Wim is pootuit, kortasem en effens lighoofdig ná die wedstryd. Dit is g’n wonder nie – almal het gesien hoe hy lang ente hardloop, opgewonde beduie en deurentyd aanmoedig, en so tussendeur boonop die skeidsregter reghelp. Wim is nou baie moeër as klein Wimpie, wat in die wedstryd gespeel het …

Deur Susan Goosen

 

Pa Wim se optrede is, heel anders as wat hy dalk mag dink, nie juis bevorderlik vir sy sewejarige seuntjie se rugbyloopbaan nie. Só sê kenners.

Hulle sê hulle weet dat elke ma en pa net die beste vir hul kind wil hê, maar dat sulke ouers soms die kluts heel kwyt raak. Dit sluit in: die aanmerkings – sommige afbrekend en soms aanstootlik – wat ten aanhore van almal uitgeskreeu word, die feit dat selfs vuilspel aangemoedig word, die openlike bevraagtekening van die skeidsregter se beslissings.

Dit alles ten spyte daarvan dat die skool ’n sportbeleid het wat sulke gedrag afkeur en selfs verbied. Kyk dan die groot borde langs die sportveld wat die ouers daaraan herinner dat dit nie ’n internasionale wedstryd is wat hier gespeel word nie! Dat die spelertjies bloot kinders is …

Hoera! vir skoolsport

Die voordele wat sportdeelname op skool vir die deelnemers inhou, verdien beslis applous. Chereen Cloete, ’n opvoedkundige sielkundige in Centurion, onderstreep die waarde daarvan vir kinders se fisiese, emosionele, sosiale en opvoedkundige ontwikkeling. Én die feit dat dit selfs daartoe kan bydra om hul kognitiewe vaardighede te ontwikkel en te verbeter.

Daarby word karaktereienskappe soos sportmangees, eerlikheid, integriteit, spanwerk, vriendskap, tydbestuur, toewyding en verantwoordelikheid ontwikkel – wat alles daartoe meehelp dat die kind ’n gebalanseerde lewensuitkyk ontwikkel, en hy en sy uiteindelik kerngesonde volwassenes word.

Hieroor sê Altus Wessels, die hoof van krieket en hokkie by Hoërskool Gimnasium in die Paarl: “Sport ontwikkel waardes wat ’n mens dwarsdeur jou lewe gebruik. Wat my betref, is die kind se sosiale ontwikkeling een van die grootste voordele van sportdeelname op skool.

“Daarby het sport die wonderlike vermoë om grense af te breek en om mense uit diverse agtergronde en omstandighede bymekaar te bring. Vir skoolgaande kinders uit alle oorde kan dit van baie groot waarde wees, omdat dit hulle ’n uitlaatklep gee en aan hulle die geleentheid bied om tot ’n span of groep te behoort.”

Brad Bing is die eienaar van Sporting Chance, een van die grootste sportafrigting- en sportontwikkelingmaatskappye in Suid-Afrika. Hy sê hy geniet dit om te sien hoe sportdeelname nie alleen kinders se vaardighede verbeter nie, maar ook hul gesondheid.

“’n Gesonde gewig, verbeterde slaappatrone, gesonde groei en spierontwikkeling en ’n verbeterde balans is maar ’n paar van die voordele wat sportdeelname meebring.

“Sport bied baie en kan ons ook baie leer. Maar hierdie voordele word in ’n groot mate ongedaan gemaak wanneer ouers verkies om met woord en daad op wen en op prestasie te fokus, in plaas daarvan dat hul kinders se ontwikkeling en genot voorrang geniet.

“Behalwe dat sulke optrede hul kinders se selfvertroue ’n knou gee, ontwikkel kinders as gevolg daarvan dikwels ’n renons in enige sportdeelname.”

Die liewe toeskouers …

Chereen onderskei breedweg tussen drie soorte toeskouers, hoofsaaklik ouers, wat gereeld op die skoolpaviljoen gesien word:

“Die eerste groep gee die nodige ondersteuning en leiding, maar laat hul kinders toe om teen hul eie pas te vorder. Hulle waak teen onnodige inmenging.

“Die tweede groep raak soms heeltemal meegevoer en skree gereeld bevele. Of rig hul kritiek luidkeels tot die spelers, afrigters en beamptes. Hierdie ouers is baie begaan oor hul kinders se welstand en sal op die veld hardloop die oomblik wanneer die kind ’n stamp kry. Alhoewel hulle daarvan oortuig is dat hulle hul kinders se belange op die hart dra, is hul gedrag dikwels ’n verleentheid – vir ander toeskouers én vir hul kinders.

“Derdens is daar dié ouers wat so sterk op die uitslag fokus dat hulle aggressief voorkom. Vir hulle gaan sportdeelname uitsluitlik oor die verowering van medaljes en trofees en die status en erkenning wat daarmee gepaard gaan. Hulle koester meestal erg onrealistiese verwagtinge van hul kinders.”

Altus sê: “Dit is hartseer om die impak van sulke onsportiewe optrede op die kinders te beleef,” vertel Altus. “Dit het ’n wesenlike invloed op hul welstand en is in sommige gevalle vir hulle ’n baie groot verleentheid. Geen uitslag is ooit die moeite werd as jy moet inboet op kernwaardes soos eerlikheid, vriendelikheid en etiket nie.”

 

“Ma, Pa, doen dit eerder só”

  • Ouerbetrokkenheid kan ’n positiewe sowel as ’n negatiewe invloed hê. Wees versigtig vir té veel ondersteuning. Indien ouers aanhoudend inmeng, leer kinders nie om op hul eie bene te staan en om self probleme op te los nie.
  • Moenie net by hul sport betrokke wees of daarop fokus nie. Skep vir hulle én vir jou die geleentheid om ook ander stokperdjies te hê. Doen lekker dinge saam met jou kinders, veral ook van dié soort waar daar nie van wen of verloor sprake is nie of waar dit bitter min saak maak.
  • Ja, motiveer jou kinders om hul bes te doen, maar moenie toelaat dat dit in druk ontaard nie. Onnodige druk kan tot gevolg hê dat kinders gedwing voel om deel te neem, en dit ontneem hulle van een van die kosbaarhede in sportdeelname – die genot daarvan. Jong kinders moet die geleentheid kry om verskillende sportsoorte en dissiplines uit te toets, sonder streng oefenprogramme.
  • Moenie oorkrities wees nie. Oordadige kritiek kan tot angs­tigheid en spanning lei. Jy hóéf nie ná elke wedstryd kommentaar te lewer nie! Soms is dit genoeg om te sê: “Dit was vir my so lekker om te sien hoe jy speel.” Luister eerder na hul belewenis van die spel, en wees dan gereed om raad te gee indien hulle daarvoor vra.
  • Moenie jou eie ambisies en onvervulde drome op jou kinders afdwing nie. Kinders moet self die geleentheid hê om te kies waarby hulle graag betrokke wil wees. Kinders wat glad nie van sport hou nie, kan aktiwiteite oorweeg wat nie kompeterend is nie, byvoorbeeld perdry of fietsritte vir die pret.
  • Behou jou afstand. Gaan kyk na jou kind se wedstryde, maar bly van die oefeninge af weg. Moenie reg langs die veld staan nie, en moenie by enige konfrontasie betrokke raak nie. Beheer jou emosies. Bly hoflik en vriendelik, ook teenoor opponente. En veral teenoor oproerige ouers.
  • Weerhou jou van negatiewe opmerkings oor die afrigters, skeidsregters en opponente, ook nadat die wedstryd verby is.
  • Praat met jou kinders oor dit wat hulle uit die wedstryd geleer het, juis ook wanneer hulle verloor het.
  • Onthou dat jy jou kinders se vernaamste rolmodel is. Leef dus dié soort gedrag voor hulle uit wat jy graag by hulle wil sien ontwikkel.

 

Suna Verhoef is ’n onderwyser by Pionierskool vir siggestremdes. Sy vertel:

“Ek sit voor in die skoolbus, ons is op pad na ons jaarlikse pretdag. Die kinders terg mekaar, ek hoor ’n skinderstorie oor ’n onderwyser. Almal giggel. Dit klink soos dit in enige ander bus klink waarin ek al 20 jaar lank saamry wanneer kinders op ’n uitstappie gaan. Totdat ons uitklim.

“Die kinders word na die middel van die veld gelei en gevra om te sit. Een van hulle gaan sit met sy gesig heeltemal weggedraai van waar die atlete gaan hardloop.

“Ek help hom reg en sê: ‘Sarel, die aksie is na die ander kant toe!’

“Hy dink dis skreeusnaaks. ‘Nou maar ’raait, Juffrou,’ lag hy, ‘dan moet Juffrou my in die regte rigting draai, asseblief. ’n Mens wil darem lýk of jy kan sien!’”

“Die skoot klap vir die eerste item, die heel kleintjies. Die swaksiendes hol soos die wind. Die blindes word deur swaksiendes van die hoërskool begelei.

“Pearston Siljeur is in Graad 10, hy hou ’n klein blinde dogtertjie se hand vas. ‘Ons gaan wen!’ roep sy uit. Pearston straal.

“Hulle is die gelukkiges.

“Daar is ’n hele paar van ons leerders wat glad nie mag deelneem nie. Daar is byvoorbeeld die outjie met Marfan-sindroom. Dit is die gevolg van ’n genetiese afwyking wat sy ruggraat, sy bene en gewrigte, sy hart en sy oë beïnvloed. Dit is die een ding waarvan ons veel meer het as enige ander skool – sindrome. Blindheid is dikwels die gevolg van een of ander sindroom.

“Hulle sit maar daar in die middel van die veld terwyl die ander hardloop en spring. Daar is twee seuns met Stevens-Johnson-sindroom, wat ’n vel- en slymvliesinfeksie is wat blindheid kan veroorsaak; daar is een met Rieger-sindroom, ’n outosomale dominante afwyking wat gloukoom kan veroorsaak; daar is ’n klompie kinders met albinisme, ’n genetiese defek wat die vorming van pigment beïnvloed en sigprobleme veroorsaak.

“Een van die 16-jarige seuns, Khalfani Mafita, se gunstelingstorie is die een van hoe hy in sy eerste jaar by die skool ’n rapport ontvang het waarin sy naam Stevens Johnson is …  Einste Khalfani stel nie juis belang in die gehardlopery vanoggend nie. Hy het vir hom ’n storieboek in brailleskrif saamgebring om te lees – Christien Neser se Duinebesies.”

“Net drie dae gelede was ek by ’n sportbyeenkoms vir van die Wes-Kaap se topskole. Hier het die pa’s en ma’s energiedrankies aangedra, hul kinders se spiere ingevryf en die bekende motiverende mantras herhaal.

“Dit is vir my bykans onmoontlik om dié twee wêrelde met mekaar te versoen.”

 

KONTAK ONS KENNERS

  •  Chereen Cloete is ’n opvoedkundige sielkundige in ’n privaatpraktyk in Centurion. Kontak haar by cherpret@gmail.com
  • Besoek www.sportingchance.co.za vir meer inligting oor hul afrigtingsklinieke en ontwikkelingsprogramme.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail