Net mooi 500 jaar gelede het die Christelike kerk ’n radikale vernuwing beleef. Vandeesmaand herdenk miljoene dankbare gelowiges wêreldwyd die Reformasie. Maar hoeveel van ons weet waarvoor om presies dankbaar te wees?

DEUR RONELL BEZUIDENHOUT 

Iemand het op ’n keer gesê jy moet “agteruit” kan onthou om vorentoe te kan leef. Vandeesmaand is dit vir vele gelowiges wêreldwyd baie waar.

Oktober 2017 is vir hulle ’n groot herdenkingsmaand. Dit is net mooi vyfhonderd jaar gelede, op 31 Oktober 1517, dat ’n jong Katolieke priester 95 stellings neergeskryf en met spykers teen ’n kerk in Duitsland se deur vasgeslaan het. Hiermee het hy, Martin Luther, openlik teen sy kerk geprotesteer. Sy protes sou die kerk en die aard van die Christelike geloof onherroeplik verander.

 

Die protes

Hulle sou hom oor hierdie protes verketter, hom dus daarvan beskuldig dat hy ’n vals geloof verkondig. Sy lot kon die brandstapel wees.

Hy het dit alles geweet. Nogtans het Martin Luther nie gehuiwer om sy besware hard en duidelik te lug nie. Dit het ingesluit: Die kerk verkondig ’n valse leer en nie die Goeie Boodskap nie; die kerk onderdruk die armes ten einde homself te verryk; die kerk se leierskap is korrup.

Die kerkleiers het dadelik opgetree en Luther inderdaad van die ergste moontlike oortreding, kettery, aangekla. En die onverbiddelike eis gestel: Óf hy draai terug en erken dat hy gedwaal het, óf hy sterf op die brandstapel.

Die keuse was eenvoudig: Onderwerp jou aan die kerk se gesag of word doodgemaak. Luther vra toe uitstel vir een aand; môre sal hy sy antwoord gereed hê.

Daardie volgende oggend word hy gevra: Trek jy jou beskuldigings terug? Erken jy dat dit kettery is?

’n Ruk lank het Luther stil gebly – en toe kyk hy sy aanklaers in die oë en sê: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. So help my God.”

Só oortuig was hy. So is die Protestantse kerk gebore.

En Martin Luther het bly leef. So het God hom gehelp.

 

Die heerlike gevolge

Daar waar verkeerd opgetree is, waar daar ongeregtigheid plaasvind, daar moet die kerk altyd opstaan en sê: Hier protesteer ons. Ons kan nie anders nie. Dit is wat Martin Luther gedoen het: Hy het geprotesteer teen wat die kerk se hoëlui destyds met die Bybel gedoen het. Hy het geprotesteer teen hoe die destydse kerkleiers die gewone lidmate gemanipuleer het. Hy het geprotesteer omdat Jesus nie meer die middelpunt van die kerk se verlange was nie.

Só is daar, met verloop van tyd, die sogenaamde “Solas” geformuleer – die (Latynse) spreuke wat sou aandui waaroor die kerkhervorming handel, waarvoor die nuwe, hervormde kerk staan:

 

Sola Scriptura – die Bybel alleen. Net die Bybel mag gesag oor mense se lewe hê.

Dit was egter destyds nie so vanselfsprekend soos dit vandag klink nie. Inteendeel. Die Bybel was vir alle praktiese doeleindes ’n geslote boek vir die gewone gelowiges. Hulle kon dit nie besit nie, en dit was bowendien slegs in Latyn beskikbaar, die kerktaal van daardie tyd – en net die priesters kon Latyn lees.

Die enigste manier waarop gelowiges toe iets van die Bybel kon “lees”, was om na die ikone teen die katedrale se mure te kyk.

Néé! het Luther geprotesteer. Gooi weg die ikone en die beelde in die katedrale; gee aan die mense die Bybel in hul eie moedertaal, sodat hulle self God se Woord kan hoor.

 

 Sola Fide – die geloof alleen. Die kerkleiers was woedend oor die oproep om die Bybel vir almal toeganklik te maak. Sodoende, het hulle geweet, sou die priesters hul houvas op die lidmate verloor.

Dit is om hierdie rede dat die hervormers nóg ’n “alleen” bygevoeg het: Lidmate sou voortaan self in die Bybel ontdek dat hulle ’n verhouding met God kan hê, sonder vrees. Dat Hy nie witbroodjies het nie, dat daar nie iets soos eersteklas-gelowiges is nie. Dat sy kinders nie iets hoef te doen om Hom te beïndruk nie. Jou goeie werke gaan nie God se liefde koop nie.

Luther sou sê: “God het nie jou goeie werke nodig nie; jou buurman het wel.”

 Sola Gratia – genade alleen. Gewone lidmate leer destyds hierdeur dat jy nie die kerkleiers hoef te betaal om jou sondes by God “af te koop” nie.

Tot vandag toe leer gelowiges deur hierdie genadespreuk dat jy nie vir God hoef bang te wees omdat jy kwansuis nie aan sy “standaarde” voldoen nie. God het jou lief, met al jou gebreke. Sy genade is in alle omstandighede vir jou genoeg.

Solus Christi – Christus alleen. Daar is nie ’n kerklike tussenganger tussen gewone gelowiges – hoe ongeletterd, hoe eenvoudig ook al – en God nie. Niemand hoef ’n priester te betaal om namens jou te bid nie. Christus alleen is die tussenganger. Die sogenaamde Godgeleerdes se gebede is nie belangriker of kragtiger as die “gewone” gelowige s’n nie. Christus het dit moontlik gemaak dat almal, ongeag rang of status, met God mag praat.

Daar is dus geen onderskeid tussen gelowiges nie. Almal beklee dieselfde amp voor God, dié van ’n gelowige. Vloerewassers en voorbidders, kinderoppassers en kanselklimmers, siekeversorgers en sielewenners – almal staan gelyk voor God. Christus het daarvoor gesorg, Hy alleen.

 Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer. Om al bogenoemde redes gaan alle dank aan God. Dit is Hy wat ons lewe ’n loflied aan Hom maak. Só skryf Paulus: “Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen” (Gal 1:5).

 

Steeds …

Op 31 Oktober 2017 vier Protestantse gelowiges ook die wonderlike waarheid dat God steeds met sy kerk besig is. Dat ’n hervormde kerk steeds hervorm word.

Dit is God wat dit doen, dit is Hy wat die kerk reformeer, verander. Dit is Hy wat die kerk en die lidmate voortdurend roep om al hoe meer te word wat hulle bedoel is om te wees

Hieroor sou die befaamde prof Dirkie Smit só skryf: ’n Kerk wat voortdurend hervorm, moet bly leer. Moet nuut luister, nuut hoor, beter verstaan, fyner gewaar word, sensitiewer aanvoel, liefdevoller optree, regverdiger, steeds meer genadig, meer verwelkomend, meer gasvry, meer insluitend, meer diensbaar, meer versoenend.  Nooit tevrede, selftevrede, selfvoldaan wees nie, nie gearriveer nie, nee.

“Altyd soekend, ondersoekend en steeds ontdekkend, al hoe meer gehoorsaam aan die roeping, al hoe meer getrou aan die eerste liefde.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail