Aan die einde van elke jaar breek daar ’n seisoen aan wat, onder meer, ook as ’n selfdood-seisoen uitgewys word. Baie mense sukkel in hierdie tyd, selfs meer as ander kere, met depressiewe gevoelens en/of angstigheid. Hier is ’n klompie doendinge wat jou kan help om daardie eerste tree uit die donker gat te gee.

DEUR ILETTE COETZER

Sukkel jy om saans aan die slaap te raak omdat jy bang is? En sukkel jy om soggens op te staan omdat jy nie enige nut daarin sien om die nuwe dag aan te pak nie? Moenie dink jy is alleen hierin nie; daar is meer mense in dié bootjie as wat jy ooit sal vermoed.

Jy, soos hulle, sal ook weet hoeveel dra die politiek en die ekonomie in hierdie land tot jou angstigheid en depressiewe gevoelens by.

Maar wat presies is hierdie monsters wat ons dae so versuur en ons van ons lewensvreugde ontneem?

Irene Haasbroek, ’n multi-dissiplinêre praktisyn, beskryf dit só: “As jy op dinge in die verlede fokus en dit nie agter jou kan plaas nie, gee dit aanleiding tot depressiewe gevoelens. Angstigheid word gebore uit dinge in die toekoms wat jy nie kan beheer nie. Die een toestand lei soms tot die ander.”

Ly ék daaraan?
Niemand beleef depressiewe gevoelens of angstigheid op dieselfde manier nie. En verskillende omstandighede veroorsaak dit by verskillende mense. Weet egter: Wanneer jy 70% van die dag deurlopend angstig of negatief voel, of jou voortdurend oor iets bekommer, moet die gevaarligte vir jou begin flikker. En dan moet jy professionele hulp kry.
Depressiewe en angstige gevoelens het die vermoë om jou energie te tap en jou van hoop te ontneem. Dit is wat dit moeilik maak om die eerste tree te gee wat jou sal laat beter voel. Bloot die gedagte daaraan om, byvoorbeeld, te gaan oefen of om meer tyd saam met jou vriende of familie deur te bring, is oorweldigend.

Simptome
Kognitiewe simptome
• ’n Mate van geheueverlies
• Konsentrasieprobleme
• Jy sien slegs die negatiewe in allerlei situasies raak
• Deurlopende kommer

Emosionele simptome
• Buierigheid
• Jy is geïrriteerd, kort van draad
• Jy voel oorweldig
• Jy kan nie ontspan nie
• Jy voel eensaam
• Jy voel oor die algemeen ongelukkig

Liggaamlike simptome
• Allerlei pyne en kwale. Stres het die manier om bestaande skete te vererger
• Diarree óf hardlywigheid
• Naarheid
• Duiseligheid
• Borspyne en hartkloppings
• ’n Lae seksdrang
• Gereelde verkoue

Gedragsimptome
• Jy eet te veel, of te min
• Jy slaap te veel, of te min
• Jy skerm jouself van jou familie en vriende af
• Jy skeep jou verantwoordelikhede af
• Jy gebruik alkohol, sigarette of ander dwelms om te ontspan
• Jy openbaar gewoontes soos om jou naels te byt of met jou vingers op ’n tafel te tik

Hoe hanteer ek dit?
Die eerste stap is altyd die moeilikste. Begin met ’n klein treetjie. Daar is nie ’n kitsoplossing vir dié probleem nie.
Carin Lategan is ’n pastorale berader in Bloemfontein, en sy sê dis belangrik dat hierdie persone ’n stadium in hul lewe moet bereik waarin hulle bepaalde dinge moet begin doen, of hulle nou daarvan hou of nie. Sy noem die volgende “doendinge”:

1 Begin deur vas te stel wat jou so angstig maak
Die meeste angstoestande het snellers. Is dit jou finansies, jou verhouding met jou man of vrou, of is dit werkstres? Wees hieroor eerlik sodat jy met oplossingsgedrewe gedrag kan begin.

2 Volg ’n roetine
Carin sê dis belangrik om ’n “normale” lewenspatroon te probeer handhaaf. “Staan elke oggend op en trek aan. Ruim doelbewus tyd in om te ontspan. Dis belangrik dat jy ’n opstaantyd, ’n wakker wees-tyd en ’n slaaptyd het.”

3 Bly aktief
Dis belangrik dat die sogenaamde “goed voel”-hormone in jou liggaam vrygestel word. Nie almal hou byvoorbeeld van oefening nie. As jy nie gereeld by ’n oefenplek kan kom nie, gaan stap dan om die blok. Begin met tien minute per dag, en stap elke dag ’n entjie verder. Dit help as jy iemand kan kry wat saam met jou kan oefen.

4 Reik uit na jou mense
Die ondersteuning van jou familie en vriende speel ’n groot rol by die oorwinning oor hierdie situasie. Dis normaal om jou terug te trek en van ander te wil isoleer, maar dis belangrik om na jou mense uit te reik. Begin met ’n telefoonoproep. Praat met iemand oor hoe jy voel. Skakel by ’n ondersteuningsnetwerk in.
As jy nie regtig vir ander mense kans sien nie, kry vir jou ’n troeteldier. Dis belangrik dat jy voel iemand anders het jou nodig, en dat jy ’n rede het om elke dag op te staan.

5 Bou jou kragte op
Doen iets wat jou gelukkig maak. Fokus op aktiwiteite wat jou batterye herlaai. En ontspan, al voel jy nie op die oomblik daarna nie. Jy kan selfs met ’n nuwe stokperdjie begin, en jy sal geleidelik weer na jou normale self terugkeer.

6 Begin met ’n joernaal
Probeer om jou lewe so eenvoudig moont­lik te maak. Maak lysies van dit wat jy elke dag moet doen. Dit sal jou help om jou lewe te beplan.
Hou ook ’n joernaal van jou emosies en gevoelens. Dit sal jou perspektief op jou situasie gee. Dis nie altyd maklik om met mense oor jou gevoelens te praat nie, maar wanneer jy dit op papier sit, help dit jou om dit uit jou gestel te kry.

7 Fokus op jou gesondheid
Probeer om kos te vermy wat jou emosies beïnvloed. Kafeïne, alkohol en allerlei vetterige kossoorte kan jou gemoedstoestand beïnvloed. Probeer om nie etes oor te slaan nie, om trouens elke drie tot vier uur iets te eet. Drink genoeg water en verminder die inname van koolhidrate en suiker, omdat sulke kossoorte jou slegs ’n rukkie lank sal laat beter voel. Kry meer vitamien B in, en versterk jou gemoed met kossoorte wat ryk aan omega 3-vetsure is.
Dis ook belangrik om genoeg slaap te kry. As jy daarmee sukkel, probeer oefeninge wat jou kan help om te ontspan.

8 Bly positief
Verander jou denkpatrone. Vra jou af: Wat sal ek aan ’n vriendin sê as sy in my skoene was? Hoe kan ek anders na dieselfde situasie kyk?
Indien dinge regtig ondraaglik word, kry professionele hulp. Dis nie maklik om depressiewe gevoelens of angstigheid te oorwin nie, en dit gee maklik aanleiding tot iets ergers.

9 Bring tyd in die buitelug deur
Sonlig help om die serotonienvlakke in jou liggaam te laat toeneem, en dit lig dikwels jou gemoed. As jy nie kans sien om buite te gaan stap nie, kry ’n stil plek in die tuin om jou koffie te drink. Of skoffel sommer ’n bietjie daar …
10 Moenie sonder meer belangrike besluite neem nie
Wag eers met groot besluite wat jou lewe drasties kan verander. Carin waarsku mense met depressiewe gevoelens teen impulsiewe besluite soos om van werk te verander, om belangrike skuiwe in hul intiemste verhoudings te maak of om ander besluite te neem of keuses te maak wat hulle in elk geval net tydelik sal laat beter voel.

11 Doen vrywilligerwerk
Reik uit na iemand wat swaar kry. Carin sê dis belangrik dat die betrokke persoon besef dat hy/sy belangrik in die gemeenskap is. “Gaan na ’n ouetehuis of ’n kinderhuis en hoor wat hulle nodig het. En wat jy vir hulle kan doen.”
12 Verander jou gedagtes
Irene sê die verandering van jou gedagtes is van die belangrikste stappe om depressiewe gevoelens te bowe te kom. “Begin deur jou gedagtes te analiseer. Is dit wat ek nou voel, waar? Is daar bewyse wat my emosies kan staaf? As ek positief na dieselfde situasie kyk, wat sal verander?”

13 Doen asemhalingsoefeninge
Haal stadig deur jou neus asem, vul jou longe – en begin tel. Praat met jouself: “My liggaam is met kalmte gevul.”
Blaas nou jou asem stadig uit en maak jou longe leeg, totdat jy dit in jou maag voel. Sê sag en rustig aan jouself: “My liggaam raak van spanning en negatiewe gevoelens ontslae.”
Carin sê dis belangrik om hierdie soort oefening ’n paar keer per dag te herhaal.

Ten slotte
Daar is nie ’n kitsoplossing vir diegene wat met depressiewe gevoelens of angstigheid sukkel nie. Daar is heelwat tyd en soms groot ingrype nodig om weer tot jou “ou self” terug te keer.
Carin sê dis belangrik om te verstaan dat dit natuurlik is om soms ontsteld te wees, om jou nie altyd op ’n goeie plek te bevind nie.

Irene troos: “Dis oukei om nie perfek te wees nie. Streef wel daarna om beter te word. Moet net nooit tou opgooi nie.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail