Hy bring die Goeie Nuus op die sokkerveld. En daarmee saam ’n hegte band wat hoop en liefde bring.

Deur Dawid Yzelle; Foto: Rahel Hagemeier

In ’n land en ’n wêreld met soms oorweldigende gebrokenheid en verdeeldheid, en ’n oënskynlike onvermoë om brûe te bou, is dit maklik om te aanvaar dat mense soos ek en jy niks gemeen het nie – en dit dan daar te laat. Totdat ons albei onverwags ’n taal ontdek wat die grense tussen ons afbreek …

Dit is die jare negentig van die vorige eeu. Bethlehem in die Vrystaat. Die jong NG-predikant Ben Marais gebruik die kansel as platform vir die evangelie­verkondiging.

Mettertyd ontdek hy dat ’n sportveld hom ’n universele taal gee wat hom in staat stel om God se liefde oor kleur- en kultuurgrense heen te deel.

Ben (49), wat deesdae in Bellville in die Wes-Kaap woon, vertel dat hy op Bethlehem ’n krieketakademie begin het en jong spelers by die plaaslike laerskool afgerig het. Een van dié spelers se ma het op ’n dag aan haar seun gesê dat hulle ’n afrigter nader aan hul huis moet oorweeg.

Die 11-jarige se reaksie? “Nee, Mamma, by coach Ben leer ek van krieket én van God.”

“Ek het die storie gehoor,” vertel Ben vandag, “en vir die eerste keer werklik besef in hoe ’n mate ek geloof en sport op die veld integreer. Én dat ek op die sportveld ’n veel groter impak maak as op die kansel.”

Dié ontdekking het by hom gebly, dit het in sy binneste begin groei, en op ’n dag het hy geweet dat hy tot ’n sportbediening geroep word.

Op daardie stadium het hy egter nog gereken dat die bekende, rugby en krieket, die medium daarvoor sou wees. Dit sou gou verander.

“Wat kan ék doen?”

In 2002 het Ben en sy jong gesin – sy vrou Marlene, en hul kinders Christoff, Sandri en Estea, vandag onderskeidelik 21, 20 en 15 – Kaap toe verhuis nadat hy op Stellenbosch ’n sportbedieningskursus van die Internasionale Sportkoalisie gevolg het.

Ná ’n seisoen as lewensafrigter is hy in 2009 deur die ring van Kaapstad, die Wes-Kaapse Jeugkommissie en die Algemene Sinodale Jeugkommissie befonds om oor die land heen te reis en gelowiges bewus te maak van die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat aan ’t kom was, en die bedieningsgeleentheid wat dit sou bring.

Hy vertel: “Ek het nie veel van sokker verstaan nie, maar ek het die geleentheid verstaan: dat ons die derduisende besoekers wat nie andersins aan die evangelie blootgestel sou word nie kon bereik.”

Een aand op Stellenbosch, waar hy opleiding in sportbediening aan eerstejaar-teologiestudente gegee het, het hy ’n openbaring beleef: Sy hart het opnuut gebreek vir ons land. Vir Suid-Afrika, met die potensiaal om op soveel gebiede die voortou te neem, wat daarenteen bekend staan as een van die lande met die hoogste voorkoms van verkragting, moord, MIV/vigs, korrupsie, geweld teenoor vroue en kinders, en fetale alkoholsindroom.

“Ek het met die Here geworstel,” vertel Ben. “Ek het gevra hoe dit alles moontlik is in ’n land waar 63% van die bevolking hulle met die Christelike kerk vereenselwig.

“Ek het ook gevra: Wat kan ék daaraan doen?”

Die 19de eeuse teoloog GK Chesterton is op ’n dag gevra wat met die wêreld skort. Hy het glo geantwoord: “Meneer, ék is wat skort met die wêreld.”

Hierdie woorde het Ben juis toe diep geraak. Hy het intens bewus geword van sy eie aandeel in die seer en gebrokenheid van die wêreld waarin hy leef. “Ek het besef ek kan nie onkunde oor ons land se verlede en oor apartheid as verontskuldiging gebruik nie. Ek is immers self ’n sondaar, en ek het ’n aandeel daaraan gehad dat mense seergekry het.

“Ek het toe op soek gegaan na ’n medium om mense van verskillende agtergronde te bereik, maar my eie sportagtergrond was krieket en rugby. Ek het gereken dat dit, binne die konteks van ’n nuwe Suid-Afrika, my uitskakel as iemand om ’n verskil te probeer maak. Boonop is ek wit, Afrikaans en kom uit die NG Kerk.

“Ek het ervaar dat die Here my uitdaag. Dat ek gevra word: Is jy bereid om te los wat vir jou bekend is en na die onbekende te beweeg, na die taal van die nasie, wat sokker is?

“Ek het nie ’n keuse gehad nie; ek het ja gesê.”

Die vrug van gehoorsaamheid

Vanuit dié uitdaging is Hope through Sport gebore, ’n beweging wat Ben saam met John Yip en Nkosinathi Sixabayi van stapel gestuur het, twee vriende wat hy tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi ontmoet het.

Hope through Sport het deur middel van sokkerafrigting na gemeenskappe in Suid-Afrika en ook in Afrikalande soos Burkina Faso uitgereik.

Teen 2015 het die kwessie van vaderloosheid al hoe swaarder op Ben se hart gedruk. Hy was toe reeds aangestel as die nasionale direkteur van Ambassadors Football SA (AFSA), die plaaslike kantoor van ’n internasionale sokkerbediening.

“Een van die grootste uitdagings in die hedendaagse wêreld is ’n gebrek aan vaderfigure en positiewe rolmodelle,” sê Ben. “Navorsing wat deur die Amerikaanse gesondheidsdepartement onderneem is, het byvoorbeeld uitgewys dat daar ’n sterk verband tussen die gebrek aan ’n pa-figuur en geweldmisdade, dwelm- en drankmisbruik, tienerswangerskap en selfdood bestaan.

“Ek het gevoel dat God met my praat oor die waarde van afrigters as ’n pa-figuur in spelers se lewe. ’n Afrigter is ideaal geposisioneer om ’n positiewe rolmodel te wees, ’n gesagsfiguur wat ook identiteit en potensiaal bevestig, en wat sekuriteit gee. Dít kan alles op die sportveld gebeur.

“Juis daarom lei AFSA afrigters op om dié geleentheid te benut. Hulle rig ook twee keer per week laerskoolleerders in Bellville af en benut só die geleentheid om vroeg reeds ’n positiewe impak op ’n kind se lewe te maak.”

Ben vertel ook van AFSA se sokkerakademie in die Drakenstein-gevangenis in die Boland. Hier word jong gevangenes gekeur om aan die program deel te neem.

“In Drakenstein kon ek sien hoe vertroue gebou word deur saam sokker te speel. Hoe wantroue en vooroordele afgebreek word wanneer ek saam met die gevangenes op die sokkerveld is.

“Nou is ek nie meer iemand wat net met hulle kom praat nie, nie meer bloot ’n buitestander nie. Nou deel ons dieselfde passie. Ná ’n paar maande begin hulle hul hart oopmaak.”

Dié proses werk na albei kante toe, sê Ben. “Ek het geleef met ’n vooroordeel teenoor mense wat in die tronk is – want ‘hulle verdien dit’.

“Toe gaan werk ek in ’n tronk en luister vir die eerste keer na daardie mense se seer. Na verhale soos dié van ’n jong man wat hom weens huislike omstandighede tot gewapende roof gewend het. En weer kom ek tot daardie besef dat ons elkeen ’n aandeel in dié jong man se lot het.”

Vandag is daardie jong man self ’n afrigter en ’n rolmodel vir jong spelers.

En daarin lê die krag van ’n sportbediening soos AFSA. Om Suid-Afrika se statistieke te verander deur middel van gemeenskaptransformasie, voortgedryf deur individuele transformasie.

Want dit is die individu wat uiteindelik met ’n nuwe identiteit, nuwe vaardighede en ’n dieper geloof verandering bring vir die span, die skool, die gemeente, die woonbuurt.

Dít alles is die vrug van daardie saadjie wat jare gelede in die Vrystaat in ’n jong predikant se hart geplant is.

“Daarom,” sê Ben, “doen ek wat ek doen.”

Besoek www.ambassadorsfootball.org/za of www.facebook.com/aishopeacademy vir meer inligting.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail