Moeder Aarde en haar oseane word deur plastiek verswelg. Dit word deesdae gereeld uitgewys. Maar wat kan gewone mense daaraan doen, behalwe om te sug? Hierdie Port Elizabethse ouma en oupa het nie net gaan sit en toekyk hoe Gods besoedelde water oor Gods bemorste aarde vloei nie.

DEUR MARISKA SPOORMAKER

Dink net: Jy hurk saam met jou kleinseun by ’n poeletjie tussen die rotse om vissies te probeer vang – maar al wat jy vang, is blink stukkies plastiek.

Mignonne van Heerden van Port Elizabeth sê sy was só geskok dat sy op die plek besluit het om plastiek uit haar lewe te skakel.

Sy het selfs ’n soort aktivis geword, vertel sy. “Dis omdat ek daardie dag besef het plastiek breek nooit heeltemal af nie. Dit verweer tot mikro-stukkies, en word deur rivierstelsels na die oseane gedra.

“Plastiek op munisipale stortingsterreine is nie weg omdat dit uit die oog is nie; dit word bros in die grond en die stukkies syfer na grondwaterbronne deur. En dít spoel dan weer oor na rivierstelsels.”

 

Mignonne se man André is ’n afgetrede skeinat-skoolinspekteur en ereveldwagter by Sanparke. Ná die “vissie-insident” het hy begin navorsing doen – en toe reeds gewaarsku dat seediere stukkies plastiek vir kos aansien, dit inneem en dan ’n stadige hongerdood sterf.

Mignonne sê: “Dis eers wanneer jou oë vir die alomteenwoordige plastiek begin oopgaan, dat jy besef in watter groot moeilikheid die aarde is.

“Ons moet egter daarteen waak om ’n té somber prentjie van die situasie te skets. Mense word dan só moedeloos dat hulle nie dink hul pogings sal enige verskil maak nie. En dan doen hulle niks.”

Nee dankie!
Mignonne het ’n broertjie dood aan plastiekprodukte wat net een maal gebruik en dan weggegooi word. Asook al die “onnodige” verpakking van produkte, groente en vrugte. “Dit alles maak die aktivis in my wakker,” sê sy.

’n Paar jaar gelede het een van haar protesaksies Port Elizabeth aan die gons gehad: Oudergewoonte het sy groente en vrugte geneem en haar beurt afgewag om te betaal. Maar toe sy voor in die ry kom, het sy haar aankope uit die plastiekomhulsels en -bakkies gehaal en die verbaasde kassiere versoek: “Roep asseblief die bestuurder.”

Aan dié het sy gevra: “Sal jy dit asseblief herwin? Ek wil nie jul plastiek huis toe neem nie.”
Die verdwaasde bestuurder het die hoop verpakkingsplastiek maar in ontvangs geneem …

Hieroor sê Mignonne: “Dis net verbruikersgedrag wat die winkelbase se plastiek­aanbod sal verminder. Hoe meer mense die plastiek teruggee, hoe minder daarvan sal op ons afgedwing word.”

Boonop het sy foto’s en ’n verslag aan die supermarkgroep se hoofkantoor gestuur.

 

André en Mignonne gee steeds verpakkingsplastiek terug aan die winkels. Deesdae betaal hulle eers en haal dán die plastiek af. André verduidelik: “Ons wil nie onbeskof of konfronterend wees nie. Ons het agtergekom ons optrede ontstel die personeellede.”

Hierdie soort aktivisme mag dalk ’n klein druppeltjie aan die groot plastiek­emmer wees, maar die waarheid wat só oorgedra word, is dat die vervaardiger of winkelier self die plastiek moet laat herwin.

Mignonne sê: “Die vragmotors wat die produkte aflaai, ry leeg terug. Hoekom dan nie die plastiek na herwinningsentrums vervoer nie? Hoekom laat ons toe dat daar lorrievragte vol plastiek na klein dorpies, waar daar geen herwinnings­geriewe is nie, vervoer word?

“Al daardie plastiek moet na die vervaardiger of verspreider toe teruggaan. Dis hulle wat die probleem moet oplos, nié die verbruiker nie.”

Maak ’n plan!
“Maar moenie dink blote herwinning is die antwoord op die wêreldwye plastiekprobleem nie,” sê Mignonne. “Net vyf persent van alle plastiek word herwin. Die res beland óf op oorvol stortingsterreine, óf in die natuur, óf in die see. Die ideaal is om so ver moontlik plastiekvry te lewe.”

Mignonne is die eienaar van die Siembamba-kleuterskool in die Baai. André maak die kleuterskool se pophuisies, popbedjies en ander speelgoed uit hout.

Plastiekspeelgoed steek haar dwars in die krop. “Gaan kyk maar hoeveel speelgoed is deesdae nié uit plastiek gemaak nie! Só dra ouers boonop skadelike chemikalieë in die kinderkamer in; plastiek se rouproduk is ru-olie …

“Ons het almal in die gewoonte van koop-sonder-vrae gekom. Ons vra nie eens meer hoekom sekere produkte so gou breek nie. Ons sug maar net … en hou aan koop.”

 

Benewens hul feitlik plastiekvrye lewe, maak die Van Heerdens ook ’n plan met die hope polistireen wat andersins net in die asblik en op stortingsterreine sou beland.

“Ons vra die kleuterskool se ouers – en enige ander Baaienaar – om polistireenbakkies by ons af te lewer sodat ons matrassies vir die honde in skuilings kan maak,” vertel Mignonne.

Die metode is eenvoudig: Skadunet word in ’n “sloop” gesny en aan drie kante gestik. Dan word dit met gesnyde polistireen opgestop en toegestik.

“Die polistireen is ideaal hiervoor: Sou daar water op die matras kom, word dit nie ’n nat pappery nie; alles loop onder uit.”

 

Nog ’n kopseer én oogseer is natuurlik die alewige plastieksak. Maar, sê André, ’n mens moet oppas om die plastieksak as die grootste enkele sondaar uit te wys.

“Die plastieksak is die dunste van al die plastiek,” sê hy, “en dit kan vinniger afbreek as die res.

Kyk eerder in jou inkopiesak na al die ander produkte wat in dikker plastiekhouers kom: die skoonmaakmiddels, sjampoe, tandepasta. Dan besef jy hoe groot die wêreld se plastiekprobleem is, want hierdie soorte is nie bio-afbreekbaar nie.

“Hoekom kan die houers byvoorbeeld nie hervul word nie? Hoekom kan ons nie daarop aandring dat groot houers in winkels geplaas word waar ons die bestaande houers met byvoorbeeld sjampoe kan vul nie?”

Vra vrae! Praat!
Mignonne sê: “Indien daar pornografiese materiaal of dagga by plaaslike winkels aan kinders beskikbaar sou wees, sou geen Christen daaroor geswyg het nie. Maar almal is tjoepstil oor plaaslike winkels wat die bron is van plastiek­besoedeling en die vergiftiging van God se skepping.

“Dan voel ons ongemaklik om ons stem dik te maak, en daardeur buig ons die knie voor die gierigheid van verspreiders wat die goedkoopste moontlike gemors aan ons opdring.

“Ek het ’n ruk gelede aan Pick n Pay geskryf en die ironie van hul sogenaamde herwinbare plastieksakke aan hulle uitgewys, terwyl die eiers wat hulle verkoop in polistireenbakkies kom wat met kleefplastiek toegedraai word.

“Ek het dit ook op Pick n Pay se Facebookblad geopper. Nou, so vier maande later, is al die eiers in die plaaslike Pick n Pay in herwinde papierhouers.

“Daar was natuurlik heelwat ander mense wat ook hiervoor gevra het. As ons stilbly, sal alles dieselfde bly.”

 

Omdat Mignonne en André besef wat die rol van onkunde in die groter prentjie is, reik hulle onder meer ook uit na ander. Hulle doen dit in wat bekend staan as ’n “cube”. Kortweg kom dit daarop neer dat hulle en ’n paar ander aktiviste in ’n vierkant by ’n openbare plek staan en verbygangers met hul boodskap nader.

Op ’n dag het ’n man in ’n duikpak, pylgeweer in die hand, daar verbygekom.
Mignonne vertel: “Toe vra ek hom of hy die vis eet wat hy skiet.”

Sy het verder aan hom verduidelik: “Weet jy hoe vol swaarmetale en ander gifstowwe is die see? Dat plastiek reeds in visse voorkom? Jy sal so 80 kilometer die see in moet swem om onbesmette vis te kan kry.”

Die man het omgedraai en seewaarts geloop. “Ek het hom dopgehou,” vertel sy. “Hy het lank daar op die rotse gestaan en oor die see gekyk.

“Ek sal daardie prentjie nooit vergeet nie. Dis vir my simbolies van hoe die see bedreig word. Behoede ons as ons op ’n dag net na die see kan kyk, maar dit nie kan waag om ’n voet in die water te sit nie.”

Mignonne se wenke

1. Moenie plastiese winkelsakke gebruik nie; neem jou eie sakke. Hou ’n kartondoos in jou motor se bagasiebak. As jy jou drasakke tuis vergeet het, kan jy die aankope in die trollie terugpak en dit weer by die motor oorpak.
2. Hou ’n paar bakkies, eetgerei en koffiebekers in ’n houer in jou kattebak. Vra die personeel om jou wegneemete daarin te sit of die koffie daarin te skink.
3. Bring die “jammerlappie” terug vir daardie taai hande op die langpad. Dis ’n nat lappie met seep, in ’n bakkie met ’n deksel.
4. Wanneer jy by ’n groot groentemark produkte koop, vra dat jou produkte eerder in ’n kartonhouer as in plastieksakke gepak word.
6. Koop speserye en konfyte in glashouers; dit kan herhaaldelik gebruik word.
7. Bak koekies of beskuit as geskenke en verpak dit in bottels. Dis baie beter as om iets te koop wat in plastiek verpak gaan wees, en om boonop R40 vir ’n kaartjie (ook in ’n soort plastiek verpak) te betaal.
8. Bêre meel, suiker, koekies en pasta in glasbottels. Gebruik ou bottels hiervoor. Of belê in ’n klompie bottels met digpassende deksels.
9. Sê nee vir plastiekstrooitjies!
10. Koop een van daardie outydse soort skeermesse. Jy kry dit steeds by baie manshaarkappers. Ja, dis duur, maar uiteindelik werk dit goedkoper uit as die weggooibare soort wat van plastiek gemaak is.
11. Moenie hout koop wat in plastiek verpak is nie. Bestel so twee keer per jaar hout by ’n plaaslike verkoper wat hout per bakkievrag verkoop. Dis baie goedkoper, jy ondersteun ’n nutsman én jy vermy plastiek.
12. ’n Soort “Soda Stream”-koeldrankmaker voorkom dat daar nóg leë plastiekbottels in omloop kom.
13. Koop in grootmaat. ’n Liter skoonmaakmiddel het net een prop, en baie minder plastiek per milliliter.
14. Neem houers saam na plekke wat produkte soos neute verkoop. Vermy verpakkings.
15. Ondersteun die plaaslike boeremark. Só koop jy produkte wat nie van ver af aangery moet word nie en dus ’n kleiner koolstofvoetspoor het. Boonop vermy jy oordadige plastiekverpakking.

Dink ook oor hierdie vrae van André
“Wanneer laas het jy ’n heel boerpampoen of ’n groot, groen hubbard op die winkelrakke gesien? Deesdae word dit geskil, in stukkies gesny, in ’n polistireenbakkie gesit en met kleefplastiek bedek.
“Lank gelede kon jy nog bossies wortels of beet met die loof aan koop; nou is dié groente poenskop en in plastiek.
“En die komkommers … Hoekom is die plastiekomhulsel nodig?”

Wat sê die WWF oor plastiekbesoedeling?
Dis belangrik dat élke mens die verantwoordelikheid vir sy of haar plastiekverbruik aanvaar, sê die Wêreldnatuurlewefonds (WWF). Die WWF beskou plastiekbesoedeling as ’n wêreldwye epidemie.
Volgens dié organisasie word daar jaarliks nagenoeg agt miljoen metrieke ton plastiek gestort. Dit terwyl daar reeds ’n geskatte 150 miljoen metrieke ton plastiek in die see is. As daar nie nou tot daadwerklike aksie oorgegaan word nie, sal daar teen 2050 meer plastiek in die see wees as wat daar visse is.
Die WWF het dit veral teen plastiekprodukte wat eenmalig gebruik word, onder meer weggooibare eetgerei en -koppies, sekere soorte verpakkings en plastiekstrooitjies.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail