Aan die begin van dié jaar het ek gereeld in die Swartland gekom, daardie streek wat aan die Weskus grens en vir sy koring bekend is. Dit was natuurlik hoogsomer en die heuwels was stowwerig en vaal. Oninspirerend.

Toe ek ’n paar maande later weer in daardie omgewing kom, was die massiewe planters druk besig: Elke uur van die dag word daar saad in netjiese rye geplant. Twee weke later het fyn donkergroen spriete in die voortjies begin kopuitsteek.

Nóg twee weke later het die gesonde groen blare my kuite gekielie. En nie lank daarna nie was die hele landskap ’n uitbundige groen. Heuwels en heuwels vol jong koring wat saggies in die wind sing, met hier en daar ’n liggroen koringaar wat gretig boontoe reik.

Ek het niks met die voorbereiding, die plant of die groei van daardie koring te doen gehad nie. Maar ek het besonder baie vreugde gevind in die wyse waarop die landskap verander het. In die asemrowende nuwe groei.

Dit het my ook laat dink aan die soorte groei wat oral rondom my en in my plaasvind. Soms is dit die gevolg van my eie toedoen; ander kere is ek bloot ’n klein handjie in die groter proses. Feit is: Oral sien ek groei.

Ek sien hoe die kinders in my lewe groei: bene en arms en voete wat gans te gou groot en lank word. Ek hóór ook hoe hulle groei: die woorde wat hulle gebruik, die reaksie op grootmense se grappies en vrae, die manier waarop hulle dink en doen.

Ek sien hoe mense groei en verander – in voorkoms en houding. Hoe sommiges nou met meer genade na ander kyk, hoe daar dié is wat meer oor ’n bepaalde onderwerp geleer het en nou kundig daaroor kan praat.

Ek sien ook hoe ék groei – in dankbaarheid, in geduld, en in liefde teenoor God. Soms is dit een tree vorentoe en twee terug … maar die groei is daar.

Die lewe sonder groei sou maar ’n eentonige affêre gewees het. Soms is groei die regstreekse gevolg van wat ons doen. Ander kere vind groei spontaan plaas. Eintlik is ons mos bloot die werkers wat help plant en nat maak en versorg, want dit is tog God wat laat groei (kyk by ­1 Korintiërs 3:6).

Die kuns is om te weet wanneer ons ons hand aan die ploeg moet slaan en wanneer ons moet terugstaan sodat God onbelemmerd kan laat groei. Ons het wysheid nodig om te weet wat ons elkeen se rol in die soorte groei is wat in ons omgewing plaasvind.

Ek weet dat Stephan Joubert se artikel oor geestelike groei op bl 54 jou hiermee sal help soos dit my gehelp het. My gebed is ook dat al die artikels in hierdie maand se LiG vir jou soos sonskyn vir ’n plant sal wees, soos saad wat op goeie grond val, soos ’n ploeg wat diep oopmaak. Sodat jy in jou geloof, jou verhoudings en jou menswees kan groei en goeie vrug dra. En uiteindelik kan getuig van ’n God wat laat groei.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail