Dit gebeur gewoonlik wanneer ek onder ’n bloekomboom staan. As daardie skerp reuk van die grysgroen blare my neus bereik, saam met die fyn geur van stof en droë gras. Dán klop my hart met ’n ánder ritme. ’n Stadige, hunkerende, byna weemoedige ritme.

Dieselfde gebeur wanneer ek Mina Moe se temaliedjie hoor. Of destyds se “Simunye, we are one!” van TV1. En Vyfster se onheilspellende deuntjie, MacGyver se opgewekte temalied. Of as ek iewers prentjies van Haas Das, Die Swart Kat en Trompie sien.

Hoekom gebeur dit dat ons sulke sterk emosies ervaar wanneer ons sekere geure of klanke of kleure waarneem? Wat maak van nostalgie so ’n misterieuse belewenis? Ag, en soms maak dit jou hart tog só swaar …

Ander kere is dit juis dit, hierdie nostalgie, wat jou op ’n terugreis vol soetheid en sagte sonskyn neem. Wie vergeet dan ballonrompe, ’n kuif wat in ’n bonkige “bubble” op jou kop vasgesteek is? Blou oogskadu, hare wat “getease” is, baadjies met skouerkussings. Crimplene. En Grass­hoppers en safaripakke.

Of ’n tafelgebed in Hollands en ’n dankgebed ná die ete. Daardie soetbekende melodie van “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”. En die warm vrede van “Hoor die blye eng’lelied, aan die Koningseun gebied”. Ook die vertroostende ritme wanneer die Wet in die kerk voorgelees word. En hierdie versekering: “… en wat nooit laat vaar die werke van sy hande nie.” Of die gerusstellende aanvangswoorde van Psalm 23: “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.”

Daar is ook die Eeufees-gedenktee­lepeltjies in my ouma se laai, die een wat met groen vilt uitgevoer is. Die sopkom met die Groot Trek in bruin sketse daarop, die Delft-bordjies teen die eetkamermuur. En gehekelde doilies op ’n bal-en-klou-sitkamerstel met sagtepienk fluweelkussings.

Die reuk van gesnyde gras, die ritmiese tsk-tsk-tsk-prrrrrr van ’n sproeier in die tuin. Die koer van ’n tortelduif.

Die reuk van vloerpolitoer, ’n dieprooi en blink stoep, ’n sifdeur. Koekblikke met prentjies daarop van mense wat volkspele doen. Die smaak van moerkoffie en semelbeskuit. Die roeterige reuk van ’n koolstoof se hitte. ’n Spens met rye blink skroefdekselbottels, volgepak met die roomgeel soetheid van ingelegde kwepers.

Nostalgie vir my generasie is ook BMX-fietse, bendes en brandbal. Die klank van ’n stukkie karton met ’n wasgoedpennetjie vasgesteek wat in jou fiets se speke woerrr. Die opwinding van teikenskiet met ’n windbuks na die blikkie op die heining. Dit is tolletjiebrei, sywurms en rolskaatse. Chappies met die leersame omhulsel-papiertjies. Daardie stafies kougom wat jou kake naderhand lam gehad het, en wat met borrelblaaskompetisies soms in jou hare beland het.

O, en altyd padkos! Frikkadelle, gekookte eiers en roomysbakke vol toebroodjies wat in waspapier toegedraai is. ’n Fles koffie. En bene rek langs die pad by een van daardie wit sementtafeltjies.
As jy dus vandag hunker na “die goeie ou dae”, moenie te lank daar talm nie. Want die pad vorentoe lê vol geleenthede om nóg goeie herinneringe te maak, geleenthede om mense se lewe beter te maak. Geleenthede om God te eer en lief te hê, geleenthede om diep dankbaar te wees.Wat ’n voorreg om te kan terugdink aan tye en dinge wat mooi en goed en lekker was! En, ja, ook die donker tye van frustrasie en hartseer en ontnugtering. Want dit is juis ook laasgenoemde soort herinneringe wat die prentjie volrond maak, wat dit perspektief en reliëf gee.

Die lewe, liewe lesers, is ’n mengelmoes oomblikke wat werd is om onthou te word. En elkeen van ons het die vermoë om sulke oomblikke te skep. Daarom: Gaan maak mooi herinneringe, vandag nog!

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail