Hoe gemaak met die sonde wat my lewe versuur en my gewete beswaar? Ek bely dit, ja. Maar is my soort belydenis ooit reg? Hoeveel keer moet ek dit doen? En sê nou ek vergeet van ’n sonde of twee?

DEUR STEPHAN JOUBERT

“Sluit toe die bieghokkie voordat daardie sondebehepte priester weer hier opdaag!” Só het die ander priesters later gevoel wanneer Maarten Luther wéér op pad was vir een van sy uitgerekte belydenissessies.

Luther kon glo ure lank aanhou om sy sondes te bely, een ná die ander – en dan weer van voor af begin, uit vrees dat hy een oorgeslaan het. Hierdie eindelose boetedoenings het egter geen rus vir sy siel gebring nie. Inteendeel: Hoe meer hy sy sondes bely het, hoe meer het sy skuldgevoelens geword.

Totdat hy die genadige God raakgeloop het. Of, beter gesê, todat die genadige God hom raakgeloop het.

Dalk het jy nog altyd gedink dat Luther se stryd oor hoe lank en met hoeveel besonderhede jy jou sondes moet bely destyds in die sestiende eeu afgehandel is. Toe nié.

Dié vrae knaag steeds aan baie mense. Daarom hoor ons dikwels die volgende soort uitsprake:

  • “Jy pleit nie genoeg die bloed van Jesus oor jou af nie.”
  • “Daar is nog sondes in jou lewe wat jy nie bely het nie.”
  • “Jy moet jou sondes op die naam noem en hulle só bely, anders help dit niks.”

Wat is sonde?
Wat is sonde? Hoe kan ’n mens dit omskryf?

Eenvoudig. Dis om jou verhouding met God te versuur. Om jou rug op God te draai. Om sy voorskrifte te ignoreer. Om sy hand te los.

Dis om jou eie wil te volg, in plaas van sy wil. Dit is om van Hom af weg te stap, in plaas van nader te gaan.
Sonde is om jou vingers in jou ore te druk wanneer Hy met jou praat.

Die gevolge hiervan is ingrypend: Dit maak jou hart hard; dit maak jou gewete rekbaar. Dit maak dat jy jouself liewer het as vir God.

Die grootste gebod is tog om Hom lief te hê, en om ander mense so lief te hê soos jy jouself het. Sonde is om hierdie verhoudings te vertroebel.

Genadiglik beëindig sonde nie jou verhouding met God nie. Hy het jou eindeloos lief. Veel liewer as wat Hy jou mees onlangse sonde, asook jou heel grootste een, haat.

Christus het “agteruit, vooruit en enduit” betaal om jou Syne te maak. Niks kan jou ooit van God se liefde skei nie: nie die dood nie, nie die lewe nie, nie sonde nie.

Maar nee, jy het nie ’n lisensie uit die hemel gekry om “gratis” te gaan sonde doen nie. Ek onthou hoe iemand op ’n keer aan my gesê het hoe ’n goeie verhouding hy met God het: Hy hou daarvan om sonde te doen, en God hou daarvan om sonde te vergeef.

Dis onsin. Sonde is taboe. Dis onwettig. Dit hoort nie in jou lewe nie.

Maar die goeie nuus is dat jy nooit so sleg is soos jou mees onlangse oortreding nie. En ook nie so oulik soos jou mees onlangse goeie daad nie.

Hoor weer: God het jou lankal lief! Die bekende Philip Yancey skryf: Niks wat jy ooit gedoen het, tans doen, of in die toekoms gaan doen, kan enigiets hieraan verander nie.

Wanneer is genoeg genoeg?
’n Gelowige het ’n splinternuwe hart by die Here gekry. Hierdeur wil jy Hom graag dien. Jy wil sý wil doen.
Tog betrap jy jou telkens dat jy nie al daardie goeie dinge doen wat jy so graag wil doen nie.

En voordat jy jou kom kry, het jy weer gestruikel oor ’n stuk liefdeloosheid wat iewers in jou hart agtergebly het. Of ’n goor begeerte laat jou val. Jy dink nog jy staan, dan lê jy plat in die modder. Jy reken nog jy volg Jesus, dan het jy reeds verdwaal.

Te veel kere lê jou voetspore op plekke waar dit nie hoort nie.
Niemand wat aan die Here behoort, wil regtig so leef nie. Ook nie jy nie. Dis nie wie jy is of wie jy wil wees nie.

Hoe maak jy nou met hierdie verleent­hede waarin jy jouself gedompel het?

Die goeie nuus is dat die Heilige Gees onophoudelik aan jou karring as jy begin leef soos jy weet jy nié moet leef nie. As jy begin “speel” soos die ander mense speel, en met die “speelgoed” waarmee hulle soveel sogenaamde pret het.

Dit breek die Gees se hart as jy dit doen, want Hy weet dat sulke “speelgoed” nie in China gemaak is nie, maar in die hel.

Nou moet jy weet dat daar dadelik ’n hemelse soekgeselskap op jou hakke is. Dan dring en trek en nooi die Gees jou terug na Christus toe.

Die Gees is goeie medisyne vir al jou sondepyne.

Om van jou oortredings bewus te wees, is genade. Om bloot daaroor “sleg te voel”, is egter nie die antwoord nie. Ook Judas Iskariot het bitterlik sleg gevoel oor sy sonde, maar hy het dit nooit met die Here probeer regstel nie.

Gelowiges moet reguit na God toe hardloop met hul sondes. Hulle moet al hul gemors, al is dit vir die honderdste of die tienduisendste keer, aan sy voete gaan neersit. En dit net daar los.

Om jou skuld voor God te bely, is meer as om dit op te noem. Jy sal in elk geval nie alles onthou nie. As jy soos ek is, onthou jy ander mense se sondes veel makliker as jou eie.

Ek is meestal blind vir my eie hart-sondes. Daardie diepgewortelde arrogansie, hoogmoed en knaende liefdeloosheid wat nog orals in my wegkruip.

Natuurlik mag jy die verkeerde dinge op hul naam noem en dit só met God uitpraat. Dit beteken egter nie Hy vergeef slegs súlke sondes nie. Dan dink jy veels te eng oor sonde én oor genade.

Sonde is meer as dit wat jy kan onthou of kan opnoem. Sonde is om die verhouding met jou hemelse Vader op ’n bewustelike en onbewustelike manier te versuur.

Egte sondebelydenis begin met die wete dat jý die verhoudingbreker is op God se terrein, en dat jy dit onvoorwaardelik in Jesus se Naam erken.

Sondebelydenis is daarom nie iets wat jy ligtelik aframmel nie; jy bedoel wat jy bely.

In dieselfde asem bely jy ook jou oortredings teenoor ander. Die Gees sal jou aanhoudend daaraan herinner om afgebrande brûe te gaan opbou en om restitusie te doen waar jy ander benadeel het.

Te min bêreplek
Om jou stukkendheid voor God te bely, is om ruim uit sy genadebeker te drink. Anders gesê: Jy moet leer om die Here se vergifnis te aanvaar. Jy moet weet dat as jy jou sonde in Jesus se Naam bely het, dit “oor en verby” is. Daar is regtig nie genoeg bêreplek in die hemel vir afgehandelde oortredings nie.

Daardie oortredings is nou weggevee. Dit het ewige lig gekry – die kruis s’n. Nou gaan leef jy vry en dankbaar in die nabyheid van die Heer.

God weet alles van ons af – en nogtans het Hy ons lief.

Hy is ons hemelse Vader. Hand aan hand stap Hy saam met ons na ons ewige huis toe. Nie eens ons sondes briek sy genade in ons lewe nie.

Jesus Christus se kruis is telkens die groot uitveër. Die kruis maak al ons kronkelpaadjies weer reguit. “Sola gratia” noem Luther dit. Slegs genade.

Ons sê dit graag agter hom aan.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail