Ons ken en aanbid Hom. Ons sing en praat oor Hom. Maar wie is Hy? En wat doen Hy presies? Wat leer die Bybel ons oor die Persoon en die werk van die Heilige Gees?

DEUR STEPHAN JOUBERT

Ek skakel die TV aan; daar is ’n reuse-kerkdiens op die skerm. Die aankondiger roep uit: “Ons verwelkom die besoekende pastoor hier by ons – asook die Heilige Gees wat pas saam met hom hier opgedaag het!”

Ek is stomgeslaan. Is hierdie pastoor só belangrik dat hy selfs die Gees van God kan laat opdaag? Is die Heilige Gees aan sy leiband?

Is dit dan nie óns wat deur Hom saamgevat word in Christus se triomftog deur die wêreld nie?
Sonder twyfel. As jy die Bybel kan glo …

In ’n Bybelse neutedop
Die Heilige Gees is van altyd af daar. Saam met die Vader en die Seun maak Hy deel uit van die ewige Goddelike familie. Reeds in Genesis 1 se eerste verse hoor ons van sy betrokkenheid by die skepping.
Hoewel Hy ietwat op die agtergrond in God se Eerste Testament optree, verneem ons gereeld dat diegene wat as boodskappers tussen God en mense dien, altyd met sy krag gevul is.

Wanneer hulle egter droogmaak, verlaat die Gees hulle. Dit gebeur met Saul in 1 Samuel 16:14. Sy aanhoudende ongehoorsaamheid maak dat hy Gees-loos word.

In Jesaja 63:10 word ons gewaarsku dat die Gees van die Here bedroef kan word. Tog is dit ook Hý wat God se volk onderrig (Neh 9:20), en dit is Hy wat gelowiges op die Here se pad lei (Ps 143:10).

Ons moet egter vir God se Nuwe Testament wag om die Heilige Gees in volkleur aan die werk te sien: Sommer met die intrapslag hoor ons in Markus 1 dat Hy persoonlik by Jesus se aardse optrede betrokke is. En terwyl God by Jesus se doop bevestig dat Hy sy geliefde Seun is, rus die Gees Hom ook daar toe vir sy aardse taak.

Later, in Johannes 14 en Johannes 16, leer Jesus sy dissipels dat wanneer Hy wat Jesus is van hulle af weggaan, die Gees in sy plek na hulle toe sal kom.

Interessant genoeg gebruik Jesus hier die Griekse woord “parakleet” as Hy na die Gees verwys. Dit kan op verskillende maniere vertaal word – Trooster, Voorspraak, Helper, Tussenganger, Pleitbesorger, Weldoener, Advokaat.

Die Gees kom in al hierdie hoedanighede na God se aardse familie toe. Hy kom woon by ons om ons in die volle waarheid te lei (Joh 14:26). Hy kom om Jesus hier tussen ons te verheerlik (Joh 16:14), en om die wêreld van reg en verkeerd te oortuig (Joh 14:17).

Op Pinksterdag breek die era van die Heilige Gees in alle erns aan. Só vertel Handelinge 2 ons.
Op daardie dag trek die sluise van die hemel behoorlik oop, wanneer strome lewende water oor alle gelowiges begin stroom, en ook uit hul lewe vloei – net soos Jesus dit in Johannes 7:38-40 belowe het. Meteens verander wegkruiper-­dissipels in kragtige getuies vir Christus, soos wat Petrus se toespraak op Pinksterdag onderstreep.

In dieselfde asem bring die Heilige Gees ’n nuwe familie van gelowiges in Jerusalem tot stand. Hul eensgesindheid en omgee vir mekaar word gou-gou legendaries. Ons lees onder meer in Handelinge 2:41-49 en Handelinge 4:32-35 hoe hierdie Geesdeurdrenkte geloofsfamilie van huis tot huis brood breek en mekaar geestelik opbou.

Ook die armoede en swaarkry in hul midde word getakel. Die Gees raak immers nie net ’n mens se hart aan nie, maar ook jou beursie.

Wanneer daar vervolging uitbreek, versprei die Gees die kerk oor die hele Romeinse Ryk. Reeds teen die einde van die Nuwe-Testamentiese era waai hierdie magtige Gees-tsoenami die kerk letterlik die ganse wêreld vol.

Hy bestuur en verander
Woon die Heilige Gees vandag nog by mense? En, indien wel, by wie?
Ja, Hy woon by elkeen wat Jesus as die Here ken. Paulus leer ons dit padlangs in Romeine 8:9. Einste hy skryf ook in 1 Ko­rintiërs 3:16 dat ons almal nou lewende, bewegende tempels van die Gees is. Ons is sy mobiele leefruimte.

Nee, die Heilige Gees bewoon nie net een of twee vertrekke in “middelmatige” Christene se lewe, terwyl Hy ál die ruimte in “ware Geesvervuldes” se lewe vol maak nie. Ons almal is onder splinternuwe hemelse bestuur. Só staan dit geskryf op die bordjie langs ons elkeen se lewe.

Paulus basuin dit in 1 Korintiërs 12:13 uit: Ons almal is in een Gees gedoop.

Maar daar staan ook ’n tweede bordjie langs ons lewe. Die kennisgewing daarop lui: “Voltyds onder konstruksie van die Gees.”

Nooit hou Hy op om ons van heerlikheid tot heerlikheid te verander nie (2 Kor 3:18).

Soms gebeur dit dat Christus se navolgers die pad byster raak. Hulle doen verkeerde dinge.

Dit bedroef die Heilige Gees (Ef 4:30). Maar dit beteken nie dat Hy dan sy goed vat en trek – soos wat dit inderdaad in die Ou Testament gebeur het – nie. Genadiglik nie!

Nee, die Heilige Gees is die permanente Deposito en Seel van God op ons lewe (Ef 1:13-14). Hy waarborg dat elkeen in wie Hy woon by God se ewige feesmaal sal opdaag.

Nogtans bemoeilik ons droogmakery die Gees se werk. Daarom kry ons die bevel in Efesiërs 5:18 dat ons gedurig met die Heilige Gees vervul moet word. In gewone taal gesê: Ons moet voortdurend al die sleutels van ons lewe in sy magtige hande plaas.

Selfs wanneer ons geloofsvertroue kwyn en dit vir ons voel asof ons gebede leweloos teen die dak vasslaan, los die Gees ons nie alleen nie. In Romeine 8 skryf Paulus dat die Heilige Gees veral in sulke tye vir ons bid.

Die Gees roep gedurig in ons hart uit: “Abba, Vader!” Hy laat ons na God smag. En Hy laat ons vir God leef.

Nooit gee die Heilige Gees met ons op nie. Nooit laat Hy toe dat enigiets of enigiemand ons van God se liefde skei nie.

Hy versier en bou
Hoe weet ons dat die Gees ons vervul?

Eenvoudig: Ons weet dit wanneer ons anders begin sing en anders begin leef.

Die eerste bewys dat die Gees ons vol maak, is wanneer daar nuwe musiek in ons hart en op ons lippe is – lofmusiek. Só sê Paulus in Efesiërs 5:19-20. Ons hoef nie in bonatuurlike tale te praat om dit te bewys nie. Nêrens word dit tot ’n Bybelse voorwaarde verhef nie. Paulus se retoriese vrae in 1 Korintiers 12:29-30 maak dit duidelik dat die sogenaamde “spreek in tale” ’n charisma is, ’n genadegawe. God gee dit aan sommige gelowiges om hulle op te bou.

In dieselfde asem gee Hy ander genadegawes aan ander gelowiges. Maar die Gees se vrug, daardie soort waarna Paulus in Galasiërs 5:22-23 verwys, moet by ons almal aanwesig wees.

Ons weet dus ons is Gees-vol wanneer ons geduldiger, sagmoediger, vreugdevoller, nederiger, goedhartiger, vriendeliker en met meer selfbeheersing leef.

Die Heilige Gees is God se Binnenshuise Versierder. Hy maak ons lewe van binne af mooi.

Maar Hy is ook die hemelse Liggaamsbouer, wat ons aktief deel maak van Christus se liggaam hier op aarde. Hy maak ons betrokke by medegelowiges se lewe. Hy maak ons vry om ander mense te dien en lief te hê.

Met die uiteenlopende gawes uit sy hand bou ons mekaar se geloof op.

Vandag is nóg ’n dag propvol Heilige Gees-geleenthede. Daarom dat ons nogmaals uitbundig kan uitroep: “Goeiedag, Heilige Gees! Woon in ons! Werk deur ons!”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail