Jesus se kruisdood en opstanding het alles in hierdie wêreld kom verander. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Breek vanjaar weg van die geykte Paasvieringe en probeer om dit interaktief saam met jou gesin aan te pak.

Deur Ewald van Rensburg

“Die opstanding was toe die heelal in die lewe van een Man ontplof het,” het die Ierse sanger Bono gesê. Niks was daarna ooit weer dieselfde nie.

Dit geld veral ook die Jesus-volgelinge se lewe. Of hoe? Is dit so dat ons lewe wys dat ons die opstanding “beoefen”?

Hier volg ’n klompie voorstelle oor hoe om dit reg te kry. Onthou deurgaans dat John Westerhoff, ’n geloofsopvoedkundige, gesê het: “Godsdiens is altyd eers gedans voordat dit geleer is!” In die lig hiervan kan ons gerus die moontlikheid ondersoek om ons Paasvieringe interaktief te beoefen. Dalk maak jou gesin sommer ook dié ontdekking: Hoe nader ons in Jesus aan God beweeg, hoe nader beweeg ons aan mekaar.

 

  1. Pak die soetgoed weg

Die Sondag voor Goeie Vrydag word Palmsondag genoem. Op hierdie Sondag dink ons aan Jesus se intog in Jerusalem (Matt 21:1-11). Dit is ook die dag waarop ons alle soetgoed vir ’n week lank kan wegpak. Die ou kerklike tradisie vra dat gelowiges die 40 dae voor Paassondag van iets sal vas. Maar 40 dae is baie lank, en nie altyd haalbaar waar daar kinders betrokke is nie. ’n Week is wel, en juis daardie week, die groot lydensweek, is betekenisvol genoeg. Hierdie vas word op Paassondag gebreek wanneer julle die oggend vroeg paaseiers eet en Jesus se soete oorwinning vier.

 

  1. ’n Skottel vol water en ’n handdoek

Die Donderdagaand voor Goeie Vrydag hou julle ’n skottel vol seepwater en ’n handdoek gereed. Lees dan saam uit Johannes 13:1-17 hoe Jesus tydens die Paasmaaltyd elke dissipel se vuil voete gewas het. Só het Hy dit duidelik gemaak dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Dit is dan ook elke Jesus-volgeling se roeping.

Elke gesinslid kry ’n beurt om iemand anders se voete te was en af te droog. Vra daarna aan mekaar wat dit vir elkeen beteken het.

Hou dan daardie einste skottel op ’n prominente plek in die huis, sodat julle gedurig daaraan herinner kan word dat julle mekaar moet dien.

 

  1. Goeie Vrydag

Gaan saam kerk toe. In baie gemeentes word daar nagmaal gevier.

Stel saam ’n spyskaart vir middagete op. Daar is geen nagereg nie. Wanneer die ete verby is, stuur ’n kruis by mekaar om wat rooi ingekleur is. Goeie Vrydag herinner ons aan Jesus se lyding.

 

  1. Stil Saterdag

Hierdie dag staan ook bekend as “Heilige Saterdag”. Almal beplan vandag saam aan Paassondag se feesmaal, en elkeen kry ’n spesifieke opdrag om die huis mooi te versier sodat Jesus se opstanding behoorlik gevier kan word.

Nooi familie en vriende oor om dit saam met julle te kom doen. Onthou om die uitnodiging ’n week of twee voor die tyd uit te stuur!

 

  1. Paassondag

Paassondag is die dag waarop Christene Jesus se opstanding uit die dood vier. Dit is die Jesus-volgelinge se gróót dag. Sonder hierdie dag is ons niks.

Maak almal vroegoggend wakker, sodat julle saam die son kan sien opkom en só Jesus se opstanding kan begin vier. Lees Matteus 28:1-10 hardop saam. Deel daarna paaseiers aan almal uit. Maar voordat die paaseiers geëet word, laat iemand die volgende voorlees:

  • ’n Marshmallow-paaseier laat jou aan ’n regte eier dink, en ’n eier is ’n simbool van lewe.
  • Die sjokolade-paaseier is leeg aan die binnekant, en dit herinner jou aan die leë graf.
  • Die sjokolade herinner jou boonop daaraan dat Jesus vir jou die soetste en lek­kerste soort lewe gegee het (Joh 10:10). Die soetigheid laat dink ons aan Jesus se oorwinning oor die dood.
  • Die skoenlapper is die simbool van hoe Jesus se opstanding jou lewe radikaal ver­ander – van ’n ruspe wat alles opvreet wat voorkom, na ’n skoenlapper wat blomme bestuif en dus lewe bring. Van ’n sondaar wat net op homself en sy behoeftes gerig is, tot ’n nuwe mens wat met sy lewe ander mense se lewe verryk.
  • Paasfees se vernaamste simbool is die opkomende son. Dit herinner ons daaraan dat Jesus lankal reeds die duiwel en sy vriende – sonde en dood – oorwin het. Niks kan jou ooit van God se liefde skei nie.
  1. VIVIT – Hy leef!

Skryf ná die Paasnaweek op jul huis se voordeur soos die kerkhervormer Martin Luther dit by sy huis gedoen het. Hy het met ’n stuk bordkryt teen sy muur in groot, vet letters geskryf: VIVIT. Dit is Latyn vir “Hy leef!”

Los dit daar, sodat julle gesin ge­reeld daaraan herinner kan word om Jesus se opstanding te “beoefen” deur Hom dansend te volg.

 

Laat iemand die volgende storie hardop voorlees:

“Tydens die sogenaamde Swart Dood-epidemie in die Middeleeue het ’n hele aantal mense in die Italiaanse dorpie Bergamo gesterf. Die dorpie se mense het in die katedraal byeengekom en om uitkoms gebid. Daar was geen uitkoms nie en die inwoners het gesê: ‘God gee nie meer vir ons om nie.’

“Ook die slagter se seun het gesterf, en die bedroefde vader wou sy seun se dood wreek deur Jesus te bespot. Hy het hom soos ’n priester aangetrek en in die katedraal gaan staan en begin om grappies oor Jesus te maak. Onder meer het hy gesê: ‘Jesus kon Homself nie eens help nie – hoe kan Hy óns help!’ Die dorpsmense het saam met hom gelag.

“Toe klim die priester op die kansel en sê: ‘Mense, julle het nie die Bybel goed verstaan nie. Dit is wat regtig gebeur het: Jesus het aan die kruis gehang en op die spotters afgekyk, dié wat Hom uitgedaag het om van die kruis af te klim. Toe het Jesus gedink: Sal Ek vir hierdie ellendige spotters sterwe? Nooit! Toe het Hy van die kruis af gekom en tussen die skare verdwyn en niemand het Hom ooit weer gesien nie.’

“Die dorpsmense in die katedraal het stil geword, en die slagter het sy kamma-priesterkleed afgegooi en geskreeu: ‘Dit is ’n leuen! As Hy nie gesterf het nie, is my seun verlore! En ook ek, ja, ons almal. Dit is ’n leuen, sê ek! Hy moes sterwe.’

“Toe sê die priester: ‘As julle dit weet, hoekom al die vrae? God het ook sy geliefde Seun aan die dood afgestaan. Hy weet hoe ons voel. En dink net wat sou van ons geword het as Jesus nie gesterf het nie …’”

Laat elke gesinslid hierna vertel hoekom hy of sy dink dat vandag juis “Goeie Vrydag” genoem word?

DOEN DíT OP PAASSONDAG

  • Paassondag-aktiwiteit: Gee aan elkeen ’n stuk skoon papier en inkleurpotlode, en die volgende opdrag: Teken enigiets wat jou aan Jesus se opstanding herinner, en verduidelik jou prentjie aan die ander.
  • Aan tafel: Vertel die volgende storie nadat julle by die feestafel aangesit het:

Philip, ’n seun wat aan Downsindroom gely het, het geweet dat hy ‘anders’ is. Maar hy was ’n gelukkige kind wat altyd ’n glimlag op sy gesig gehad het. Hy het boonop ’n aansteeklike laggie gehad.

Daar was nege ander seuns en dogters saam met hom in sy kategeseklas. Hulle was almal so agt jaar oud. Philip het maar ’n bietjie uitgesluit gevoel, want die ander was nie baie gemaklik met hom in die omgewing nie. Hy was té ‘anders’ …

Paasfees was om die draai en die kate­geet het besluit om die kinders ’n spe­sifieke projek te laat doen. Hy bring toe ’n klompie leë eierboksies na die klas toe en gee aan elke kind een, met die opdrag: “Gaan soek na iets, enige simbool, wat jou aan die opstanding herinner, aan nuwe lewe.”

Ewe opgewonde het elkeen sy of haar boksie geneem en hulle is uit, buitentoe.

Ná ’n tydjie het die kategeet hulle teruggeroep om vir almal te kom wys wat elkeen uitgerig het. Hy het die eierboksies een na die ander oopgemaak:

In die een was daar ’n blom. In ’n ander een was daar ’n skoenlapper, wat natuurlik dadelik weggevlieg het. Die kinders het spontaan gesê: “Dít is slim!”

Nog ’n ander boksie het ’n klippie opgelewer. Die kinders het gevra:

“Hoe kan ’n klip iets oor nuwe lewe sê?”

Die betrokke kind het só geantwoord: “Ek het geweet almal sou blomme en sulke dinge bring, maar ek wou anders wees. En vir my is dít nuwe lewe – om anders te wees.”

Toe maak die kategeet nog ’n boksie oop. Dit was leeg. Die kinders het gelag: “Nee, dit is nie regverdig nie! Daar moes tog iets in die boksie gewees het!”

Toe sê Philip: “Dit is myne.”

En die kinders sê: “Philip, jy doen ook nooit iets reg nie! Hoekom is jou boksie dan leeg?”

“Ek hét dit reg gedoen,” het Philip geantwoord. “Dit is leeg, want Jesus se graf was mos leeg nadat Hy opgestaan het.”

Almal het stilgebly. Hulle het geweet Philip was heeltemal reg. En van daardie dag af was Philip regtig deel van die klas.

’n Paar maande later het Philip siek geword en gesterf. Die dag met sy begrafnis het nege agtjariges saam met hul kategeet voor na die kansel toe gestap en tien leë eierboksies daar neergesit.

Sluit die Paassondag af deur saam na die fliek Risen te kyk.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail