Reeds van kleins af word ons geleer om te bid. Ons leer dat God hoor as ons vra, dat God luister as ons praat. Ons glo dit vas. Maar is daar nie dalk méér aan gebed as dit nie?

 

Deur Ronell Bezuidenhout

 

Vroeg-vroeg leer gelowige ouers hul kinders hoe om te bid: Teen slaaptyd bid Mamma eers voordat die bedliggie afgeskakel word; Pappa bid hardop voordat almal wegval om te eet.

Ook by die kleuterskool sit die kleintjies “met handjies hier tesame” en sing-bid saam.

En algaande leer ouers hul groter kinders dat jy enige tyd van die dag met God kan praat. Prewel-bid voor ’n eksamenvraestel is heeltemal in orde.

Wanneer jy op ’n dag die nood van die wêreld rondom jou begin raaksien, weet jy dat jy ook dít na God mag bring. God luister altyd, jy kan Hom maar te eniger tyd en vir enige iets in gebed nader.

Só leer ons hoe gebed werk: Ons praat, God luister. Ons noem dinge op, en God hoor ons.

Ons sien pyn en noem dit vir God, vra hulp. Ons beleef ’n krisis en verduidelik aan God wat die krisis is, bid om uitkoms.

Dit gebeur bitter selde dat ouers hul kinders leer dat dinge eintlik ándersom werk. Dat ons niks hoef op te noem oor wat in ons wêreld gebeur of skeefloop nie; God weet dit reeds.

God sien die nood in die wêreld lánk voordat ons daaroor praat. God weet presies wat en hoe die probleem is, lank voordat ek met my gebedsvoorstel of twee kom oor wat myns insiens nodig is om dit op te los …

 

Hoe dan nou?

Dit alles laat die vraag: Werk gebed regtig soos ons dit geleer het? Is dít regtig die orde: My woorde, God se ore?

Volwasse gelowiges sal tog dadelik weet dat gebed geen eenrigting-kommunikasie is nie. Nee, God praat beslis! En dit maak van gebed natuurlik tweerigting-kommunikasie, nie waar nie? God praat telkens deur sy Woord, en ons luister. Daarna is dit ons beurt om te praat, en God luister.

Ag, en nou klink alles weer so meganies, so resepmatig: Eers die Een, dan die ander een …

Is dit nie dalk moontlik dat ons idee van gebed as ’n reeks heen-en-weer-woorde die punt mis nie? Buitendien, wie het ooit gesê dat woorde die grondslag van ons gebede moet vorm?

Moet ons nie dalk twee keer dink oor die moontlikheid dat gebed veel eerder ’n houding as ’n aktiwiteit is nie? Dat gebed eerder ’n totale stroping van al ons ver­moëns verteenwoordig nie? Dat gebed veel meer met broosheid en intimiteit te make het as met praat en hoor, vertel en luister, versoek en verklaar?

Dan is my gebede dalk eerder ’n refleksie van my identiteit voor God. En dit maak sin. Ek en my gebede kom immers nakend voor Die Bruidegom te staan …

 

Intimiteit

Die taal van die verstand het in ons moderne lewe die enigste taal geword waarmee ons kommunikeer: Ons bepráát dinge; ons wil verstáán. Want as jy verstaan, kry jy ’n greep daarop.

In die Bybel verskil “verstaan” en “ken” van mekaar. Ek kan verstaan en steeds in beheer wees, maar die Bybelse begrip van “ken” (as geslagtelike intimiteit) beteken dat ek my by jou, vir jou, prysgegee het.

En as gebed dan ’n totale prysgawe van myself is, impliseer dit dat my pleitredes vir dié dinge wat ek graag wil hê God vir my moet doen of bewerkstellig of aan my moet gee, irrelevant raak. Nou word gebed niks minder nie as liefdestaal. Dit is die bruid en die bruidegom wat by mekaar tot rus kom.

Gebed word nou die uitdrukking van “by jou is ek veilig”. Dit word die waardering vir die omhelsing van die ander een. Die ontmaskering van alles wat voorheen intimiteit op ’n afstand gehou het.

Dit is geen wonder nie dat die Middeleeuse mistikus, Meister Eckhart, hieroor só skryf: “Die enigste gebed wat ons ooit hoef te bid, is die gebed van dankbaarheid.” Die Minnaar het my lief! Die Minnaar se naam is Liefde. Die Minnaar se styl is liefhê. Dit wat die Minnaar in my laat opwel, is liefde.

Só beskou, kan gebed op geen manier bloot lippetaal wees nie. Nee, dit word die taal van my hart. Dit word lyftaal.

Gebed, so sê ons ou geloofsvaders en -moeders reeds, is ’n belewenis van intimiteit met God.

Dit is tog nie vreemd nie. Ons sê immers dat ons in ’n verhouding met God is, dat ons gemeenskap met God beleef. Ons praat selfs van ’n eenwording met God.

Dit is gelade begrippe dié. En ons gebruik dit omdat ons nie ander, beter, woorde het om ons diep hunkering na God te verwoord nie.

Die bekende Carlo Carretto, skrywer van onder meer Letters from the desert, sê: “Dit is my siel wat met ’n enkele kyk met God kommunikeer.” Dan is dit tog heeltemal anders as die “ék” wat nog in beheer is terwyl ek met God praat.

Soos wat intimiteit impliseer dat ek my oorgee aan emosies waaroor ek geen beheer het nie, só word my eenwording-met-God ’n oorgee van my ek-wees aan die Minnaar wat my gevorm het.

Hoeveel kan ons regtig hiervan verstaan? Ons met ons besliste menings, ons met ons woordvaardigheid? Min van ons sien tog kans om regtig buite beheer te wees.

Maar intimiteit met God vra juis dit. Só is gebed om buite beheer te wees. Oorgegee aan God, die Bruidegom.

Is dit hoe ons oor gebed dink?

Ek wonder soms. Ons ken gebed as práát, hoogstens as ’n gesprek. Maar ken ons die oomblik wanneer ons in ons naakte broosheid God toelaat om ons nader te trek? Wanneer ons tuiskom in God se ruimte, daar waar woorde onnodig is?

Waarskynlik is dit ook waar van ons behoefte aan intimiteit met God.  Die ou geloofsvaders het gesê: U is nader aan my as ek aan myself. Intimeor intimeo meo.

En die enigste manier hoe dit bewerkstellig word, is om met die stroping van jouself te begin. Met ’n totale oorgawe aan God. Met die weggee van jou eie beheer. Met die laat val van elke masker. Met die verwondering oor wat liefde werklik beteken.

Ja, jy kan gebed beskou as bloot praat en vra en bely; dit is tog nie verkeerd nie. Maar dan mis jy so baie!

 

Stilte

Daar is dus ’n ander dimensie wat met gebed ervaar kan word. Dit gebeur wanneer gebed naaktheid voor God word. Wanneer woorde irrelevant raak. Wanneer stilte die kommunikasiemedium word.

Maar om gebed se primêre taal te wil “stilte” noem, is vir ons erg vreemd. Om daarmee saam gebed se ingesteldheid as “luister” te tipeer, is eweneens moeilik.

Tog begin die eerste opdrag vir Israel se gebedslewe met die volgende woorde: “Luister, Israel …” (Deut 6:4).

En onthou jy die apostel Jakobus se opdrag: “… elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie …” (Jak 1:19)? Is dit nie juis die beste raad vir ons gebede nie?

Die Nuwe-Testamentikus, Scot Mc­Knight, leer ons dat die grootste bekommernis oor God se volk altyd was dat “my volk luister nie”.

Ja, gaan soek maar op: Die woordjie “luister” verskyn meer as 1 500 keer in die Bybel. In die laaste boek in die Bybel klink dit male sonder tal op: Laat hulle wat ore het, luister!

Ons leef in ’n tyd waarin daar soveel stemme van alle kante af op ons afpyl. Ons kry klanke en geraas met moedersmelk in.

Bowendien hou ons eie “binnepraat” net nooit op nie, selfs al praat ons mond nie meer saam nie. Hoe op aarde sal jy ooit God se stem kan hoor?

Net op dié manier: Jy sal alle ander stemme moet laat wegsterf. Net só sal jy, soos Elia, ontdek hoe God se stem klink. Soos “’n fluistering in die windstilte” (1 Kon 19:12).

Dit is tog so dat niemand sy liefde aan ’n geliefde uit-bulder nie! Nee, hierdie liefdesverklaring geskied gewoonlik in ’n stil oomblik. Daar waar ’n intieme blik die hardste praat. Sonder woorde.

En as jy self nie stil geword het nie en die woord-lose kyk nie gehoor het nie, is die oomblik by jou verby …

Só werk dit ook met gebed.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail