Alle ouers word op die een of ander tyd in hulle lewe met ’n leë nes gekonfronteer – die kinders is nou groot. Hulle begin werk, gaan universiteit toe, trou. Hou nou gemaak, Ma en Pa?

Deur Ilette Coetzer

 

Dit is nét so … en dan is hulle weg. Uit die bekende blyplek, die sagte skuiling uit.

Eensklaps is die nes leeg.

“Ek stap doelloos deur die huis; dit voel asof iemand dood is. Ek kan nie ophou huil nie. Ek weet ander ouers gaan deur dieselfde ding, maar dit maak dit nie vir my minder erg nie.”

Só vertel ’n ma.

Ja, dit is sekerlik een van die moeilikste fases in enige ouer se lewe. Daardie oomblik wanneer jou jongste kind die huis verlaat – en net julle twee, die ouers, bly agter.

Weg is julle kind, en wég die oggendlawaai, die nat handdoek op die vloer. Daar is nie meer ’n kosblik om te pak nie. Nie meer ’n onderwyser om te bel en seker te maak die boodskap het korrek by jou uitgekom nie.

Alles het te vinnig gebeur. Alles is net te gou verby.

En boonop begin die volgende reeks bekommenisse: Sal my kind die mas alleen opkom? Wat as …?

“Moenie die omvang van hierdie aanpassing onderskat nie,” sê Elizma van der Smit, ’n Klerksdorpse sielkundige. “Die aanpassingsperiode van aktiewe mawees tot onafhanklike vrouwees, kan tussen 18 maande en twee jaar duur. Gun jouself dié tyd. Werk deur jou verlies. Rou. En uiteindelik kan jy begin om jou lewe te herbou. ”

Uiteraard is daardie eerste weke – die skok, die hartseer, die eensaamheid, die terneergedruktheid – die heel ergste, sê Elizma.

“Maar jy kán daardeur kom. Dit is wel belangrik om allereers na jou persepsie van dié fase in jou lewe te kyk: Jy kan dit òf as ’n gapende wond òf as ’n nuwe geleentheid in jou lewe beskou.”

Volg hierdie klompie stappe, en kyk of dit dié proses vir jou makliker maak

  • Haal asem: Die lewe gaan aan. Gun jou genoeg tyd om hierdie fase in jou lewe af te sluit; daar is nie ’n handleiding wat sê dat die routyd en die eensaamheid ná twee weke verby moet wees nie. Elke mens hanteer die nuwe situasie op sy of haar eie manier. Dat dit jou dalk langer as jou vriendin neem om dié nuwe fase te aanvaar, beteken niks. Elkeen het ’n eie tempo.
  • Aanvaarding: Dit is dikwels vir ’n ouer moeilik om te aanvaar dat hy of sy nie meer besluite namens die kinders kan neem nie. Aanvaar daarom jou kind se besluite, al stem jy nie noodwendig daarmee saam nie. Kinders moet toegelaat word om hulle eie foute te maak; jy kan hulle nie die pyn van verkeerde besluite spaar nie.
  • Wees saam met jou kind opgewonde oor die toekoms: Moenie die kind skuldig laat voel omdat hy of sy “te min” huis toe kom of kwansuis van julle vergeet het nie.
  • Hou die kommunikasiekanale oop: Dink baie mooi voordat jy die foon optel om (weer) te bel of te SMS/WhatsApp. Hoeveel boodskappe hét jy al vandag gestuur …?

Sien, ’n ma wil mos sorg en ver­sorg – en dan gaan dit soms só: Onthou om elke week jou klere te was; Moenie ongesonde kos eet nie; Wees versigtig vir verkeerde vriende; Ek het nog nie jou toetsrooster gekry nie …

As jy voortgaan om jou kind soos ’n skoolkind te behandel, is die kanse groot dat kommunikasie al hoe moeiliker en al hoe minder gaan word. Hoe meer jy probeer vasklou, hoe vinniger gaan jou kind van jou af probeer wegkom. Gee jou kind die reg om die kommunikasie-reëls neer te lê.

En as daardie behoefte om die foon op te tel en jou kind te bel, té erg word … tel tot by vyf. Vra jou af: Is dit régtig nodig om nóú te bel?

  • Wees voorbereid: Waarvan hou jy? Wat het jy altyd met vriendinne gedoen voordat kinders, jou beroep en jou huishouding jou ingesluk het? Begin weer daarmee.

As jy nie heeltemal seker is wat en hoe nie, oorweeg voorlopig die volgende: Gaan drink koffie saam met ’n vriendin. Gaan na ’n gimnasium toe. Kry ’n persoonlike afrigter. Sluit by ’n boekklub aan. Eet ’n lekker stuk koek. Nooi vriende oor vir wie jy al lankal ’n ete skuld. Begin met ’n stokperdjie. Bederf jou met ’n dag by die spa. Dr Margaret Rutherford sê: “Jou kind se lewe gaan gevul wees met nuwe ervarings. Dit sal goed wees as joune ook is.”

  • Steun op jou vriende: Moenie bang wees om jou gevoelens met ander te deel nie. Erken voor hulle dat jy jou kind mis. En as dinge te erg raak, maak ’n afspraak by ’n professionele helper.
  • Herontdek die mens op wie jy des­tyds verlief geraak het: Gaan weekliks op ’n “date night”. Braai in die middel van die week. Skryf saam in vir kookklasse. Oefen saam. Begin om as ’n paartjie nuwe geleenthede aan te gryp. Kortom: Sit die pret in julle huwelik terug.
  • Wees avontuurlustig: Wat wou jy nog altyd doen? Bekyk die wêreld deur ander oë. Benut laer, buiteseisoense tariewe en reis die land vol. Beplan ’n staptoer, gaan kamp, en fokus weer op julle behoeftes. Daar is elke maand verskeie reisaanbiedinge in tydskrifte en koerante beskikbaar. Vra jou af: Hoekom nie?
  • Begin weer studeer: Waarvoor wou jy nog altyd leer? Baie mense verander in hulle leeftyd twee, drie, en selfs verskeie kere van beroep.
  • Rig nou jou huis vir júlle in: Baie ouers beleef die eensaamheid van hulle leë huis akuut as hulle saans by die twee gedekte plekke inskuif. Oorweeg die volgende: Vervang meubels wat nie meer prakties is nie; skaal af. Koop nuwe badkamerhanddoeke en beddegoed. Met ’n klomp tieners in die huis was wit handdoeke altyd taboe; nou nie meer nie.

Belê in julle as ’n paartjie, en maak julle huis ’n plek wat nou vir júlle gerieflik is en by julle nuwe leefstyl pas. Baie egpare skuif selfs die televisiestel nou na die slaapkamer toe.

Elizma sê: “As ouers hulle veranderde rol en die nuwe fase met ’n oop gemoed aanvaar, is hulle huis nooit werklik leeg nie. Jy sál die ‘letting go’ oorleef; almal voor jou het al.

“Meer as dit: Jy sal jou eie menswees weer vind – en voor jy jou oë uitvee, lui die foon en die geliefde stem sê in jou moeder-oor. “Ma, kan ons dalk gesels?”

Maar … o, vrek!

Jy het nou net mooi vrede gemaak met die leë nes … en dan gebeur die lewe. Jou kinders skop hulle studie op; hulle verloor hulle werk; daar is groot huweliksprobleme en selfs sprake van ’n egskeiding. Of hulle wil verder studeer, of ’n nuwe onderneming begin. Soms vra hulle jou om ’n kleinkind voltyds op te pas.

En as jy jou weer kom kry, is jou kinders op die een of ander manier weer terug in die huis. Ná maande en selfs jare se onafhanklikheid, vryheid en op-die-ingewing-van-die-oomblik-vakansies, het jou kind jou weer nodig. En dalk onder dieselfde dak as jy.

Dié kopskuif is nie altyd maklik nie. Jou kind het destyds die huis as ’n tiener verlaat, ’n jong volwassene met sterre in die oë. En nou is hy of sy terug – as ’n ontnugterde volwassene.

Moenie nou kop verloor nie. Elizma sê: “Dit is belangrik om uit die staanspoor nuwe grense te stel. Gee hulle genoeg vryheid, maar maak seker dat hulle ’n behoorlike bydrae tot die uitgawes en ander verantwoordelikhede lewer.

“Dieselfde reël geld as destyds toe hulle die huis verlaat het: Hulle is nou grootmense en nie meer kinders nie. Hanteer hulle soos grootmense!”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail