Kinders aanvaar maklik dat mense op baie maniere van mekaar verskil – maar wanneer hulle iemand sien wat ooglopend gestremd is, begin hulle staar. Of lag. Of met die vinger wys. Of tree hulle oor die algemeen ontoepaslik op. Hoe kan ouers hul kinders leer om andersheid te aanvaar?

Deur Melodie Veldhuizen

Elke ouer ken hierdie verleentheid: ’n Gestremde persoon kom die vertrek binne en jou kind begin staar, of wys met die vinger, of lag. Die ouer weet nie hoe om te reageer nie en maak die kind dadelik stil – ’n kwáái kyk of ’n geïrriteerde “sjuut!” het gewoonlik die gewenste uitwerking. Sommige gryp hul kind aan die arm en loop weg.

Maar dan is dit reeds te laat. Die grootmense is ongemaklik, kry skaam. Die kind leer dat gestremdheid abnormale gedrag tot gevolg het. En dat dit maar is soos dit is.

Hoe jammer tog! Gestremde mense is deel van die samelewing, en hoe gouer jy en jou kinders leer hoe om jul verleentheid op die regte manier te hanteer, hoe beter vir almal. Juis ook vir hom en haar wie se gestremdheid die aanleiding tot dié soort gedrag is.

Want kinders (en hul ouers) se soort optrede wanneer hulle met gestremdes te doen kry, maak seer …

Wie sal dus die beste raad in dié verband kan gee? Die gestremde persone. Hulle wat aan die ontvangkant van hierdie ontoepaslike gedrag is.

En hulle sê:

“Die eerste skuldiges is die ouers”

Eintlik is dit doodlogies: Kinders is van nature nabootsers en hul ouers is hul grootste rolmodelle. Ylodi (30), siggestremd, sê: “Om jou kind te leer hoe om reg op te tree, moet jy allereers van jou eie vooropgestelde idees ontslae raak. Moet jy oop wees vir ’n moontlike ontmoeting met ’n gestremde.”

Lorinda (27) is gehoor- én siggestremd. Sy sê dat indien ouers gemaklik is in die teenwoordigheid van gestremde persone, hul kinders ook meer op hul gemak sal wees.

Karen, ma van Nicola (25), vertel: “Nicola is ’n spastiese hemipleeg en sy loop en praat dus moeilik. Op ’n dag het ’n ma met haar drie kinders hier kom kuier. Die vyfjarige dogtertjie sê toe vir Nicola: ‘Ek hou nie van jou nie, want jy praat en loop snaaks.’

“Die ma? Sy het net gelag.”

“Kom óns, help júlle”

  • Kinders leer hul wêreld deur waarneming ken. Laat hulle dus kyk, selfs ’n tweede keer – maar stáár is onaanvaarbaar. Ons beskou vrae soos “waarom sit die tannie in ’n rolstoel?” en “hoekom lyk die oom se oë so anders?” en “waarom praat die tannie so snaaks?” as ’n geleentheid om ’n lekker geselsie aan te knoop.
  • Ons verwelkom vrae. Groet ons vriendelik en vra of julle ’n bietjie mag gesels. In plaas daarvan om te vra “wat is fout?”, vra eerder “waarom sit Oom in ’n rolstoel?” of “waarom loop Tannie met ’n stok?”
  • Kom ons almal antwoord eerlik en eenvoudig, en vermy mediese feite en ingewikkelde verduidelikings. Kinders se ontwikkelingsvlak is die sleutel, en hulle is gewoonlik tevrede met: “My bene werk nie soos joune nie.” Of: “My oë kan nie so goed sien nie.” Wees ook bedag daarop dat ons ma of pa namens ons sal praat. Hulle sal dalk iets sê soos: “Hy verstaan wat jy sê, maar die woorde kom nie so maklik uit sy mond nie. Probeer verstaan wat hy sê, en antwoord hom dan.”
  • Praat mét ons, nie ván ons nie. Moenie die persoon wat ons vergesel oor ons situasie uitvra nie. Ons kan namens onsself praat en vrae beantwoord.
  • Die eenvoudige reël is: Behandel ons soos jy behandel wil word. Jy het nie gekies om te lyk soos jy lyk nie, en ons het ook nie gekies om gestremd te wees nie.
  • Vra eers voordat jy ons help. Ons waardeer jou oplettendheid en dat jy gesien het dat ons sukkel en dat jy behulpsaam wil wees. Maar respekteer ons begeerte om so selfstandig en onafhanklik moontlik te wees. Ons kan baie dinge self doen. Vra dus eers voordat jy die rolstoel begin stoot of ons aan die arm beetkry en in ’n rigting stuur.
  • Ons hulpmiddels (rolstoel, bril, kierie, gidshond, gehoorapparaat) is baie duur en selfs onvervangbaar en is dus nié speelgoed nie.
  • Moenie vir ons bang wees nie. Ons is regtig mense net soos jy. Ouers, lees vir jou kinders prenteboeke en wys plakkate en laat hulle na films en DVD’s kyk met karakters wat gestremd is. Verduidelik aan jou kinders wat die verskillende gestremdhede behels en ruim só hul onkunde en vrees uit die weg.
  • Simpatie is onaanvaarbaar. Ons en ons situasie wil tog nie ’n “ag foeitog”-reaksie hê nie. Kinders wat van jongs af geleer word om empatie teenoor alle mense te betoon, sal vanselfsprekend empaties teenoor gestremde persone optree.
  • Ons beleef al die emosies wat jy beleef: liefde, vreugde, vrede, opgewondenheid, hartseer, woede, ontsteltenis, frustrasie, en baie meer.
  • Ons kan baie dinge doen wat jy kan doen, al is dit op ’n ander manier. Leer jou kinders dat, ongeag ons liggaamsgebrek, ons steeds goed funksioneer al is dit op ons unieke manier. Ouers kan saam met hul kinders na uitsendings van die Paralimpiese Spele kyk en sien dat gestremde persone alledaagse en selfs spesiale dinge baie goed kan doen.
  • Ons geniet ook die lewe en hou daarvan om lekker dinge te doen. Ons het ook stokperdjies en geniet dit om saam met ons gesin en vriende op uitstappies te gaan en te kuier.
  • Gestremdheid is nie ’n siekte nie en daarom is dit ook nie aansteeklik nie. Jy mag dus maar aan ons hand vat of ons ’n drukkie gee.
  • Ons verkeer nie noodwendig in pyn nie, selfs al is ons gestremdheid die gevolg van ’n ongeluk of siekte.
  • Ons hulpmiddel is nie deel van ons liggaam nie. Ons kan uit die rolstoel opstaan, en ons gaan slaap nie met die gehoorapparaat of kierie nie.
  • Daar is niks fout met ons nie. Dieselfde Skepper wat jou gemaak het, het ook vir ons gemaak – en Hy maak nie foute nie. Ons lees en glo Psalm 139:13-16: “U het my gevorm … U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep …”

Gestremdes vra mooi

Martelize (40) se bene het in haar tienerjare verlam geraak en sy gebruik ’n rolstoel. Sy vertel: “Kinders vra meestal hardop en reguit: ‘Hoekom is die tannie in ’n rolstoel?’ Of: ‘Hoekom loop die tannie nie?’

“Hulle is ook meer geneig om te staar en jou in die oë te kyk. Soms huil kinders wanneer hulle my sien. Die ouers is dan dikwels verleë en probeer die situasie vermy.

“Ek antwoord bloot: ‘Moenie worry nie!’”

Ylodi sê dat om vrae aan ’n gestremde te vra normaal is. “Kinders wil uitvind, en dit is goed so. Kyk my in die oë en vra reguit, maar wees beleef en bedagsaam. Ouers kan ook aan die gesprek deelneem sodat die kind kan sien jy is nie ongemaklik nie. Sê ná die tyd dankie dat julle kon gesels.”

Yf (65) is blind en sê: “As ek jou nie eerste groet nie, is dit omdat ek jou nie raaksien nie. Raak aan my of noem my naam – en ek groet terug en gesels graag met jou. Ek het nie gekies om blind te wees nie. Ek word, net soos jy, hartseer en kwaad as iemand my terg of spot. Aanvaar my soos ek is.”

Mense met Downsindroom

Dit blyk dat kinders én grootmense erge onsekerheid beleef wanneer hulle met mense te doen kry wat Downsindroom het. Hulle knoop byvoorbeeld nie sommer geselsies met diesulkes aan nie.

Magda se seun Cornel (25) het Downsindroom. Sy vra mooi: “Praat asseblief regstreeks met my seun, nié met my nie. Moet hom nie soos ’n kind behandel nie. Al praat hy onduidelik en al kan hy nie sy gedagtes so goed verwoord nie, verstaan hy meestal goed wat jy sê.”

Tania is Milanka (18) se ma. Ook sy sê: “Milanka praat onduidelik, ja, maar moenie net ‘ja’ of ‘nee’ antwoord omdat jy nie weet wat sy sê nie. Doen ’n bietjie meer moeite om te verstaan wat sy sê, en reageer dan op ’n toepaslike wyse. Sy wil graag deel van die geselskap wees en behandel word soos iemand wat ’n gewone lid van die samelewing is.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail