Mrt2017-redfotoToe ek nog op skool was, het ek een aand saam met ’n groep maats op my ouerhuis se grasperk gelê en sterre kyk. Ons het die verste hoek in die tuin gekies waar dit goed donker was. My broer het op sy kitaar begin tokkel terwyl ons ander probeer kyk het hoeveel verskietende sterre ons kon sien. Die melkweg was ’n sagte, grys streep oor die hemelruim.

Maar skielik is die rustigheid deur ’n harde klapgeluid versteur. Dit het uit ’n groot bos bome gekom, ’n entjie van ons af. Eensklaps was die nag baie donker.

Dit is net ’n dennebol wat uit ’n boom geval het, het ons vir mekaar gesê. Dalk ’n verdwaalde bokkie wat op ’n tak getrap het. My broer se vingers het oor die kitaarsnare gestryk.

Ná die tweede klapgeluid het hy opgehou speel. Met ingehoue asem het ons geluister. Wat kan dit tog wees?

Toe kom dit weer, maar harder as die eerste twee kere. Ek het die afstand huis toe met my oë gemeet. Dit was baie ver – daar was twee terrasse én ’n stel trappe tot by die agterdeur.

En toe breek daar ’n kabaal uit: takke wat breek, ’n herrie van bome wat knars en kraak. Ek het opgespring en koers gekies, reguit huis toe. Ek kan nie juis vinnig hardloop nie. In graad 1 het ek heel laaste in die 60 meter geëindig.

Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe my nefie, die atleet in ons midde, ook begin rieme neerlê. Maar hierdie keer was ek hom voor. “Mamma!” het ek geskree toe ek halfpad teen die steil grasperk se eerste terras uit was.

By die agterdeur in. “Mamma!” het ek uitasem geroep – en toe eers het my nefie by die stoeptrappe opgehardloop gekom.

Vir die eerste keer in my lewe was ek vinniger as hy.

In Efesiërs 1 bid Paulus passievol vir die gelowiges in Efese. Hy vra dat hulle sal weet “hoe geweldig groot sy (God se) krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het” (Ef 1:19-20).

Ek verwonder my aan hoe prakties God is. Hoe Hy ons met adrenalien in ons lyf geskep het sodat ons voor gevaar kan wegvlug of daarteen kan veg.

Dit geld ook die uitleef van ons geloof. Die Here weet dat die lewe soms swaar is, maar Hy lewer ons nie aan ons eie talente (of die gebrek daaraan) uit nie; Hy gee ons eerder die versekering dat daar ’n krag in ons werk wat onmeetbaar sterker as ons eie vermoë is.

God wys sy krag in die lewe van gelowiges. In gewone mense se stories. LiG het die voorreg om soveel hiervan te vertel – dié waar Hy sy krag wys wanneer ons bly hoop, ten spyte van die moedeloosheid wat ons bekruip. Wanneer ons in sy beloftes glo, ten spyte van die onverwagse draaie wat die lewe met ons maak. Wanneer Hy ons dring om liefdevol en genadig te wees, ten spyte van ander se moedswilligheid en hatigheid.

God se krag bring vertroue waar daar vrees moet wees; lankmoedigheid waar ongeduld uitborrel; vergewensgesindheid wanneer die onmoontlike vergewe moet word. Dit is dié soort krag wat lewe bring waar die dood skynbaar heers.

Wanneer ek voel my krag is te min, dink ek aan daardie sterrekyk-aand. Word ek herinner aan ’n groter krag wat in my werk. Dit is die kragtige werking van ’n Vader wat ons help om goed en reg te leef. ’n Vader wat lewe bring deur sy Seun.

’n Vader wat ook daardie nuttige adrenalien in ons lyf geskep het, sodat ’n bloedjong, bitter bang dogtertjie so vinnig soos die wind kon hardloop daardie aand toe ’n baie ou boom in die bos langs haar ouerhuis omgeval het.

Francine-handtekening

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail