Branders wat met woeste geweld teen ’n rots slaan, in duisend druppels versplinter en die lug in stippeltjies wit versier. Die terugtrek van water wat die sand glad stryk asof daar nooit spore was nie. Die gedurige gedruis van branders wat aangerol en aangerol kom. ’n Gesigs­einder wat in wasige blou tot wie weet waar strek.
Dít is die see. Die see slaan jou asem weg.
Jy kan die see nie miskyk nie. Dit trek jou aandag en behou dit. Staan jy langs die see, kyk jy nie sommer anderpad nie. Dis ’n magtige teenwoordigheid; jy kan dit op geen manier ontken nie.
Dalk is dit so omdat die see so geweldig groot is. En soms so vreesaanjaend woes. Miskien is dit so omdat ons die oseaan nie met een kyk kan opsom of die geheel daarvan kan raaksien nie. Dalk is dit die reëlmatige uitrol en terugtrek, dalk die oënskynlike on-ritmiese spoel en spat.
Die see laat jou met jou hart kyk. En jy besef: God is hier. Hy is ’n God wat groot en wonderlik en oneindig fassinerend is. ’n Skepper wat lief is vir verskeidenheid en skoonheid en selfs wilde woestheid. Hy kon die see uitdink en vorm.
Ja, die see verklap in oorvloed en uitbundigheid die karakter van ons Skeppervader. Dit vertel van sy oorvloedige genade. Van sy getrouheid, soos die reëlmaat van die eb en vloed. En van sy liefde, so duiselingwekkend diep soos die bodem.
Die see wil jou saam met Paulus laat uitroep: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!” (Rom 11:33).

Die see is ook ’n plek van vryheid, dis ’n vrolike plek waar ons kan speel en skater. Waar ons ons lekker moeg kan maak in die golwe en poele en blou, blou deinings. Die see kan ’n mens skoon was en jou laat lig voel. Dit kan jou wel ook bang maak en laat terugstaan vir die krag wat daarin dreun en raas.
Die see is asemrowend – maar nie soveel soos die Skeppergod wat hierdie watermassa gemaak het nie.
En dis juis hierin waar die see se éintlike bekoring vir my lê: dat die God wat iets soos die see kon maak, ook gekies het om die mens te maak. Dat ’n Skepper wat seeperdjies uitgedink het, en jellievisse en dolfyne, dit alles aan ons gegee het om sy liefdevolle, kreatiewe karakter raak te sien. Dat Hy wat donkerblou branders met witskuim-kuiwe gemaak het, in sy groot genade aan ons die vermoë gegee het om hierdie skoonheid te bewonder.
Hierdie Here wat spierwit strande en rotspoele geskep het, het aan ons die geloof geskenk om Hom met ons geestesoë te kan sien. Hy wat wind en woeste waters kon uitdink, het die storms in ons kom stil maak.
En Hy het hierdie wonder gedoen: Hy, ons Skeppervader wat die see se waters met sy hand afgemeet het, kom vat ook elke dag mý hand.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail