Ek weet sommige mense wil dadelik “ja!” antwoord. Hulle sê: Is dit dan nie die mens wat wik maar God wat beskik nie?

Ander kies weer ’n dadelike “nee”. Hulle sê: Is dit nie so dat God dié help wat hulle­self help nie? Daar is ook diegene wat sê dat God die Skepper is, maar dat Hy nou, op die sewende dag, besig is om te rus. Dat ons dus aan ons eie lot oorgelaat is.

Dalk is die antwoord eerder “ja, maar …” Of dalk: “Nee, maar …”

Ons sien dikwels met ons eie oë hoe die lewe se legkaartstukke presies reg in mekaar pas. Maar dan herinner jy jou weer daaraan dat daar slegte dinge in hierdie lewe gebeur wat tog nóóit, óóit in God se storielyn vir ons lewe kan wees nie.

Geen oorlog kan deur God gewíl wees nie. Dis tog nie God se plan dat jy verkrag word nie. Of dat een mens deur ’n ander doodgemaak word nie.

Ons glo wel met ons hele hart dat niks ons uit God se hand kan ruk nie. “Wie kan ons van die liefde van God skei?” roep ons saam met Paulus uit. En dis ook waar van die sterwende mens wat as gevolg van ’n ander een se gewelddadigheid ly.

 

Maar, kom die vraag, kan God die Almagtige dit dan nie keer nie? God kán mos – en as Hy dit nie doen nie, dan is dit sy plan vir jou lewe.

Hoe kan ons só oor God dink! God “bewerkstellig” nie bose keuses nie; ons is wel in God se hand terwyl die uitwerking van iemand anders se verkeerde keuses ons lewe handomkeer verander. Dis die werklikheid van die gebrokenheid waarin ons leef.

Ek glo nie God beheer ons lewe soos ’n marionettemeester nie (dis my “nee”). Maar ek het in my lewe ook al buitengewone dinge gesien wat my weer laat wonder het …

Ek glo heelhartig dat God vir ons die lewe gee – “en dit in oorvloed”. Ons kies wel nie altyd om binne God se beginsels van liefhê te leef nie. Ons het die vermoë om die slegte te kies en in dié proses ander mense ontsettende en ongevraagde pyn aan te doen.

Ek glo dat God ’n “ten spyte van”-God is, die God wat lewe bring waar daar doodsheid is. Die Een wat met ’n krom stok ’n reguit hou slaan. Wat ’n beter toekoms skep waar jy die liefde van God op ’n totaal nuwe manier kan leer ken – al was jy aan die ontvangkant van ander se hartelose keuses.

DEUR DR RONELL BEZUIDENHOUT

Ronell is ’n predikant en skrywer. Sy woon tans in Groot-Brakrivier.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail