Jesus het sy volgelinge 2 000 jaar gelede belowe dat hulle krag van die Heilige Gees sal ontvang, sodat hulle “tot in die uithoeke van die wêreld” sy getuies sal wees. Hoe moet ons vandag daaroor dink? Is daar steeds ’n oes? En hoe lyk dit met die arbeiders?

DEUR RENé BADENHORST

Toe Jesus van dorpie na dorpie gegaan het om die evangelie van die koninkryk van God te verkondig, het Hy baie mense gesien wat moeg en hulpeloos gelyk het. Hy het hulle innig jammer gekry. “Hy sê toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes’” (Matt 9:36-37).

Volgens Global Frontier Missions is daar van die wêreld se ongeveer 7,5 miljard mense, 3,15 miljard wat in lande en streke woon waar daar min of geen toegang tot die evangelie van Jesus Christus is. Ongeveer 6 900 bevolkingsgroepe word as “onbereik” beskou, en volgens Wycliffe Global Alliance is daar 4 011 taalgroepe wat nie die Bybel in hul taal beskikbaar het nie.

Die oes is inderdaad steeds groot.

’n Nuwe wêreld
Wanneer ons bid “laat u koninkryk kom”, vra ons ook dat ons as God se ambassadeurs sy koninkryk in ons invloedsfeer sal weerspieël. Sy liefde dring ons om die gebrokenheid in ons eie omgewing, en ook verder van ons af, raak te sien en Jesus se boodskap van hoop te bring.

Die wêreld waarin ons leef het egter in die laaste klompie dekades aansienlik verander. Ook die mense wat ons as ons “naaste” beskou, en dié wat ons voorheen as “vreemdelinge” sou bestempel.

“Sendingwerk” het tradisioneel beteken dat mense deur ’n kerk of ’n organisasie gestuur word om in ’n ander land te gaan werk ten einde die inheemse bevolking met die evangelie te bereik. Maar wêreldwye migrasie het tot gevolg dat mense van “geslote” lande soos China en Somalië nou ook op ons voorstoep is.

Daarby het verstedeliking en die maklike toegang tot ’n verskeidenheid media meegebring dat mense hulleself nie noodwendig meer volgens kultuur of nasionaliteit groepeer nie, maar eerder volgens gedeelde belange.

Volgens Gerhard Barnard, ’n lid van All Nations se internasionale leierspan, vind die grootste skuiwe van ongeloof na geloof in Christus tans onder Hindoes, Boeddhiste en Moslems plaas, veral in lande waar daar groot nood is.

En dit vind hoofsaaklik plaas deur lede van die inheemse bevolking wat na hul eie mense uitreik. Sendelinge se rol in hierdie situasie is hoofsaaklik die opleiding van die plaaslike gemeenskap om hulle te bemagtig om self die Woord van God te ontdek, te gehoorsaam en met ander te deel.

“Jerusalem en Judea”
Waar is jóú sendingveld?

In jou huis.

Vir dié wat kinders het, is dit die aanpak van ’n geloofspad saam met hulle. Om hulle te help groei in hul verhouding met Jesus. En om hul lewenstyl en gedagte­patrone te help verander van ’n wêreldse na ’n hemelse perspektief.

God vra van sy kinders om gehoorsame getuies te wees oral waar hulle is – in die huis, by die werk, in speelgroepe of op die sportveld.

Gerhard sê: “Mense is bang dat daar van hulle verwag word om hul buurman te red. Net God kan mense red. Wat jy wel kan doen, is om te getuig oor dit wat die Here vandag vir jou gesê het of wat jy beleef het.

“Ons moet egter van ons ‘Christelike woordjies’ vergeet en soos ‘gewone’ mense praat. Ons moet aanvaar dat ander mense nie noodwendig die Bybel ken soos ons dit ken nie, en daarom moet ons op ’n eenvoudige manier vertel wat ons gehoor en beleef het. Jy sal verbaas wees hoe dit mense raak.

“As ons getuies wil wees, moet ons sorg dat ons genoeg tyd saam met God deurbring. Ons kry ons krag by Hom wanneer ons bid, en wanneer ons deur die loop van die dag stil word en van sy teenwoordigheid bewus word. Wanneer jy in ’n moeilike situasie beland, kan jy die Here vra om jou ’n getuie te maak, en om jou die woorde te gee wat jy sal nodig hê.”

 

Lig, sout en suurdeeg is nutteloos wanneer dit in ’n houer toegemaak word. Ons moet ook buite ons bekende omgewing kyk waar daar nood en gebroken­heid is, en waar die Here aan die werk is.

Volgens Ed Silvoso, stigter van Harvest Evangelism en die International Transformation Network, staan die riglyne om die goeie nuus te verkondig in Lukas 10: Wanneer ons met mense te doen het wat ver van God af is, moet ons hulle seën en nie vervloek nie. Moenie hulle vermy nie; bring eerder meer tyd saam met hulle deur.

Bedien hulle deur aan hul behoeftes aandag te gee en genesing te bring. Verkondig dan die goeie nuus van God se koninkryk.

 

Adriaan van der Walt, ’n pa van twee seuns, is diep geraak deur die lot van die vaderlose jong mense in Delft op die Kaapse Vlakte. Baie van hierdie jonges word uiteindelik bendelede.

Elke week besoek Adriaan ’n groep jong mense om hulle te bemoedig en toe te rus. Deur hom het onder meer beeldhouwerkprojekte die lig gesien. Daar word fluks groente verbou en saam sokker gespeel. Sommige leer ook om musie­k­instrumente te bespeel.

“Samaria, en die uithoeke”
Volgens Global Frontier Missions word minder as 10% van alle sendingwerk onder die grootste meerderheid – 95% – onbereikte mense gedoen. Die vrugte wat laag hang en maklik bereikbaar is, is reeds gepluk; nou bly dié aan die hoër takke oor.

Maar as niemand gáán nie, sal miljoene mense nie die geleentheid kry om die evangelie te hoor nie. Wat kan gelowiges hieraan doen?

Deur te bid, te stuur of self te gaan. So eenvoudig soos dit.

Die Gereformeerde Kerk Bellville-Oos het gedurende die afgelope Junie-vakansie hande gevat met Harvesters Ministries om vir 380 kerke in Malawi altesaam
3 150 Bybels te neem. Bybels is in Malawi ’n luukse; selfs die pastore het nie altyd ’n eie Bybel nie.

Hierdie Bybels is dus met groot vreugde ontvang. Die 49 uitreikers het bestaan uit hoërskoolleerders, studente, jong werkendes en volwassenes. Volgens ds Reynold Fourie het hierdie uitreik vele van hulle se wêreldbeskouing verander.

Sulke korttermyn-uitreike motiveer mense om dissipelmakers in hul eie omgewing te word. Dit plant die saad vir groter plaaslike betrokkenheid en, vir sommige, ’n hart vir buitelandse sending.

Die Coetzee-gesin* doen sendingwerk in Tanzanië, ’n land waar baie mense nog nooit van Jesus gehoor het nie. Daar is ook groot gemeenskappe – soms tot 200 gesinne en meer – wat nie toegang tot lopende water het nie. Of almal moet hul water by een kraan gaan tap.

Derick* poog om hulle te help deur waterpompe te installeer en te herstel. In die proses duik daar kosbare geleenthede op om van ’n God te getuig wat groter as enige aardse struikelblok is.

“Waar ons dit sal waag …”
“Dis belangrik dat ons nuut oor kerkwees sal dink,” sê Gerhard. “Die kerk is nie bloot ’n plek waar gelowiges bymekaarkom om God se Woord te hoor en om geloofsgemeenskap te beleef nie, maar ook ’n plek waar gelowiges toegerus word om die blye boodskap in hul omgewing uit te dra.”

Volgens dr Johan Carstens, stigter van die i-Opus Instituut vir Missiologiese Navorsing, is daar ’n nuwe beweging van gelowiges wat evangelisasie nie bloot as ’n program of ’n geestelike ervaring be­skou nie, maar as ’n lewenswyse. “Hierdie beweging spoed teen ’n ongekende pas voort, sowel in Suid-Afrika as oor die hele wêreld,” sê hy.

“Natuurlik wil God hê ons moet almal daaraan deel hê. En ons kán dit doen; dit hang net af waar ons kyk, en waar ons dit sal waag om te loop.”
* Skuilnaam

Migrasie, ’n geleentheid
Wêreldwye migrasie is besig om baie lande se bevolkingsamestelling te verander.
“Wat vandag in Europa, Suid-Afrika en ander dele van die wêreld gebeur, is nie ’n sameswering van die bose nie,” sê Johan Carstens. “Dis eerder ons Vader se manier om al die nasies die geleentheid te gee om Jesus Christus se boodskap te sien en te ervaar. Talle mense wat na lande vlug wat vir hulle veiliger is, sou waarskynlik nooit in hul eie land die geleentheid kry om van Jesus te hoor nie.
“Die kans dat hierdie mense hul pad tot in ons kerke sal vind, is egter skraal. En dit noodsaak ’n doelbewuste ‘gaan’ na hulle toe. Dit vra dat ons in liefde na ontworteldes uitreik. Dat ons bereid sal wees om te kyk watter behoeftes ons kan help verlig – en om dan ons huis, sakeonderneming en hart oop te maak,” sê Johan.

Terselfdertyd kies talle Suid-Afrikaners om na ander lande te emigreer. Ons lees hoe die gelowiges wat deur Saulus vervolg is, oor Judea en Samaria verstrooi is. En hulle het “so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig” (Hand 8:4).
Só moet elkeen wat Jesus ken, ook daar waar hulle gaan woon in ’n gemeenskap wat nie in God geanker is nie, elke geleentheid aangryp om in woord en daad God se koninkryk te laat kom.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail