Sy het nooit geweet ’n Dowe kan ook ’n dominee wees nie. Maar dit kán, en sý het een geword. Hier is die verhaal van ’n merkwaardige predikant.

 

Conette le Roux

Betty Wanza is doof. Vandag dink sy terug aan daardie tyd toe die stilte so skielik gekom het.

Sy was maar vier jaar oud, ’n gelukkige jong kind op Kareedouw in die Langkloof. Toe doen sy meningitis op. Ná haar herstel moes sy van voor af leer loop. Eers weer leer kruip.

Maar sy kon nie meer hoor nie. En niks sou dit herstel nie.

Sy was ses toe haar ouers haar na Nuwe Hoop-sentrum in Worcester gestuur het. Hier sou sy begin skoolgaan.

“Op daardie stadium het ek gedink ek is die enigste dowe mens in die hele wêreld,” vertel Betty. “Maar in Worcester sien ek toe dat daar nóg mense soos ek is. En toe maak ek kennis met die snaakse tekens wat die ander Dowes met hul hande maak.

“Dit het my seker ’n jaar en ’n half geneem om gebaretaal onder die knie te kry.”

 

’n Nuwe wêreld

Dit is 43 jaar later en Betty is steeds in Worcester. Proponent Betty Wanza, nou.

Ons gesels in die konsistorie van die De la Bat-gemeente in Worcester. Betty het onlangs vier jaar teologiese opleiding by Deaf Christian Ministry Africa (DCMA) suksesvol voltooi. Saam met haar is twee van haar ouddosente, ds Mia Lintvelt en ds Jan Oberholzer. Hulle tolk.

Dit was by dié teologiese skool, vertel Betty, waar daar vir haar ’n nuwe wêreld oopgegaan het. Net vir ’n oomblik verdwyn haar glimlag wanneer sy sê: “Ek is baie bekommerd oor die dowe gemeen­skap, omdat hulle so baie mis.

“Hulle mis God se Woord. Ek het self byvoorbeeld nie Jesus se kruisdood verstaan nie. Ek het net verstaan Hy is gekruisig en Hy is dood. Ek het so skuldig gevoel as ek iets verkeerds gedoen het. By DCMA het hulle verduidelik dat Jesus vir ons sondes gesterf het om ons te red.”

En nou is dit Betty se taak om dié verlossingsboodskap aan ander Dowes oor te dra. Om die misverstande uit die weg te ruim.

Terwyl Betty kommunikeer, lewe haar gesig en oë. Haar hele lyf praat saam. Hierdie kommunikasiestyl is uiters gepas vir haar werk, sê haar twee gewese dosente. “Dowes hou van drama!”

 

“Jesus lewe! Jesus lewe!”

Voordat Betty haar teologiese studie aangepak het, was sy 20 jaar lank ’n koshuismoeder vir kleuters by haar alma mater.

“Maar toe DCMA onder die dowe gemeenskap begin bekend word, het verskeie mense my aangemoedig om daar in te skryf,” vertel sy. “Ds Jan het aan my verduidelik ons gaan baie in Engels werk, asook met die Bybel se geskiedenis. Maar ek was nie bang nie, ek wou dit doen.

“Dit was nog altyd my passie om God se Woord met ander te deel. Maar ek het nooit gedink dat dit vir my as Dowe moont­lik sou wees om ’n dominee te word nie!”

Vandag is Betty ’n jeugwerker vir al die leerders by Nuwe Hoop-sentrum. Haar twee tolke vertel self van die goeie werk wat sy daar doen, én, voeg hulle by, daar is die afgelope twee jaar ’n proses in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) aan die gang om Betty as predikant in dié kerk te laat bevestig. Hopelik, sê hulle, is daardie heuglike dag net om die draai.

Betty se werkweek is vól: Dinsdae neem sy ’n belydenisklas waar, Woensdae is daar VCSV met die graad 4’s tot graad 7’s en Donderdae met graad 8’s en 9’s. Boonop hou sy op dieselfde dag Kinderkrans vir 250 jong kindertjies.

Vrydae word vir berading opsy gesit. Hier word sy met ’n verskeidenheid probleme gekonfronteer, onder meer afknouery, dwelmmisbruik en alkoholisme.

En Sondag is preek-dag. Dan bedien sy die evangelie aan al die Nuwe Hoop-leerders in hul skoolsaal.

“Ek is mal oor praktiese prediking,” sê Betty. “Ek voer gewoonlik vir die kinders ’n scenario op wat in hul alledaagse lewe kan afspeel. Só verduidelik ek die boodskap in die Woord vir hulle.”

Ja, en wanneer sy preek, bewéég sy, want só het DCMA haar geleer. Dit beteken dat as sy op ’n Sondag na afloop van die erediens by die huis kom, sy eers ’n bietjie op ’n stoel moet gaan sit om te rus.

“Maar nie vir lank nie,” lag sy, “want dan moet ek vir my man en my kind kosmaak.”

Haar man, Jonathan, is ook doof. Haar seun, Delaino, is horend. Betty het hom aangeneem toe hy twee jaar oud was.

En Maandag is sy weer op haar pos by Nuwe Hoop. “Ek het ’n lekker gemaklike verhouding met die kinders,” vertel sy. “Wanneer ek op die skoolterrein verby hulle stap, begin hulle sing: ‘Jesus lewe! Jesus lewe!’

“Of hulle keer my sommer voor en vra ek moet asseblief net daar vir hulle bid.”

 

Deaf Christian Ministry Africa (DCMA)

DCMA is die enigste opleidingsentrum in Afrika wat Dowes oplei om ander Dowes as predikante te bedien. Die NG Kerk, die VGKSA en die AGS erken hierdie kwalifikasie en bevestig proponente wat hier afgestudeer het met die spesiale opdrag om Dowes te bedien.

 

Die drama om vir Dowes te preek …

Ds Jan Oberholzer, sedert 2006 ’n predikant by die gemeente Worcester-De la Bat, vertel dat daar eiesoortige uitdagings aan die prediking vir Dowes is. Hiervan is die prediker se bemeestering van gebaretaal maar een.

Hy verduidelik: “Jy kan nie bloot ’n verhaal uit die Bybel vir hulle lees nie. As jy byvoorbeeld die gelykenis van die barmhartige Samaritaan wil lees, sal jy eers ’n klein opvoering moet hou. Dalk iets soos oor hoe Dowes by ’n braai hul rug vir ’n horende persoon draai en glad nie met hom of haar meng nie. En dit net omdat dié mens anders as hulle is. Dan vra jy jou lidmate of hulle dink dit is reg om so op te tree. En eers dán lees jy die gelykenis.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail