Christene is geroepenes – dis wie ons is. Ons opdrag is met ons identiteit verweef. Ons mag nie bloot agteroor sit en wag totdat omstandighede in ons guns is voordat ons ons roeping begin uitleef nie. Ons “eendag” is nou …

Deur Lizette Murray

Soms leef ons ongeërg, ons kyk maar wat die dag vir ons bring.

Ons fladder voort sonder om na te dink oor daardie dinge wat ewigheidswaarde het. Ons is tog só besig, ons dae is vol spoedeisende dinge.

Maar soveel van ons gaan saans met ’n onverklaarbare onvergenoegdheid slaap. ’n Gevoel van leegheid.

Want ons ignoreer God se stem.

Miskien dink ons dat ons bydrae nie eintlik ’n verskil sal maak nie; die sendingveld is so groot, die honger so erg, die armoede so oorweldigend.

Die nood is onoorkomelik, sê ons. En ons troos onsself: Daar is tog baie ander wat beter opgelei is as ons. Mense met meer finansiële hulpmiddels en groter kundigheid.

Ons is huiwerig om daardie eerste tree buite ons eie bekende kring te gee. Ons reken dalk ons is minderwaardig en onbekwaam, soos Moses toe God hom in die woestyn geroep het.

God roep ons op ons naam – elkeen van ons. Hy roep ons van ongehoorsaamheid na gehoorsaamheid. Van terugdeins na vorentoe tree. Van huiwering na ’n onomwonde “ja!”.

Hy roep ons net soos ons is. Net waar ons is en met dit wat ons het. God se vraag aan Moses in Eksodus 4:2 is ook sy vraag aan ons: “Wat het jy in jou hand?” Moses se antwoord moet ook ons antwoord wees: “’n Kierie.”

Dis ál wat die Here van ons vra – ons kierie. Soms is hierdie “kierie” ’n talent, soms ’n kragtige getuienis. Partykeer is

dit ’n gebroke lewe. Soms bloot ’n dag-tot-dag-gehoorsaamheidslewe.

Op reis

’n Bejaarde dame vertel: “Ek is net ’n doodgewone kind van God. As jong, ongetroude onderwyseres van Wellington het ek my toekoms in die Here se hand gelê. Toe ek moes besluit oor ’n onderwyspos in die Oos-Kaap, het ek in my stiltetyd die versekering gekry dat ek moes gaan.

“Ná ’n paar jaar daar het ek duidelik geweet: Ek moet aanskuif. Ek is Vrystaat toe. Ek is getroud. Ek het ’n boervrou geword.

“Daar het geen aardskuddende dinge in my lewe gebeur nie. Ek het bloot biddend en luisterend gelewe. En tog, as ek nou terug kyk, sien ek duidelik die padaanwysers en vurkpaaie in my lewe. Indien ek verkeerde afdraaie geneem het of op een plek bly staan het, sou ek soveel seën verbeur het.”

Dié dame se seun vertel: “Toe ek die roeping kry om my lewe aan sendingwerk te wy, het ek aan my ma se kinderlike geloof gedink. Haar lewe was vir my die bevestiging dat gehoorsaamheid altyd seën tot gevolg het.

“My sendingreise neem my na ver plekke dwarsoor die wêreld. Terselfdertyd is dit ’n binne-reis saam met God, waartydens ek sy genade en goedheid en beloftes elke môre opnuut vir myself moet toe-eien.

“Daar kom dae wanneer ek my afvra: ‘Hoekom doen ek wat ek doen? Is daar nie ’n makliker lewe iewers anders nie?’

“Maar wanneer dit moeilik gaan, herinner ek my daaraan dat Jesus nie belowe het dat dit maklik sal gaan nie. Hy het wel belowe om ons sy vrede te gee, en om ons nie soos weeskinders alleen te los nie.”

M Scott Peck begin sy beroemde boek The road less travelled met dié woorde: “Life is difficult.” En hoe waar is dit nie! Die lewe is vol ontnugterings, hartseer, terugslae.

Maar dikwels is dít juis die kierie wat God in jou hand sit. Soms word pyn die platform waarvandaan jy jou roeping kan uitleef.

’n Ma wat haar baba by geboorte verloor het, vertel dat sy in haar smart uitgeroep het: “Here, dis ’n verskrikking! As daar nie iets moois hieruit kan kom nie, is dit totaal verniet.”

Soos die tyd aangestap het, het sy geleer dat hartseer en blydskap langs mekaar kan bestaan, en dat vreugde en pyn reisgenote is: parallel soos twee spore van ’n treinspoor.

Sy het geleer dat wanneer sy haar pyn eerlik in die oë kyk, sy ook vreugde kan ervaar. En met hoop kan leef. En daardie hoop kan begin aangee.

Hierdie ma het ’n bediening begin waarin sy ander ma’s begelei wie se babas gesterf het. Sy het besef dat haar broosheid juis háár kierie is. Dat dit die instrument is waarmee sy ander kan bedien. Haar swaarkry het haar begrip gegee en erbarming vir ander se pyn en verlies geleer. Sy het geleer om te kan uitreik en troos, en om ander te help om weer met hoop te leef.

Op ons elkeen se reis is dit belangrik dat ons vraag sal wees: Wat maak ek met die kierie in my hand? En: Wat wil Ú hê moet ek hiermee maak, Here?

Roepings en drome

God wil hê dat ons die gawes wat Hy aan ons toevertrou het as instrumente sal gebruik om ander mee te dien en Hom mee te eer.

Onderwysers se vernaamste roeping is om kinders vir die lewe te bemagtig, en nie om kennis oor te dra nie. Hul taak is om daardie kinders hoop te gee. Om lig in jong oë en harte aan te steek.

Kunstenaars se hoogste doel is nie om hul instrument met foutlose tegniese vaardigheid te bespeel of hul skildertegniek te vervolmaak nie. Hul taak is om met oorgawe te skep, sodat die skeppingsvreugde na ander oorspoel. Hul eerste roeping is om mense lewensmoed te gee wanneer hulle skoonheid raaksien of -hoor. En om die Skepper van alle skoonheid daardeur te ontdek.

Soms plaas God ’n droom in een van sy kinders se hart, en dan sê Hy: “Neem hierdie talent, my kind. Gaan woeker daarmee.”

En lank voordat jy nog ’n naam vir die droom het, wanneer daar nog net ’n roering in jou binneste is om iets te doen waarmee jy God kan eer, begin Hy reeds om ’n netwerk mense en omstandighede voor te berei om op die regte tyd en plek deel van hierdie droom te word.

Vir die buitestander mag dit dalk na toeval lyk, maar vir hulle wat God dien en liefhet, is dit ’n bevestiging dat Hy dáár is. Hy stap vooruit. Hy is aktief aan die werk. Hy leef Hom in die kleinste detail van sy kind se droom in. Want dis sý droom. Hy is die bewaker daarvan.

Hy wil sien hoe sy kind in afhanklikheid nader aan Hom kom – en dalk ook wanneer die droom talm om waar te word. Of wanneer dinge net nie wil uitwerk nie. Wanneer die finansies knyp. Wanneer jy voorregte moet prysgee om die droom te verwesenlik.

Ook wanneer jy duidelikheid moet kry oor of jy besig is om jou éie droom na te jaag of die Here se droom vir jou. Of wanneer jy wonder of jy reg gehoor het toe God gevra het: “Wat is in jou hand, my kind?”

Ek moet voor God kan staan, net soos ek is, met die droom in my hande, en vir Hom kan sê: Here, hier is my droom! Ek gee dit weer vir U. Maak U daarmee soos U goed dink.

God nooi ons uit om ons roeping na te jaag, al voel ons klein en onbekwaam. En al is die doel hoog en ver. Want uiteindelik is Hý die kierie in ons hand.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail