Daar word ’n storie vertel van twee vriende wat deur die woestyn geloop het en tydens hierdie reis ’n hewige argument gehad het. Uit pure woede en frustrasie klap die een die ander toe deur die gesig.
Die een wat geslaan is, buk af en skryf met sy vinger in die sand: “Vandag het my beste vriend my geklap.”

Hulle het aangehou stap en die volgende dag by ’n oase aangekom. Daar het hulle hulle gewas. Die een wat die vorige dag geslaan is, het egter in dryfsand beland en begin om weg te sak. Die ander een het sy hand uitgesteek en hom uit die sand getrek.

Die een wat gered is, beitel toe dié woorde op ’n klip uit: “Vandag het my beste vriend my lewe gered.”
Die ander een vra hom: “Waarom het jy in die sand geskryf nadat ek jou seergemaak het, maar nou kap jy hierdie woorde op ’n klip uit?”

“Dis eenvoudig,” antwoord hy. “As iemand jou seermaak, skryf jy dit op die sand waar die wind van vergifnis dit kan uitwis. Maar as iemand aan jou goed doen, kap jy dit op klip uit sodat geen wind dit kan uitvee nie.”

Ek beland op ’n dag in ’n gesprek waar ’n ma vertel sy moes al ten minste vier nuwe skooltruie vir haar graad 2-dogtertjie koop. “Elke keer skryf ek haar naam met groot letters op die binneste etiket, maar steeds raak die trui weg.”

Ons lees in Jesaja 49:16: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.” Dit is God wat aan sy volk sê dat hulle aan Hom behoort. Dit word telkens in die Nuwe Testament bevestig: Julle is my kinders. Julle wat in die liefde leef, behoort aan My (vgl 1 Joh 3).

Ons behoort nie aan God soos ’n trui aan ’n skoolkind nie; ons behoort aan God soos ’n kind aan haar ma. ’n Kind wie se naam onuitwisbaar op haar hand getatoeëer is.

Wanneer God ons red, skryf Hy sy Naam op ons hart. Christengelowiges raak egter soms die pad byster, en dikwels dwaal ons dan heeltemal weg. Maar Hy verlaat ons nie; ons naam staan op sy hand gegraveer. Permanent. Want Hy is getrou.

Boonop leef ons van hierdie troos: Hy beitel nie ons sonde op klip uit nie. En die wind van sy genade kom gereeld op en waai oor die liederlike letters in die sand.

 

Ons kan dus rus in die wete dat ons naam geskryf is op ’n plek waar dit saak maak, waar dit veilig is.
En in hierdie rus wat ons beleef, kan ons ons daarop toelê om met wysheid die regte dinge op ’n klip uit te kap. En die res aan die wind van vergifnis oor te laat.

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail