos die Gees wil. Hy ken jou persoonlikheid en jou ver­moëns. Die Gees weet hoe jy bedraad is, en daarom sal Hy jou gebruik soos jy is.

Maar onthou …!

Die feit dat jy nie ’n passie vir ’n bepaalde saak het nie, ontneem jou nie van die verantwoordelikheid om iets daaraan te doen nie. Byvoorbeeld: As daar iemand benodig word om vir ’n sieke te bid, mag jy nooit iets sê soos: “Dis nie mý werk nie; vra iemand anders!”

Jy is immers priester, profeet en koning – saam met al die ander gelowiges. Jou “passie” is nie ’n skuilplek nie.

Buitendien mag jy tog nie die Gees onderskat nie; jy kan maar op Hom staatmaak om jou te help met dinge wat jy gedink het bo jou vuurmaakplek is.

En glo dan maar vir Paulus wanneer hy só skryf: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die ­seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef 1:3).

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail