Deur Amanda Naudé

Ek was ’n Christen voor hierdie wonderwerk met my gebeur het. Maar die sorge van hierdie wêreld het my weereens verswelg en ek het gevoel soos menigte wêreldlinge: depressief.

Dit was net na 2:00 Donderdagoggend 8 Augustus toe ek droom hoe ek en ’n vrou wat bekend is aan my rug teen die muur op ’n sementblad sit. Niemand praat nie en daar sit nog drie mense voor ons. Skielik staan die vrou op en tel ’n reghoekige plastiek vleisbak wat heeltyd voor ons was op en hou dit voor my. Sy sê ek moet daaraan ruik. Ek antwoord haar en sê dat die vleis vrot is en dat dit my sal naar maak. Regs voor binne-in die bak lê ’n viskop en om dit allerhande ander soorte vleis wat alles geweek is in die vrot, bloederige sous. Sy beveel my weer om te ruik en ek gee toe nadat die mense om my begin om aan die vrot vleis te ruik. Hulle word naar en ek ruik halfhartig. Die vrou sê vir my die vleis verteenwoordig ’n slegte gees. Daardie oggend loop ek in my tuin en whatsapp my pastoor se vrou, wat ook ’n pastoor is, om ’n afspraak vir gebed te maak. 10:00 is ek daar en na ’n rukkie roep sy my studeerkamer toe. Sy luister lank en geduldig na my en ek begin my hele lewensverhaal vir haar vertel.

Die sorge van hierdie wêreld het my weereens verswelg en ek het gevoel soos menigte wêreldlinge: depressief, skryf Amanda. Links is haar man Gert. Foto verskaf

Sy sê sy dink ek ly aan uitbranding en vra of sy vir my ’n vrymakingsgebed kan doen. Ek stem gewillig in en sy begin vurig bid. Sy begin bid vir generasie-vloeke, generasie-siektes (waaraan ek ly) en onheilige sielsbande met verkeerde  mense in my lewe. Nes sy begin bid en bestraf (in ander terme demone uitdryf) voel ek skielik ’n gewoel binne die krop van my bors. Dit is seer maar sy hou vurig aan met bid.

Nooit het ek ooit kon dink dat ek onheilige geeste in my kon gehad het nie want ek het geglo ek is mos fine!  Sy het my lewe se trauma, al die dood en hartseer bestraf en ek was bang maar ook oraait omdat ek geweet het dat sy weet wat sy doen. Die hele ondervinding was vreemd erg maar ek het gewéét ek moes dit doen. Terwyl die demone binne-in my rondwoel en beweeg het sy my hande gevat. Tydens hierdie ervaring was ons oë heeltyd oop en al haar aandag was intens gefokus op my toe sy skielik vir my sê dat God sê my hart het te hard geword. En dit is waar. Dit het. Al die jare se trauma en pyn het my hart verander in ’n stuk klip. Dit was my oorlewingstrategie.

Toe gebeur die wonderwerk : terwyl ek so staan en wag vir die volgende om te gebeur voel ek God se hand hard op my hart druk! In sirkels om en om en dan weer regaf. Kompleet asof God my hart letterlik knie en weer sag maak! Ek was sprakeloos. Toe vra my pastoor vir God om my die vrede te gee wat alle verstand te bowe gaan. En ek voel dit! ’n Warm gevoel wat deurspoel van my kop tot by my tone uit. En dadelik hou ek op bewe. Daarna sien ek ’n wit ronde lig by my regtervoet opkom tot bo-oor my kop na links en ek was verstom. Gebeur dit nou regtig met my? Onmiddelik het ek opgelig en is amper kophoogte hoër as my pastoor! Ek onthou ek het met my regtertoon gevoel of ek nog op die grond staan en ek het, maar in die Gees ek het opgegaan! My lewe is nie weer dieselfde na hierdie Goddelike ervaring nie en ek het tot God gebid vir verskeie omstandighede in my lewe. Sondag 11 Augustus seën God my met R 1 000 wat ek ontdek in ’n amper twee jaar vergete ou handsak wat onder in my kas lê asook ander gebede rondom my finansies.

Mag God my getuienis gebruik om enigeen wat menslik in sy bestaan twyfel te vertel dat God leef! Waaragtig en werklik leef! Sy Magtige Kragtige hand was op mý hart en Hy het my hart letterlik kom sag maak! Sien leser, ek was in die geestelike dimensie siek van verbittering, haat, woede, onvergewensgesindheid en hope vele ander sondes wat  in my hart gewoon het … My wens is dat almal God so en op hoër vlakke sal ervaar. Dankie God en dankie Jesus dat U my letterlik kom genees het van ’n siek hart …

Voel vry om my te skakel by 073 385 4792 en mag ons God, ons Vader elkeen seën wat hierdie getuienis lees tot eer van sy naam.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail