Dit is waarskynlik dié Christelike feesdag wat die meeste deur Christene afgeskeep word. Miskien omdat dit op ’n Donderdag gevier word wat in sommige lande, soos Suid-Afrika, nie (meer) ’n openbare vakansiedag is nie. Maar hierdie geringskatting geskied tot gelowiges se nadeel. DEUR COENIE BURGER

 

Dalk is die grootste rede vir die afskeep van Hemelvaartdag die feit dat baie gelowiges nie eintlik kan dink hoe dié fees hulle help nie. Dan sal hulle dalk iets sê soos: “Daar is nie juis baie om te vier nie …”

Maar hoor net wat sê Jesus self hieroor: “Dit is tot julle voordeel dat ek weggaan …” (Joh 16:7).

Wie is nou reg – Jesus of sy skeptiese volgelinge?

 

Die beloftes

Wanneer Bybellesers mooi luister na die verhale en tekste wat oor die hemelvaart handel, kom hulle spoedig agter hoeveel waarheid daar in Jesus se “voordeel”-uitspraak is. Kyk dan net al die beloftes wat met die hemelvaart in verband gebring word! Hier is vyf daarvan:

 

 

1 Die eerste en belangrikste is dat Jesus ná sy helmelvaart aan die Vader se regterhand gaan sit het. Dit is hoe dit in die kerk se vroegste belydenisskrifte verwoord word. Ons hoor dit egter reeds in tallose verwysings in die Bybel – onder meer Handelinge 2:33, Efesiërs 1:20, Filippense 2:9-11.

Oral waar daar na Jesus verwys word as “Heer” of “Koning” kan ons weet dat dit met sy hemelvaart verband hou. Ons hoor dit ook in die laaste opdrag wat Hy aan sy dissipels gee toe Hy kort voor sy hemelvaart aan hulle sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt 28:18).

Baie Christene se twyfel en vreesagtigheid in hierdie wêreld het te doen met die probleem dat ons nie verstaan of glo dat Jesus regtig die Here van hemel en aarde is nie. Te veel van ons ken Hom bloot as ons Verlosser en Heiland, maar nie ook as ons Heer en Koning nie.

Nee, dit is nie altyd so maklik om te glo dat Jesus die Koning is nie, veral nie as dit met jou sleg gaan nie. Maar die belofte dat Jesus as die Here van hemel en aarde vir ons kan en sal sorg, is een van die vaste versekerings in die Bybel. Dit is niks minder nie as die hoeksteen van ons geloof.

En dit kom nie uit die gebeure op Goeie Vrydag of Paassondag of Kersfees nie; dit kom vanuit die hemelvaart!

 

2 In Romeine 8:34 skryf Paulus dat Jesus daar aan die regterhand van die Vader ook vir ons by die Vader pleit. Johannes sê dat ons ’n Voorspraak by die Vader het (1 Joh 2:1). En die Hebreërskrywer sê dat ons ’n Hoëpriester het “wat in die hemel self ingegaan het om nou ter wille van ons voor God te verskyn” (Heb 9:24).

En omdat Jesus nie sy mensheid met sy hemelvaart prysgegee het nie, en dus as ’n Mens langs die Vader sit, kan ons weet dat ons inderdaad ’n Hoëpriester het wat nie net ons broosheid en feilbaarheid ver­-
staan nie, maar ook ons twyfel en wanhoop en ons pyn en lyding. Omdat Hy een maal die prys vir ons sondes betaal het, kan Hy op grond van sy bloed vir ons vryspraak en genade by die Vader kry.

 

3 In Johannes 14:2 hoor ons Jesus sê: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek …” En, sê Hy, Hy gaan om vir ons daar plek gereed te maak.

Dit voel my ons praat deesdae om die een of ander rede nie baie oor die hemel en oor die lewe ná die dood nie. Dalk is dit so dat Christene te lank te veel daaroor gepraat en gedink het …

Maar ons moenie dink dat dit nie belangrik is nie, al het baie mense baie vrae hieroor. Die Bybelse boodskap oor die lewe ná die dood maak baie sin – al weet ons steeds nie alles daaroor nie. Een ding glo ons vas: Jesus het vir ons gaan plek gereed maak by die Vader. Hoe goed is dit nie om dít te weet nie!

Die toe-eiening van hierdie belofte het natuurlik nóg ’n voordeel: sekerheid oor ons toekoms. En dit maak ons moedig en dapper. As ’n mens weet dat jou lewe veilig by God is, hoef jy jou nie meer oor elke klein probleempie te ontstel nie. Jy weet jou toekoms is veilig in die Here se hande.

Paulus sê dit só: Omdat ons lewe “saam met Christus verborge is in God”, kan ons nou op aarde regtig strewe en soek na die koninkryk van God (Kol 3:1-2).

 

4 Die vierde belofte neem ons terug na daardie teks in Johannes 16:7 waar Jesus sê dat sy hemelvaart tot ons voordeel is. As Hy nie weggaan nie, sê Hy daar, kan die Heilige Gees nie na ons toe kom nie.

Ons weet dat dié belofte reeds in vervulling gegaan het: ’n Paar dae ná Jesus se hemelvaart is die Heilige Gees aan die kerk gegee.

Die Heilige Gees is ons Helper, ons Trooster, die Een wat ons die krag en die liefde gee wat ons nie in onsself het nie. In Johannes 16 verwys Jesus ook na die Heilige Gees as ons Voorspraak. Soos Jesus ons Voorspraak by die Vader is, so herinner die Heilige Gees ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het.

Ná Jesus se hemelvaart kry ons, sy kinders en sy kerk, die voorreg om sy medewerkers te word. Om vir Hom en saam met Hom aan sy koninkryk te bou.

Op ’n manier skuif Jesus met sy hemelvaart weg van die sentrale verhoog af, en stoot Hy ons vorentoe om te begin optree. Dit is ’n wonderlike voorreg – iets wat ons in eie krag nooit kan doen nie.  Daarom gee Hy die Heilige Gees aan ons. Deur die Gees se krag is ons tot groot dinge in staat, tot veel meer as wat ons self gedink het moontlik is.

 

5 Die vyfde belofte kom nogal onverwags na ons toe. Hoor hier: Hemelvaart vertel aan ons dat Jesus ons verlaat het. Só dink ons in elk geval daaroor, en ons kan die Bybelverhale hieroor as stawende bewyse aanhaal.

Maar die Bybel praat ook ánders hieroor. In Handelinge 1:9 lees ons byvoorbeeld dat Jesus met sy hemelvaart in ’n wolk opgeneem is. En ons weet dat ’n wolk vir die Ou-Testamentiese Godsvolk ’n teken van God se teenwoordigheid was.

Handelinge 1:9 wil vir ons sê dat ons weliswaar nie meer vir Jesus met ons oë kan sien nie, maar dat ons tog nie moet dink dat Hy weg is nie.

Dit rym natuurlik met Jesus se uitspraak in Matteus 28:20, waar Hy sy dissipels met die groot sendingopdrag uitstuur. Dan voeg Hy troostend by: “En onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ook Paulus skryf in dieselfde trant: Jesus is die Een “wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul” (Ef 4:8-10). Sy teenwoordigheid vul ook ons wêreld, ons dorp en selfs ons huis.

Die ou kerkhervormer Johannes Calvyn het dit baie mooi verduidelik: Daar is ’n manier, het hy gesê, waarop Jesus ná sy hemelvaart nie meer hier is nie. Maar op ’n ander manier is Hy nou en vir altyd by ons teenwoordig. Hy sal sy kinders nooit, ooit alleen laat nie.

Nee, ons kan Jesus nie sien nie, maar ons moenie dink Hy is nie hier nie. Sy hemelvaart is in alle opsigte en vir altyd tot ons voordeel. Ook hier, en ook nou.

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail