Jesus se leringe was dikwels in stryd met die gangbare opvattings in daardie tyd. Heeltemal anders as wat mense van ’n rabbi sou verwag.

Hoor dan hier: Dit was ’n gewone tempeldag. Die Fariseërs het hardop gebid en luidkeels hul heiligheid vertoon deur dankie te sê dat hulle nie so sleg soos die mense om hulle is nie. Dat hulle so ’n goeie voorbeeld vir die samelewing is: Hulle aanbid gereeld en gee hul tiendes getrou.

Daarby is hulle dankbaar dat hulle hulleself kan onderskei van die diewe, die onregverdiges en die skurke. Hulle is immers die lewe se troon-mense.

Eenkant, half weggesteek, kniel ’n ander man. Hy is een van dié vir wie ’n biddende Fariseër sopas sy neus opgetrek het. Verleë, en diep bewus van sy swakhede, smeek die tollenaar om genade. Om die onverdiende goedheid van God.

Dan hoor ons hoe Jesus sê. “Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is” (Luk 18:14a – NLV).

Dis duidelik dat Jesus knieë-mense kies bo troontjie-mense. Eerder die tollenaars wat in die wildevyeboom wegkruip en wat hul hart vir Hom oopmaak, as die witgepleisterde grafte wat dink dat hulle om die een of ander rede beter as ander mense is.

Ons Here se hart staan wawyd oop vir mense wat besef dat hulle kniediep in die skuld by Hom is, maar wat dapper genoeg is om te sê: “Here, sien die flenters van my hart, en trek vir my ’n nuwe kleed aan. Sien die modder op my voete, en was hulle saggies. Sien my geboë rug waar ek voor U kniel. Tel my op en sit my asseblief langs U neer. Daar neffens u troon.”

Die wonder is dat hoe meer ek bewus word van ons Here se deernisvolle liefde vir my, hoe sagter word my eie hart. Hoe sagter kyk ek na my medemens. Hoe beter hoor ek die fluistering van hulle wat eenkant staan.

“Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word” (Lukas 18:14b, NLV)

DEUR MILANIE VOSLOO

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail