Baie mense ervaar dat ’n tweede huwelik hulle voor ’n keuse stel: my geluk teenoor my kind s’n. Want dit is ’n feit dat ’n hersaamgestelde gesin nie oornag ’n liefdevolle huisgesin word nie. Dit vra harde werk, baie geduld en hope liefde.

Deur Ilette Coetzer

Jy is nie my ma nie!”

Dit word dikwels en in vele huishoudings gehoor. Dit is ’n verwyt, ja. Maar dalk ook ’n hulpkreet.

Baie keer is die nuwe paartjie so verlief en so gelukkig dat hulle blind is vir hul kinders se behoeftes. Die grootmense reken hulle het ’n tweede kans op geluk gekry, maar die kinders voel dat hulle nie ’n kans kry om hul vrae, frustrasies en selfs woede te lug nie.

Uiteindelik is dit die ouers wat met nuwe keuses gekonfronteer word, onder meer: Kies ek my eie geluk, of buig ek agteroor om my kind se behoeftes in ag te neem?

Nee, niks hier is klinkklaar nie. En die keuses is nie wedersyds uitsluitend nie. Maar dat daar verskeie kwessies is wat uitgeklaar moet word, dít is seker.

Nie eenvoudig nie

Kinders kan ’n tweede huwelik maak of breek. Hoewel hulle nie werklik inspraak by die aanvanklike besluit gehad het nie, kan hulle wel later ’n bepalende rol speel in die sukses al dan nie van hierdie nuwe verhouding.

Gewoonlik het dit met hul idee van lojaliteit te doen. Die kinders reken dat hulle dislojaal teenoor hul eie ouer is wanneer hulle van die stiefma of -pa hou.

Daarby is die kinders gewoonlik ook die enigste kontakpunt wat tussen die twee biologiese ouers oorgebly het. Eersgenoemde verkeer dus in die posisie om allerlei inligting, ook van die verwronge soort, aan die onderskeie ouers oor te dra. Hulle is gou om stories aan te dra – wat nie altyd die reine waarheid is nie …

Kinders is meesterlike manipuleerders, en navorsing wys uit dat hulle dikwels die inisieerders is wanneer daar konflik in ’n tweede huwelik voorkom.

“Kleuters kom amper nie agter dat hul wêreld drasties verander het nie. Kleiner kinders is ook geneig om ’n stiefouer makliker te aanvaar, omdat hulle ’n ouerfiguur mis en maar te bly is as daar weer struktuur in die huishouding kom.”Sandra Barkhuizen is ’n sielkundige in Kimberley. Sy sê: “Hoe ouer ’n kind is, hoe moeiliker is die aanvaarding van stiefouers.

Wanneer die kinders egter reeds in hul tienerjare is, is dit nie altyd so maklik nie. Sandra sê: “Tieners hunker nie noodwendig na ’n pa- of ’n ma-figuur nie. Dit is vir hulle dikwels ook moeilik om hul ouers in ’n romantiese verhouding met ’n ander persoon te sien.

“Bloot die idee van ’n stiefouer is reeds moeilik om te verwerk. En daar is dikwels ook ’n soort mededinging tussen die kinders en die stiefouer. Die kinders wil nie ’n biologiese ouer met ’n stiefouer deel nie.

“Uiteindelik,” sê Sandra, “speel die vermoë om deur te druk ’n deurslaggewende rol. Om ná ’n krisis te kan herstel.

“Verlies is ’n deel van die lewe, maar almal het nie die vermoë om gou met ’n nuwe situasie vrede te maak nie. Sommiges kry dit makliker reg as ander. Daar is diegene wat letterlik jare neem om ’n nuwe gesinstruktuur te aanvaar. Daarom moet die betrokke ouers hul kinders én hulleself minstens twee jaar gun om aan die idee van ’n nuwe, hersaamgestelde gesin gewoond te raak.”

Harde werk

Dit is belangrik dat die betrokke ouers ferm oor hul besluite is. Hierdie beslistheid kan só klink: “Ek is baie lief vir jou, maar ek is ook baie lief vir oom Johan. Hy is hier om te bly. Jy hoef nie vir hom lief te wees nie. Jy hoef nie eens van hom te hou nie. Maar jy moet hom respekteer.”

Sodra jou kinders agterkom dat jy ’n besliste standpunt inneem en dat jy ernstig oor jou besluit is, sal dit vir hulle makliker wees om jou besluit te aanvaar.

Maar dit is op geen manier maklik nie. Dit is inteendeel hárde werk. Elke gesinslid het immers op die een of ander manier iets verloor.

Elke gesin het sy eie gewoontes en ’n eie waardestelsel. Wanneer daar ’n tweede huwelik ter sprake kom, kan juis hierdie gevestigde eiesoortigheid tot onsekerheid en selfs konflik aanleiding gee.

“By óns huis mag ons heelaand televisie gekyk het,” lui ’n bekende soort verwyt. Eensklaps is ook die stiefouer in twee geskeur. Daar is die belange en begeertes van die stiefkinders teenoor dié van die eie kinders.

Dit is dus belangrik dat hersaamgestelde gesinne nuwe verhoudings moet vestig. Dit is nie altyd so maklik nie. Oorweeg gerus die volgende:

  • Erken aan julleself en teenoor mekaar dat julle uit verskillende gesinne met ver­skillende agtergronde kom.
  • Begin met gereelde huisvergaderings. Gee elkeen ’n beurt om te sê wat hom of haar pla. Gee elkeen ’n kans om voorstelle te maak oor hoe om dinge in die huis te doen, of hoe om dit te verander indien nodig. Praat met mekaar oor huistake, wie wát moet doen. Praat met mekaar oor vakansies en wat elkeen se behoefte of wens is. Praat oor dinge soos sakgeld. Die vergadering moet handel oor hoe julle as gesin moet funksioneer.
  • Begin om saam besluite te neem – en sluit die kinders doelbewus daarby in. Vra elkeen se mening, en respekteer dit.
  • Bou nuwe tradisies, veral oor belangrike tye soos Paasfees en Kersfees.
  • Besluit om mekaar te ondersteun.
  • Moenie die verhouding met die biologiese ouer/biologiese kind afskeep nie.

 

Rooi ligte …

Al die kinders moet toegelaat word om hul emosies onder beheer te kry, al neem dit lank. Wees geduldig met hulle; hul lewe het handomkeer verander.

Wees sensitief vir jou kind se gevoelens. Dit mag wissel tussen woede, skuldgevoelens en doodgewoon swak gedrag. Jou kind voel dalk uitgesluit en moet eers weer sy of haar plek in die nuwe gesinstruktuur vind.

Wanneer jy agterkom dat jou kind nie voldoende by die nuwe omstandighede aanpas nie, moet jy professionele hulp inroep. Daar is bepaalde gevaartekens in dié verband waarvoor jy op die uitkyk moet wees. Dit sluit in:

  • Jou kind tree openlik antagonisties teenoor die stiefouer op. Sy/haar woedebuie is ook teen dié persoon gerig.
  • Een van die ouers kan weens stresfaktore nie na haar/sy kind se behoeftes omsien nie.
  • ’n Stiefouer of biologiese ouer trek een van die kinders ooglopend voor.
  • Jou kind hou hom/haar eenkant of onttrek hom/haar aan die gesin en aan maats.
  • Jy kom agter dat jou kind se slaapgewoontes verander.
  • Jy kom agter dat jou kind se eetpatrone verander.

 

Ten slotte

Dit mag soms vir jou voel asof hierdie ingewikkelde situasie nooit gaan verbeter nie. Dat dit ’n onmoontlike onderneming is om te probeer om nuwe gesinstrukture te skep.

Dit is ongelukkig so dat geen ouer vir ’n kind kan voorskryf hoe om in ’n nuwe situasie te voel of op te tree nie. Dikwels gebeur dit dan ook dat kinders doodeenvoudig nie die nuwe ouer wil aanvaar nie. En dan ook die rug op die eie ouer draai.

Dit is pynlik. En bitter moeilik om te aanvaar.

Maar die moontlikheid vir genesing is nooit uitgesluit nie. Tyd heel baie wonde. Wees net bedag op die moontlike slaggate, en moenie huiwer om professionele hulp in te roep nie.

Sorg ook dat jy vrede maak met die bagasie wat jy saam met jou dra. Leer om doelbewus op die toekoms te fokus.

 

Marlene* het vinnig verlief geraak. Ná ’n blitsromanse het sy sak en pak Laeveld toe getrek. Sy wou egter nie haar kind ontwrig nie en het gekies om haar by haar pa te laat agterbly.

Die prys wat sy vir haar keuses betaal het, was baie hoog. Francois,* haar nuwe liefde, se kinders het haar glad nie aanvaar nie en die lewe vir haar bitter moeilik gemaak.

Dit is nou ’n jaar later. Sy worstel met die vraag of sy die regte ding gedoen het. Haar eie kind is kwaad vir haar, en Francois se kinders laat haar nie toe om deel van hul gesin te word nie.

* Nie haar regte naam nie

 

Wie erf wat?

As ’n ouer sterf, is daar dikwels ’n probleem met die erflating. Wie erf wat?

Die enigste uitweg is behoorlike kommunikasie. Doen dit vroegtydig. Daar moenie allerlei onaangename verrassings opduik nie. ’n Bakleiery oor erfporsies ná ’n geliefde se dood is nie net hartseer nie, dit is ook duur. Daar is dikwels weinig oor om te erf as die bakleiery eendag verby is …

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail