“Ons almal beleef iewers ’n droogte.”

Dit is woorde wat lank in my kop bly draal het. Juis ook omdat dit gesê is deur ’n vrou wat weet hoe dit voel as jou hele bestaan deur droogte ingeperk word. Gewurg word. Bedreig word. ’n Boervrou in die Boesmanland.

Sy ruik die droogte elke dag. Sy voel dit aan haar eie lyf. En jare lank reeds sien sy dit in haar man se oë.

 

Daar is ’n groot gaping in die Bybel: vier honderd jaar tussen die Ou Testament en die eerste gebeure in die Nuwe Testament. Ons lees net in die ou geskiedenisboeke hieroor. Ons weet wel dit was ook ’n tyd van groot geestelike droogte vir God se volk, die Israeliete.

In daardie 400 jaar het dié mense se kulturele en godsdienstige lewe dramaties verander. Die profete was stil. Sommige is selfs doodgemaak. Die Joodse volk is uitmekaargeskeur in allerlei godsdienstige faksies: Fariseërs en Sadduseërs en wat nog als. Hulle is grootliks deur die Romeine en die Grieke beïnvloed, en selfs deur die goddelose Babiloniërs.

Dit was waarlik geestelik droog. “Maar,” skryf Paulus later, “toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur” (Gal 4:4).

God het sy Seun op ’n baie spesifieke, berekende tyd gestuur. Dit was ’n tyd van Joodse binnegevegte, van die Romeine se magsbeheptheid en die Grieke se bemoeienis met kennis en die neerskryf daarvan. Dit alles het die volheid van die tyd bepaal.

Selfs die destydse Romeinse stadsbeplanning het ’n rol gespeel in God se tydsberekening: Die hoofwegstelsel sou dit makliker maak om uiteindelik die nuus van Jesus se opstanding te verkondig. Ook die feit dat die Nuwe-Testamentiese boeke in Grieks geskryf is, het tot gevolg gehad dat die evangelie verkondig kon word in ’n taal wat amper almal in daardie tyd kon verstaan.

Ja, daar was dalk ’n geestelike droogte, maar God het sy optrede haarfyn beplan. Alles het uiteindelik volgens sy plan verloop. Op die regte tyd, op die regte plek.

Ons almal beleef iewers ’n droogte. Maar ons hoef nooit van dors om te kom nie; God se grootse plan van hoop en oorvloed sal uiteindelik seëvier.

Kersfees herinner ons hieraan. Die koms van Christus, die Een wat lewende water bring, maak ons opnuut daarvan bewus. Hy is die Verlosser wat die droogste plekke in ’n vleiland kan omskep. In Hom kan selfs die dorre tye ’n tyd van oorvloed en groei wees.

Dít alles het ek geleer by boervroue wat oral om hulle ’n wurgende droogte beleef. Maar wat, ten spyte daarvan, weet hoe om by ’n onuitputlike, lewegewende fontein hul dors te gaan les.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail