“Geseënde Kersfees!” Dit is wat mense mekaar in hierdie tyd toewens. Maar wat presies is hierdie “seën” wat ons so kwistig uitdeel? Waar kom dit vandaan en vir wie is dit bedoel? DEUR COENIE BURGER

Die seënspreuke oftewel saligsprekinge in Matteus 5:1-11 is sekerlik een van die bekendste gedeeltes in die hele Nuwe Testament. Die seën en geluk waaroor Jesus hier praat, hou ’n bekoring in en trek ons nader.

Maar wanneer ons dit van naderby gaan bekyk, lyk die geluk waarvan hier gepraat word tog ’n bietjie anders as wat ons verwag het. Daar word onder meer gepraat oor arm wees, oor treur, selfs oor vervolging. Dit maak dat baie mense gou belangstelling verloor.
Hoe moet ons hierdie vreemde Jesus-boodskap verstaan?

’n Blye tyding
Die woord wat in elkeen van hierdie Matteus 5-verse voorkom, is “makarios”, wat as “geseënd” of “gelukkig” vertaal kan word.

Ons moet heel eerste dié woord goed hoor: Dit sê dat Jesus nie na die wêreld toe gekom het om te oordeel nie, maar om te seën en te red (vgl Joh 3:17). Hy kom nie om te vra nie, maar om te gee: lewe en oorvloed (vgl Joh 10:10).

Tydens hierdie Kersfees sal ons dit weer hoor. Sy koms is ’n blye tyding, een van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
Die woord “geseëndes” sê dit baie mooi. “Makarios” kan vertaal word met “geluk”, maar geleerdes sê dit beteken eintlik meer as dit. “Geluk” verwys gewoonlik na ’n emosionele gevoel, maar “seën” wys ook na iets buite ons. Dis ’n gawe wat ons van Iemand Anders ontvang. ’n Diep, stil, rustige geskenk van vrede en geluk.

Die geseëndes is dus mense wat weet dat hulle Iemand het wat hulle liefhet en na hulle omsien.
Dit is die geskenk waaraan Kersfees ons weer vanjaar gaan herinner: Ons het ’n Koning wat van ons weet. Sy Naam is Immanuel. Hy is God vir ons, en God met ons.

Vir die siekes
As ons nou verder lees, blyk dit dat die seën vir almal beskikbaar is – “vir die hele volk” – maar dat almal dit nie noodwendig ontvang nie.
Hoe ontvang ons dié seën?

Die eerste twee saligsprekinge kan ons hiermee help: Die eerste een handel oor mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is, en die tweede een oor treurendes.

Dis mense dié wat verstaan hoe broos en onseker en stukkend die lewe soms kan wees – óns lewe, maar ook ander mense s’n. En hulle weet hoe min beheer ons regtig oor ons eie lewensloop het.

Saligheid, sê Jesus hier, begin nie by iets wat ons moet doen nie; dit begin by ’n gemis, ’n leemte, ’n versugting. Hier word die seën beloof aan mense wat radeloos met die lewe is. Hulle weet dat hulle die Here nodig het, en hulle is bereid om met bedelaarshande voor Hom te gaan staan.

Jesus het gesê dat Hy nie vir die gesondes gekom het nie, maar vir die siekes. Goeie, geseënde dinge kan moeilik in jou lewe kom as jy nie weet dat jy, en ons almal, siek is en dat ons die Here bitter nodig het nie.

En as die Here se seën in ons lewe gekom het, begin dit om ons lewe te verander.

Vier groot woorde
In die saligsprekinge sê Jesus dat Hy veral vier karaktertrekke in ons lewe wil vorm. In die middel van hierdie besonderse Skrifgedeelte hoor ons hierdie vier groot woorde: sagmoedigheid; geregtigheid, barmhartigheid en vrede. Ons smaak die seën van die Here, dit is die blydskap van die evangelie, na die mate wat ons mense word wat dié vier groot deugde met inte­griteit in ons lewe vertoon.

Sagmoedigheid
Sagmoedige mense is dié met ’n sagte gees en ’n diepe rustigheid in hul binneste. Hulle is nie gou op hul perdjie of vinnig gereed om vir hul regte te veg nie. Hulle is, soos Jesus, dikwels bereid om die minste te wees. Selfs om onreg te verduur.
Die rede vir hierdie ingesteldheid is nie vrees of ruggraatloosheid nie, maar ’n diep vertroue dat die Here vir hulle sal sorg. Ons sien dit baie mooi in die verhaal van Abraham en Lot, wanneer Abraham sy selfsugtige nefie laat begaan wanneer dié die beste deel van die land vir homself kies (vgl Gen 13:1-18).
Abraham doen dit omdat hy weet die Here sal vir hom gee wat hy nodig het.

Geregtigheid
Hierdie woord sê dat ons nie net oor ons eie lewe besorg is nie, maar ook omgee oor wat met ander gebeur. Die Bybel is vol daarvan dat God ’n God is wat die reg liefhet. As ons kinders van God wil wees, moet ons ook mense word wat bereid is om vir reg en geregtigheid op te staan. En dan nie bloot vir onsself nie, maar vir alle mense.
Dis boonop veelseggend dat die Matteus 5-teks nie praat van “reg doen” nie, maar van “honger en dors” na geregtigheid. Dit waarsku ons dat ’n liefde vir geregtigheid vlakker of dieper in ons lewe kan sit. Daar is mense wat op die oog af reg optree, maar dit uit fatsoenlikheid of politieke korrektheid doen.
Die Here vra meer as dit. Hy vra ’n dieper bekering, ’n honger en dors na wat reg is, vir onsself en vir almal.

Barmhartigheid
Dié woord sluit nou aan by die vorige een. “Barmhartigheid” sê dat ons met liefde, deernis en genade reageer op mense wat swaar kry, diegene wat ons liefde en sorg nodig het.
Nee, ons kan nie altyd alle geregtigheid met ’n enkele daad herstel nie, maar ons kan met vele klein dade van liefde en ontferming baie mense se lewe beter maak. Só begin ons om die seën wat ons ontvang het na ander deur te gee.
Juis Kersfees is ’n wonderlike tyd vir barmhartigheid.

Vrede
Die Here se kinders word opgeroep om vredemakers te wees. Wanneer ons die woord “vrede” hoor, dink ons gewoonlik aan oorloë wat moet end kry. Dis inderdaad ’n deel van die prentjie. Oorlog is verskriklik en moet ten alle koste vermy word. Die vroeë Christene het so sterk hieroor gevoel dat die meeste van hulle pasifiste was.
Maar vrede beteken meer as die afwesigheid van oorlog of stryd. Dit gaan ook oor wat in ons gemeenskap, gemeente, vriendekring, werksituasie en selfs in ons familie gebeur. Want waar mense bymekaar is, skuur hulle teen mekaar. Hulle verstaan mekaar verkeerd – en voor hulle hul oë uitvee, is daar spanning, vyandigheid en verdeling.
Christene word nie net opgeroep om vredeliewende mense te wees nie, maar ook om as vredemakers op te tree. Net soos wat Jesus, ons Vredevors, dit gedoen het. Kersfees is dan ook ’n goeie tyd vir vrede maak.

’n Rein hart
Ek het nog altyd gedink dat die sesde saligspreking baie spesiaal en baie belangrik is, veral omdat dit presies verduidelik waaroor hierdie ommekeer gaan wat in ons lewe moet plaasvind. Jesus praat immers hier oor mense wat rein van hart is.
Vir baie mense klink reinheid na sondeloosheid – en die meeste van ons weet dat ons dit nie haal nie.

Maar gelukkig is dit nie hier ter sprake nie. Die bekende filosoof Søren Kierkegaard het ’n boek hieroor geskryf en dit dié titel gegee: Purity of heart is to will ­
one thing.

Dis inderdaad wat “rein van hart” beteken. Ons hart is nie meer verdeel tussen vyf of tien dinge wat vir ons belangrik is nie; ons is gefokus op die één ding wat voor alle ander dinge kom.
“Rein van hart” beteken dat ons stukkende, verdeelde hart heel word, en dat ons die Here onvoorwaardelik die eerste plek in ons lewe gee. In Matteus 6:33 sê Jesus dat as ons dit doen, dit wil sê as ons Hom en sy koninkryk heel eerste soek, Hy ons op die koop toe ’n klomp ander seëninge gee.

Ten slotte
Geluk is nie iets wat jy kry as jy hard genoeg daarna soek nie. Om die waarheid te sê: As jy bo alles geluk in die lewe soek, gaan jy dit nooit kry nie. Geluk en seën is iets wat die Here ons gee as ons Hom eerste in ons lewe stel.

’n Geseënde Kersfees vir almal! En mag ons van hierdie seën ook aan ander deurgee.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail