Jy ken die gevoel: ’n Onverwagse warmte wat deur jou lyf spoel wanneer jy ’n bepaalde stuk musiek hoor. Of iets ruik wat jou aan iemand herinner, wat jou laat glimlag. En jou eensklaps vér laat terugdink …

Deur Engela Duvenage

Linus Serfontein hou graag die reaksie dop van groepies feesgangers wat by sy Streepsak-onderneming se stalletjie verbyloop. Dikwels vang hul oog ’n windpomp-ontwerp op een van Streepsak se gewilde reeks poncho’s, of die sketse van die leesboekkarakters “Boet en Saartjie” op ’n lapservet.

Hy luister in die daaropvolgende uitruil van staaltjies na hoe die feesgangers iets uit hul kinderdae onthou – en dan sien hy hoe hulle die keuse maak om by sy stalletjie te vertoef.

“Hulle koop nou wel nie altyd die items waarop Boet en Saartjie verskyn nie,” vertel hy, “maar dié karakters se prentjies is genoeg om baie mense te laat stilstaan, om dan die res van my reeks te bekyk. Om uiteindelik iets te koop.”

Linus is ’n Port Elizabethse entrepreneur, en oor die Boet en Saartjie-leesboek se karakters lag hy en sê dat die meeste van sy kliënte heel moontlik jare laas daaraan gedink het. Maar Streepsak se sketse verskaf waarskynlik ’n baie sterk visuele sneller wat tot gevolg het dat ’n hele reeks nostalgiese gedagtes opgediep word.

“Mense dink eensklaps weer oor hul kinderjare,” reken hy. “Oor hoe hulle leer lees het, oor oudonderwysers en die eerste skoolmaats.”

Tans is een van Streepsak se voorste verkopers ’n reeks waarop lirieke uit die sanger Coenie de Villiers se gewilde liedjie “Karoonag” gedruk is. Dit lui só: “Ruik jy katbos en ruik jy kambroo/as dit reën in die Klein Karoo”.

Linus sê hy reken dat mense dit koop omdat hulle sulke sterk en positiewe assosiasies met die “goeie ou dae” het, met die Karoo en met die plaaslewe, en met vakansies.

Ook die nuwerwetse materiaal-doilies is gewild. Dit het ’n donkie-en-Karootema en pas oor ’n melkbeker. “Baie mense onthou nog hul ouma se gehekelde doilies in haar plaashuis,” vertel hy.

Nostalgie verkoop

Bemarkers en vervaardigers weet dit al lankal: Nostalgie verkoop. Herinneringe en staaltjies uit die verlede is heel moontlik die rede waarom daar soms by ’n reünie of ’n veiling buitensporige pryse vir ’n vuil rugbytrui of ’n verslete krieketbal betaal word.

Verkoopsyfers én navorsing wys hoe nostalgie verbruikers kan beïnvloed. Volgens ’n onlangse studie in die Journal of Consumer Research gee mense makliker geld uit as hulle sentimenteel voel oor iets uit hul verlede, eerder as wanneer hulle nuwe gedagtes huldig of aan die toekoms dink. “Dit is asof hulle in sulke tye minder oor die waarde van geld dink, en minder fokus op hul begroting of beursie,” sê Jannine Lasaleta van die Grenoble School of Management in Frankryk.

’n Legio produkte – van plakkate en blikborde tot koekies seep en selfs toilet­sproei – sinspeel op die verre verlede, of op geure en kleure uit mense se kinderdae. En dan doelbewus op ’n sentimentele manier.

Interessant genoeg: Navorsing wys uit dat die meeste herinneringe wat danksy geure opgeroep word uit ’n mens se vroeë laerskooljare kom.

Ook musiek is ’n belangrike sneller, en daarom gebruik adverteerders graag liedjies uit spesifieke tydperke om bepaalde gewaarwordings by verbruikers te ontlok.

Nostalgie is goed vir jou

Prof Constantine Sedikides en dr Tim Wildschut van die Universiteit van South­ampton in Engeland bestudeer nostalgie as deel van hul studies oor hoe mense se identiteit en eiewaarde ontwikkel. Hulle beskryf nostalgie as komplekse, oorwegend positiewe gewaarwordings oor die verlede wat veral gelukkige gevoelens ontlok.

Dit word onder meer geprikkel deur ’n bekende geur, ’n klank, ’n kykie na ’n aandenking of ’n gesprek met iemand anders. Dit gebeur veral wanneer jy effens terneergedruk voel, of alleen is.

Die gedagtes wat in sulke tye opgeroep word, is heel dikwels van ’n tere, persoonlike en betekenisvolle aard, en behels byvoorbeeld herinnerings aan jou kinderdae of aan ’n spesiale verhouding. Hierdie herinnerings is rooskleurig getint, en word dikwels as “die goeie ou dae” beskryf.

Hoe moet daar oor nostalgie geoordeel word?

Beslis positief! sê die twee Britse navorsers. ’n Gesonde hoeveelheid sulke verlede-flitse laat jou positiewer oor die toekoms dink én aan die groep waarin jy jou tans bevind.

Dié soort terugskouing kan boonop jou siening oor jouself verbeter. Dit gee jou byvoorbeeld die geleentheid om weer ’n gebeurtenis op te roep waartydens jy uitgestyg het of geliefd gevoel het. Om deur ou foto’s te blaai, kan selfs eensaamheid verdryf.

Nostalgie versterk ook gevoelens van gemeenskaplikheid en sosiale ondersteuning, dit laat jou deel voel van ’n groep. En dit kan selfs jou eksistensiële vrese oor menswees help besweer omdat dit weer, al is dit vlietend, betekenis aan jou lewe gee.

Nostalgiese gedagtes speel dikwels ook saam met jou lyf (of is dit nou andersom?): In een van Sedikides en Wildschut se eksperimente moes vrywilligers ’n maand lank elke dag neerskryf presies hoe nostalgies hulle voel.

Die bevinding was uiteindelik dat mense op kouer dae heelwat meer sentimenteel was. Hieroor sê die navorsers: “Dit wil voorkom asof mense om die een of ander rede meer dikwels gelukkige herinneringe oproep wanneer hulle koud kry.”

In ’n ander eksperiment is vasgestel dat mense wat aan koue blootgestel is, warmer voel wanneer hulle na liedjies uit hul kinderjare luister. Hieroor sê die navorsers: “Dit kan net verklaar word deur die oorkruising in die deel van die brein wat betrokke is by hoe mense gevoelens en liggaamlike sensasies ervaar.

“Nostalgiese gedagtes maak ons nie noodwendig fisies warmer nie, maar dit laat ons minstens dink dat dit warmer is as wat dit werklik die geval is.”

En dit stem ooreen met navorsing wat uitgewys het dat mense se belewenis van hoe warm of koud ’n bepaalde vertrek is, nie noodwendig ooreenstem met wat op ’n termometer aangedui word nie.

Als in die kop?

Japannese navorsers, onder leiding van Kentaro Oba van Tokio se Metropolitaanse Universiteit, het MRI-breinskanderings gebruik om te probeer vasstel wat gebeur wanneer vroue oor ’n voorwerp uit hul kinderdae nostalgies raak. Só het hulle vasgestel dat daardie dele van die brein wat onderskeidelik met geheue en beloning te doen het, dan gelyktydig geaktiveer word.

Die setel van dié breinaktiwiteit hang egter af van die soort nostalgiese prikkel waaraan die deelnemers blootgestel is: Soms het die herinnering ’n emosionele of ’n persoonlike betekenis gehad, en ander kere het dit eerder met ’n spesifieke tydperk in die betrokkene se lewe te doen gehad.

Hoe ook al: Die gevolg was dieselfde. Verlange. Heimwee. Nostalgie.

 

Goed of sleg?

Die meeste van ons sal minstens een keer per week ’n vlietende nostalgiese gedagte geniet – en die helfte van ons tot vier keer per week. En, ja, ons geniet dit. Báie.

Maar nostalgie is nie altyd in ’n positiewe lig beskou nie. Die woord self (uit die Grieks: nostos wat “terugkeer” beteken, en algos wat “pyn” beteken) verklap iets van dié emosie se aard. Dit het blykbaar sy oorsprong in die Griekse skrywer Homeros se verhale oor Odusseus, die held van die Trojaanse Oorlog, wat gedurende sy jare lange avonture baie erg na sy vrou Penelope verlang het, en na Ithaca, die eiland waar hy vandaan kom.

Die woord self is na bewering die eerste keer in die 17de eeu deur ’n Switserse dokter, Johannes Hofer, gebruik. Dit is onder meer ingespan om die intense verlange te beskryf wat Switserse huursoldate na hul Alpynse tuistes ervaar het terwyl hulle in die diens van verskeie Europese konings gestaan het.

Oor die eeue heen is dié soort heimwee as onder meer ’n neurotiese versteuring beskryf, of as ’n soort melancholie en selfs depressie beskou. Eers in die laat 20ste eeu het mense begin besef dat nostalgie baie meer behels as bloot ’n erge verlange huis toe (oftewel “homesickness”) en dat daar ook vele positiewe aspekte aan dié emosie is.

Hoe nostalgies is jy?

Nie elke siel is ewe nostalgies nie. Op die webwerf van die Universiteit van Southampton se nostalgie-navorsingsgroep kan jy ’n vinnige vraelys invul en só vasstel waar jy jou op die nostalgie-barometer bevind.

Gaan loer gerus by: www.southampton.ac.uk/nostalgia

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail