Deur Hesti Greeff

Die laaste ruk het die Here baie swaar op my hart gedruk dat ek iets moet sê oor my pad met borskanker. Ek wil net eer gee aan my Koning, want Hy verdien dit.

Charl, klein Emily en Hesti Greeff. Foto verskaf

Ek was nog altyd ’n gelowige mens. Maar ek kon meer tyd saam met die Here deurgebring het. Ongelukkig besef ʼn mens dit eers wanneer jou lewe geruk word en Hy jou op jou knieë dwing. Wanneer jy geen ander keuse het as om aan God se rokspante vas te hou nie. Ek het gedink, nee man, dit sal nooit met my gebeur nie … Tot my wereld heeltemal geruk was op 30 November 2018. Ek het die pragtigste dogtertjie en so ʼn goeie man en die lewe was goed. Tot ek ’n knop in my regterbors gevoel het so paar maande nadat ek opgehou bosvoed het. Op die ouderdom van 29 is ʼn mens dom. So sekere tekens sien ʼn mens nie eers raak nie, veral as daar geen teken van borskanker in jou familie is nie. Jy weet nie waarvoor om te kyk nie. Na drie afsprake by verskillende dokters waar die terugvoer was: “Alles is normaal, jy’t sopas geborsvoed en borsmelk kan terugkom” (wit afskeiding van die tepel) het ek dit gelos. Jy sit jou vertroue in dié wat beter weet!

November 2018 is my man vir werk Duitsland toe en kom terug met ’n gebreekte hand, weens ’n ski-ongeluk. Dit was ook die tyd wat die Here hulp oor my pad gestuur het. Omdat ons by die hospitaal was vir sy handoperasie het ek besluit ek gaan nou net die nodige toetse doen, want my bors raak nou seer en die knop groter, so why not.

Na die toetse het my huisdokter my verwys na prof Carol-Ann Benn, waar sy verdere toetse laat doen het en ek met fase 3, Luminale B borskanker gediagnoseer is. Ek was stomgeslaam, amper gevoelloos. Al waaraan ek kon dink was, my dogtertjie van een jaar oud het haar mamma nodig, my man het sy vrou nodig, en ek wil so graag nog ’n babatjie hê. Hoekom ek? Daar’s so baie vroue wat al hierdeur is, wat maak my nou anders, en dis toe wat ek besef, hoekom nié ek nie?

Die Here het ’n groot plan en ek is deel daarvan. ʼn Tannie van ons het Woord gekry by die Here dat daar nog ’n babatjie/s sal wees wat dieselfde verhouding sal hê as Dawid en Jonatan. Wat ’n wonderlike vooruitsig. Ek het vir die Here gevra as dit sy wil is om dit asb vir ons moontlik te maak en die behoefte en droom nie uit my hart uit te haal nie.

Op 20 Desember 2018 kon ons baie suksesvol 11 eiertjies vries. Prys die Here vir sy almag.

Emosioneel het ek baie wipplank gery, nou nog, maar na ons huweliksherdenking het daar mossies nes gemaak in my koorsboom. En deur die Woord het die Here my belowe dat Hy na my ook sal kyk, nes Hy na die mossies kyk.

Op 21 Desember het ek begin met chemoterapie: die “red angel” soos ek daarvan hou om dit te noem. Soos enige ander mens, was ek ook nie gelukkig met my lyf nie – my boude en heupe was te groot, selluliet en rekmerke, borste wat nie ferm genoeg is nie ens. Tot jy bosse hare uitkam na ’n chemosessie en net so graag wil hê dit moet teruggroei. Tot jy so erg sooibrand het en dit voel asof jy van binne af aan die brand is, tot jy voor die spieel staan en so dankbaar is dat jou siek bors weer begin voel en lyk soos die gesonde een, dan besef jy dat dit God se lyf is. Wees lief vir wat Hy jou gegee het, en kyk baie mooi daarna.

Tydens die tydperk het ek baie geworstel emosioneel, ek het gebid en gewonder hoe gaan ek hierdeur kom. Daardie dag het die Here weer met my gepraat deur die Woord, ’n tegknikus het by die werk ons printers kom diens, en op sy mou was die woorde Psalm 91. Toe ek dit lees, was dit asof ’n onverklaarbare kalmte oor my spoel, en ek vrede in my hart het. Fillippense 4:19: “By Jesus’ stripes I am healed”. Jesaja 40:31: “Weet verseker, Ek is saam met jou in die vuuroond”. Jesaja 43:2: “En diep water sal jou nie oorstroom nie”. Amen.

Die oggend van Hesti se dubbele mastektomie. Foto verskaf

16 sessies later is my dubbele mastektomie en rekonstruksie gedoen. Ek begin binnekort met 30 sessies bestraling. As gevolg van die bestraling en die rekonstruksie loop ek ’n risiko dat die prostese kan verhard, maar omdat ek ’n Almagtige God dien, wat net soos Job, my belowe het dat ek dubbel en nog baie meer sal terugkry as wat ek verloor het, berus ek my daarby dat God sy Heilige Hand op my bors sal sit en die prostese sal beskerm.

Wat ek ook geleer het was dat die Here met ons almal op een of ander manier praat. Of dit deur mense is, deur sy Woord, deur beelde of deur die Heilige Gees. En dat wanneer ons onsself oopmaak vir sy Stem, ons Hom sal hoor. Wonderwerke gebeur, God het vir ons almal beloftes, wat ons so vinnig van vergeet.

Here Jesus ek bid dat iemand my storie sal lees en dit ’n verskil in hulle lewe sal maak. Ek loof en prys U in my storm. Dankie dat ons as U kinders U kan herhinner aan U beloftes, en U altyd sal voorsien, KYK, U kyk dan na die mossie, so sal U na my ook kyk. Here U het gesê: “My eyes will be open and my ears attentive to every prayer made in this place”. Amen

U genade is genoeg. Every giant will fall.

‘n Spesiale oomblik vir Hesti en Emily.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail