ENGELA STEYN

Daar was ’n waterdruppel op die brief. Ek weet dit was ’n traan, want dit was sy afskeidsbriefie aan my, skryf Engela Steyn van Delmas.

My seun, Wynand Holtzhausen, was in matriek en ’n leerling aan Hoërskool Hoogenhout op Bethal toe hy op 21 April 1993 sy eie lewe geneem het.

Hy het ’n briefie aan my nagelaat in my klerekas in my kamer. Ek het hom op dié dag vanaf 16:00 gesoek en het die gevoel gekry dat, as hy nog nie iets gedoen het nie, hy dit wel gaan doen. Ek het na die polisie op Bethal gegaan en hulp gevra omdat hy vanaf die middag vroeg al vermis was. Hulle het sy ID-dokument gevra om dit na alle SAP-kantore te kon deurgee.  Sy ID-dokument was in my klerekas, in my slaapkamer. Toe ek dit oopmaak om sy ID-boekie te kry, het ek ’n briefie met my naam op die koevert gekry. Daar was ’n waterdruppel op die brief. Ek weet dit was ’n traan, want dit was sy afskeidsbriefie aan my.  Hy het geskryf: “Mamma ek is jammer vir wat ek aan mamma doen, maar ek verlang na Anton en ek gaan liewer na hom toe.”  Anton was my oudste seun wat op 22 Mei 1990 in ’n motorongeluk, 4 km vanaf Babsfontein, dood is. Hy was in die SAP.

Ek het ’n vriend gevra om asb na Anton se graf in Delmas te gaan om te kyk of Wynand dalk daar is of was. Hy was egter nie. Toe was hy reeds dood. Hy het homself opgehang in ons buitekamer omtrent 15:30 dieselfde dag. Ek het hom egter eers na ’n slaaplose en baie donker nag, 07:30 die volgende oggend gekry waar hy nogsteeds aan sy nek gehang het. Hy kon ’n voortrekkerknoop maak en dit het hom presies by die 3de nekwerwel gedruk. Hy is aan verwurging dood met ’n tou om sy nek.

Die enigste ding wat my die afgelope jare staande gehou het, is my geloof in God. En van God se liefde wat my gedra het, wil ek getuig.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail