Hanna Grobler is ’n vars briesie in ’n wêreld waar die kollig so maklik verblindend kan skyn. Hierdie beeldskone vrou dink nie aan haarself as ’n glansmens nie, al is sy gereeld in plaaslike TV-reekse en films te sien. En al verskyn sy en haar man, die gewilde Bok van Blerk, gereeld op die rooitapyt by glansfunksies.

Vra haar byvoorbeeld waar sy op haar gelukkigste is, en sy sal jou waarskynlik vertel dat dit daar is waar die nood hoog is. Daar waar sy kan help dat niemand honger of koud of moedeloos hoef te gaan slaap nie.

Die Hanna Charity en Empowerment Foundation het die afgelope tien jaar duisende lewens verander. Wat destyds as ’n beskeie projek begin het, het intussen uitgebrei tot in plekke soos Benoni en Boksburg, en Cloetesville buite Stellenbosch.

“Almal altyd welkom”

Wat besiel iemand met ’n meestersgraad in drama om ’n onbetaalde welsynwerker te word?

Vir Hanna was dit ’n eenvoudige besluit wat spontaan uit haar geloof gespruit het. En haar agtergrond as ’n pastoriekind.

Sy vertel hoe sy by haar predikant-pa, Nic, en by haar ma Marietjie, ’n maatskaplike werker, geleer het hoe vervleg geloof en goeie dade met mekaar is.

“Alles wat ons van Jesus weet,” sê sy, “dui op net een ding: onvoorwaardelike liefde. My ouers het my geleer hoe om vir alle mense lief te wees, net soos wat Jesus ons ook almal liefhet. As dit die gesindheid in jou hart is, sal jou woorde vanself dade word.”

Sy onthou ’n ouerhuis waar almal altyd welkom was. “Net so was almal altyd welkom in my pa se gemeente. My ouers het ’n manier gehad om almal spesiaal te laat voel. My pa sou altyd ’n positiewe aanknopingspunt soek en iemand met deernis bemoedig. En as maatskaplike werker kon my ma baie goed luister en ander se menings in ag neem.”

Anders as baie ander pastoriekinders het Hanna die lewe in ’n predikant-huis nooit negatief ervaar nie. “Ja, die pastoriegesin word dikwels met ’n valkoog dopgehou – maar ek het altyd vry gevoel. Ek kon myself wees.

“Hiermee het my ouers heelwat te doen gehad. Hulle was konsekwent in hulle menswees. Wat hulle dertig jaar gelede in die pastorie gedoen en gesê het, doen en sê hulle steeds. Ek het nooit nodig gehad om teen valsheid of dubbele standaarde te rebelleer nie.”

Haar ouers het haar ook aangemoedig om altyd te help waar sy kan. So onthou sy haar eerste, spontane “liefdadigheidsprojek” baie goed: “Ek het gesien daar is ’n nuwe kind in ons skool. Verwaarloos. Arm. Ons was nog baie klein, en sy was nie eens in my klas nie.

“Ek het haar gevra waar sy bly, en daardie middag moes my ma opsluit met my ry sodat ons vir my nuwe maatjie kon gaan kos afgee, en ’n Bybel.”

“Die stem in my hart”

Daar is nooit oor liefdadigheid in hulle huis gepraat nie. “Dit was ’n begrip wat ek eers ná skool leer ken het. My ma-hulle het bloot gehelp waar hulle kon. Hierdie soort optrede was maar altyd deel van ons lewe.

“Ek het self begin om naweke by kinderhuise te help. Of met my fiets Pep Stores toe gery om met my spaargeld vir arm kinders te gaan onderklere koop. Dit is regtig asof ek met hierdie missie gebore is.

“Sonder dat enigiemand nodig gehad het om iets te sê, het ek net begin doen.”

Die stem in haar hart, dit weet sy vandag, was dié van die Heilige Gees.

Oor geloof het sy nooit gedink nie; vir haar het dit spontaan gekom.

“Ek het nog altyd in God geglo,” vertel sy. “Van kleins af het ek wonderwerke in ons huis sien gebeur, en dit het natuurlik my geloof versterk.”

Sy onthou wel ’n spesifieke oomblik waarin haar idee oor God se alomteenwoordigheid vir altyd verander is: “Ek was stout en het in ’n kas gaan wegkruip. My sussie Welmarie vra my toe vir wie ek wegkruip. En ek antwoord: ‘Vir Jesus’.

“Toe sê sy: ‘Hy kan jou orals sien. Want Hy ís orals.’”

Geloof hou haar daagliks regop, sê Hanna. “Elke dag is vol nuwe uitdagings, en sonder die geloof dat God in beheer is, sal ek nie met my werk kan voortgaan nie.

“My gedagtes is voortdurend met allerlei planne besig. Soms moet ons verskriklike situasies hanteer, en dikwels het ek geen idee wat en hoe die oplossing sal wees nie. Of waar ek moet begin soek nie. Maar altyd kom die Here – en dan wys Hy die rigting, of gee die plan.”

By Hanna Charity het sy en haar personeel al geleer dat niks vir die Here ’n probleem is nie. “Hy gee soms vir my insig, of vir die personeel bonatuurlike wysheid.

“Sonder sy stem sal ons dit nie maak nie …”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail